Om met yster te werk, is mnr. Jan du Plessis se passie. Aan yster en skrootyster is daar nie ’n tekort op sy plaas Elandsfontein by Laingsburg in die Groot-Karoo nie. Hy plant al jare lank uie, botterskorsies en ander groente. Van sy selfgemaakte werktuie sluit ’n draagbare wielpomp en boorgatvastrapper in.

Uiesorteertafel

Buiten dat Du Plessis se uiesorteerder van beskikbare pype en plate op die plaas gemaak is, het dit geen elektriese krag nodig nie. “ ’n Soortgelyke sorteerder op die mark sou my baie duisende rande gekos het. Dié tafel het my ’n paar sweisstawe en werk gekos.”

Die konsep is baie eenvoudig en alles gebeur volgens natuurlike swaartekrag. Die sorteertafel bestaan uit ’n opvangbak van 1 m breed en 2,5 m lank, wat gesweis is en op vier pote staan. Die bak is in drie kompartemente verdeel waarvan die bodem ’n effense helling het.

Bo-op is ’n sorteerraamwerk aangebring wat die hele bak bedek en waarvan die helling sowat 25 grade val. Die raamwerk bestaan uit ysterstawe wat parallel langs mekaar vasgesweis is en gleuwe van verskillende breedtes tussen mekaar vorm.

Drie stelle stawe met verskillende openinge tussenin laat verskillende groottes uie deur die gleuwe van die uiesorteerder val om dit volgens grootte te klassifiseer.
Aan die onderkant van die uiesorteerder is ’n opvangbak aangebring met ’n ring waaraan ’n sakkie gehang word. Dit is vir die heel groot uie wat oor al drie gleufgroottes op die raamwerk gerol het.

Oor die hele oppervlak van die bak wissel die raamwerk se gleuwe en vorm só drie verskillende gleufbreedtes tussen hulle – amper soos diefwering, maar die stawe is net baie nader aan mekaar.

Die uie word aan die kant van die raamwerk uitgegooi waar die helling op sy hoogste is en rol vanself teen die skuinste van 25 grade af. Bokant die eerste kompartement is die stawe die naaste aan mekaar en die gleuwe dus die nouste. Slegs uie met ’n deursnee van tot 3 cm kan daardeur tot in die kompartement onder val.

Bokant die volgende kompartement is die stawe effe verder uitmekaar vasgesweis sodat uie van 5-6 cm in deursnee kan deurval. Bokant die derde en verste kompartement – waar die raamwerk se helling op sy laagste bokant die opvangbak is – is die gleuwe só gespasieer dat net uie met ’n deursnee van 7-10 cm kan deurval.

In die bakke rol die gesorteerde uie ook na die kant danksy die helling van die opvangbakkompartemente.

Aan elk van die kompartemente se laagste kante is ysterringe van dieselfde omtrek as die uiesakkies vasgesweis. Hieraan word uiesakkies gehang. Die gesorteerde uie word dus in sakkies van onderskeidelik klein, medium en groot gerol tot hulle vol is, en ’n volgende sakkie aan die ring gehang word.

Aan die heel verste punt is ’n ring vasgesweis waarin sakkies die grootste uie opvang wat te groot is om deur enige van die gleuwe te val.

Drie stelle stawe met verskillende openinge tussenin laat verskillende groottes uie deur die gleuwe van die uiesorteerder val om dit volgens grootte te klassifiseer.
Die koppelpunt is aan ’n 5 m lange rubberpyp aangebring, en koppel aan die binneband se luginlaatklep om dit op te blaas – dieselfde as by enige motorhawe.
Die Brix & Stratton-petrolenjin van 3,728 kW vyf-perdekrag word met ’n waaierband aangedryf.
Die pompie, wat Du Plessis op die raamwerk vasgesit het, kan ’n drukking van vyf bar opwek nadat die petrolenjin aangeskakel is.

Robuuste, draagbare wielpomp

Op die Karoo se grondpaaie is dit alledaags dat die skerp klippe bakkie-, motor- en selfs trekkerbande stukkend steek. “Ons bly ver van die dorp af en kan nie motorhawe toe ry vir elke pap wiel nie,” sê Du Plessis. “Ons maak self ons binnebande reg deur seëlpleisters (patches) oor die gaatjie te plak, maar dan moet dit opgepomp word. Pap wiele word dikwels sommer net daar langs die pad of waar ek werk, reggemaak.”

Du Plessis het begin kopkrap oor ’n beter alternatief as ’n handpomp. “Dit is harde en warm werk om met ’n handpomp in die Karooson te sukkel. “Ek het ’n Brix & Stratton-petrolenjin van 5 perdekrag (3,728 kW) gehad, asook ’n ou pompie wat my pa meer as 20 jaar gelede gekoop het met die oog daarop om ’n bandoppompstelsel te bou.”

Du Plessis het ’n ysterraamwerk gebou waarop die klein enjin en pomp vasgeskroef is. Hul katrolwiele word met ’n waaierband verbind en die enjin dryf die pompie daarmee aan. “Ek het ’n dun rubberpyp van sowat 5 m aan die pomp gekoppel en aan sy voorpunt ’n gewone koppelpunt vasgesit. Pluk die enjin eenvoudig met ’n tou aan die gang, en hy blaas ’n stewige drukte lug uit.” Tot vyf bar-drukking kan verkry word.

Du Plessis het ’n afsonderlik banddrukmeter. “Die lekkerte van die pomp is dat dit altyd agterop die bakkie is. Omdat dit minder as 20 kg weeg, is dit maklik om op en af te laai.”

Dit het hom niks gekos om te bou nie. “Ek het alles op die plaas gehad en net die raamwerk gebou en alles gemonteer.”

Die boorgatvastrapper bestaan uit twee sterk H-ysterstawe van sowat 0,5 m lank wat 180 grade kan oopswaai.
Aan die oop­swaaikant word die H-ysterstawe met ’n stewige 25 mm-bout vasgedraai nadat die waterpyp in posisie vasgeknyp is.
’n Gat, met presies die regte deursnee vir die waterpyp wat dit moet kan vasknyp, is aan die binnekant van die ysterstawe gemaak.
Aan die “toe” kant van die boorgatvastrapper is ’n sterk skarnier waarmee die H-ysterstawe oopgeswaai word.

Boorgat-vastrapper

’n Droë boorgat kan ’n mens se moed breek, en as die pype wat moeisaam tydens ’n herstelpoging uitgetrek word, nog in die gat terugval . . . “Dit kom jou ook oor as nuwe pype in ’n nuwe of bestaande boorgat gesak word, loskom en terugval.”

Dit het Du Plessis laat besluit om ’n boorgatvastrapper te bou. Hy het twee stukke van sowat ’n half meter elk van ’n sterk H-ysterstaaf afgesaag.

In die een “binnekant” van elk het hy ’n halfmaanvormige stuk gemaak, presies volgens die afmetings van die pype. Aan die een kant het hy die twee stukke H-ysterstawe met ’n sterk skarnier gekoppel wat toelaat dat die twee stukke 180 grade kan oopmaak.

Aan die ander kant is gate gemaak sodat ’n stewige bout van 25 mm-deursnee die twee dik ysters stewig kan toetrek en toehou.

Die vastrapper word bo-oor die boorgat neergesit, die pype word 100% stewig in posisie vasgeklem deur die bout aan die een kant vas te draai, en dan kan die pyp aan die driepoot-katrolhyster gekoppel word. “Dit skakel alle moontlikhede uit dat dit in die gat kan intuimel.”

Nadat die pypwerk voltooi is, word die bout losgeskroef, die H-ysterbene oopgemaak en die pype word in die gat laat sak (of uitgetrek). “Weer eens het die plan my niks buiten die arbeid gekos nie.

“Dit is baie eenvoudig, maar werk wonderlik. Niemand wat die vastraptoetstel gebruik, het sedertdien ’n ongeluk gehad met pype wat in die boorgat terugval nie.” 

Navrae: Mnr. Jan du Plessis, 082 658 9721.

Vertel ons VAN jou plan!

Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.