Om ’n skaap in ’n kraal te vang en plat te trek sodat die boer met hom kan werk, is welis-waar nie ’n moeilike taak vir ’n ervare skaapwagter nie, maar as hy dit honderde kere moet doen sodat die kloutjies aan al vier pote korter geknip kan word, raak dit ’n gróót werk.

Mnr. Lion du Plessis, wat onlangs as Mpumalanga se Jongboer van die Jaar vir 2018 aangewys is, besef dit maar té goed. (Sien ook “Pak só legkaart vir risikoverspreiding’’, LBW, 3 Augustus 2018.) Hy boer saam met sy pa, Hennie, op die plaas Kranspan oos van Ermelo.

Benewens mielies, sojabone en droëbone boer hulle ook met wolskape en vleisbeeste. Die skaapafdeling bestaan uit die Cachet-Merinostoetery en ’n kommersiële kudde vir slaglamproduksie.

“Ons grond is erg sanderig en ons kry baie reën. Die skape se kloue moet betyds aandag kry, anders kan vrotpootjie ’n probleem word en dan loop die skape moeilik,” sê Lion oor hul dilemma.

BOU INFRASTRUKTUUR

Dit is ’n onbegonne taak om die Merino-wol- skape een vir een in die kraal te vang. Daarom het hulle gaan kyk hoe ander boere dit doen en toe infrastruktuur geskep wat skaapwerk maklik en vinnig maak. Die skaapdrukgang langs die kraal is van steen (foto 1) en het dus ’n sterk struktuur.

Die kante is sowat ’n meter hoog. Lion het ’n vierkantige skaapkrat van afvalyster gebou wat effens hoër, langer en breër as ’n volgroeide skaap is (foto 2). Dit is bo-op die een punt van die drukgang geplaas, waar dit stewig vasgebout is. Die krat het ’n vloer van staalplate wat vroeër ’n kafkar was.

Die krat se een sy verste van die kant waar die werkers staan, is ook met dié plate toegemaak, asook die boonste helfte van die sy naaste aan die werkers. Die voorkant is permanent toe. In die drukgang voor die skaapkrat het hy ’n loopplank met dwarshoutjies aangebring sodat die skape daarteen kan oploop tot in die krat (foto 3) sonder om te gly.

Weerskante is relings van pyp wat keer dat die skape afspring. Langs die krat (aan die buitekant van die drukgang) is ’n raamwerk met ’n geut van plaat bo-op wat aan die drukgang se kant skuins tot net onder die krat oploop (foto 4). Die geut is na die regterkant verleng en is sowat 5 meter lank.

SÓ WERK DIE STELSEL

Die skape word by die drukgang ingejaag (foto 5).

Hulle loop een vir een teen die loopplank op tot in die krat. Wanneer een skaap in is, word die hekkie agter hom toegemaak (foto 6). Terwyl die skaap in die krat staan, vat twee werkers die verste voor- en agterbeen vas en trek die skaap na hul kant toe.

Die skaap kantel vanself om en beland op sy rug in die geut (foto 7). Hy kan in hierdie posisie nie vanself regop kom nie en word dan tot by die verste punt aangeskuif, waar hy geen ander keuse het nie as om ewe gedweë sy lot te lê en afwag.

’n Kloutjieskêr word gebruik om die skape in die geut se kloutjies wat uitgegroei het, versigtig korter te knip. Hierdie proses is aaneenlopend en duur net ’n paar sekondes per poot. Die geut is hoog genoeg sodat dat die werkers regop kan staan en werk. Hulle kan sowat 50-60 skape per uur hanteer.

VERRIG ANDER TAKE

Lion sê terwyl die skape op hul rug lê, kan hy sommer ander skaapwerk verrig, soos om die ooie se uiers na te gaan en hulle in te ent.

“Dis ’n baie belangrike taak om na die lammerooie se uiers te kyk. As ’n ooi op haar rug lê, is dit maklik om te sien of sy ’n lam laat soog of nie. Ek hou aantekeninge van elke skaap en kan dan sommer bepaal watter ooie gereeld nie ’n lam versorg nie, wat ’n teken kan wees dat sy ’n swak ma is. Daarvoor het ek ’n aantekeningstelsel wat elke jaar se ooie volgens kleur onderskei en waarvolgens dragtige ooie, ooie met tweelinge en uitskotooie bestuur kan word.”

Die skaapwerkstelsel het hom net sowat R1 200 gekos omdat hy grootliks afvalmateriaal gebruik het wat op die plaas was. Uitgawes was grootliks vir sweisstawe, boute, moere en die plate (en om dit in die verlangde vorm te laat buig). Dit is egter vir hom goud werd op hierdie plaas met sy omvangryke gemengde boerdery waar tyd kosbaar is.

NAVRAE: Mnr. Lion du Plessis, e-pos: lionduplessis@yahoo.com; sel 084 811 4270

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.