Met drie werkers kan tot 500 skape binne ’n uur gedoseer, gedip en geënt word.Gee ’n opdrag aan ’n lui mens en hy lewer vir jou die vinnigste en maklikste resultate, sê mnr. Japs Jordaan (24) van die plaas Grootkom in die distrik Cradock skertsend.

Dié ontwerper van twee uitsonderlike skaaphanteringskrale op hul familieplaas erken hy wil nie sukkel nie. 

“Toe ek drie jaar gelede kom boer het, was hier baie werk om die besproeiing op die plaas op te knap. Maar die skape het ook aandag geverg. Ek kon dit nie verdra dat soveel tyd gemors word wanneer die ooie uit die lendelam sifdrukgange spring of my klere aan die drade haak nie. 

“Toe ek eendag aan ’n kennis vertel van my planne om die skaaphanteringsgeriewe op Grootkom op te knap, het hy gesê hy glo nie daar is ’n manier hoe ’n mens ’n drukgang met vyf uitkeerkrale kan ontwerp nie. En, het die ou nogal spottend gesê, as ek dit regkry voordat sy seun baard het, sal hy kom kyk! 

“Dit het my ses maande lank aan die dink gesit. Toe eendag het die plan by my opgekom. Ek het besef ek moet bloot bepaal wat die looppatroon van die uitkeerhek is en hoe die meganisme gesinchroniseer kan word sodat die operateur die skape vanaf die drukgang in vyf verskillende krale kan sorteer.”

Japs het by sy rekenaar gaan sit en begin teken. Ná ’n paar uur het hy ’n eureka-oomblik ervaar. Toe moes hy dit net bou en in die praktyk toets. 

Hierbo is die vindingryke glybaan soos van bo gesien (die werkers noem dit ’n taxi). Japs het dit ontwerp om in een aksie sy lammers te doseer, te dip, te ent, vir bosluise te ondersoek en hul sterte te sny. Dit is ook van staalpadrelings gemaak. Een werker vang ’n lam in die klein kraaltjie en plaas hom op sy rug op die boonste deel van die glybaan. Aan die onderkant is twee skoenlappervlerke wat keer dat die lammers uitval en verseker dat die lammers maklik tot binne-in die hangskaal gly. Aan weerskante van die glybaan is staalhake wat om die voor- en agterbene van die lammers pas om hulle in posisie te hou. Drie tot vyf lammers, na gelang van hul grootte, kan op ’n slag behandel word.
Op die foto is die houer met die dipstof. Wanneer die lammers op die glybaanlê, kan hulle outomaties met ’n dipmiddel behandel word. Dit werk soos aanrol­deodorant. Die middel word in ’n 2 liter-plastiekkoeldrankbottel bokant die glybaan geplaas. Twee pype aan weerskante voer die middel af na die rollers op die glybaan.
Die verskillende kleure oorplaatjies word in ’n staalbak gesit. Die bak hang aan ’n kabel langs die kant van die drukgang en verseker dat die oorplaatjies altyd byderhand is waar die operateur ook al in die drukgang besig is om die oorplaatjies in te sit.
’n Dipvoetbad aan die bopunt van die drukgang. Aanvanklik het Japs ’n stewige drukgang van gebruikte padstaalrelings gemaak. Die skape was egter baie halsstarrig om by die drukgang ingejaag te word. Omdat die sykante van bo tot onder toe was, het dit die drukgang baie donker gemaak. “Vee beweeg makliker van donker na lig as andersom,” verduidelik Japs.
Dié probleem is opgelos deur die onderste relings af te haal en met ysterpaaltjies te vervang. “Maar toe ek die lammerooie in die drukgang jaag, het lammertjies deur die openinge tussen die paaltjies uitgeglip. Hoewel dit ’n goeie ding is wanneer met lammerooie gewerk word omdat die kans skraler is dat lammers in die drukgang doodgetrap word, is dit problematies wanneer daar nét met lammers gewerk word. Dit is tóé dat ek op die gedagte kom om ’n tweede stel paaltjies in ’n raamwerk te sweis wat toegeskuif kan word om die lammers binne te hou.”
Nog ’n plan wat Japs geprakseer het om die vloei van die skape in die drukgang te beheer, was om eenrigtingswaaideure aan te bring wat aan kroegdeure herinner. Die deurtjies keer dat die skape agteruitbeweeg wanneer hulle eers in die drukgang is. Pleks van ’n veer het hy ’n ou motorband in stukke gesny om as skarniere te dien.
Die uitkeerhekmeganisme van die drukgang soos van bo gesien. Die revolusionêre uitkeerhek wat Japs ontwerp het, is aan die bokant van die drukgang opgerig. Die meganisme bestaan uit drie hekke wat onderskeidelik met ’n voetpedaal, ’n hefboom en ’n kabel verskuif word om die skape in die verlangde groepe te sorteer. Die proses verg nietemin hoë konsentrasie en ’n operateur met goeie motoriese aanleg.
Sodra die lammers klaar met ’n dipmiddel behandel is, gly hulle tot binne ’n weeghok af. ’n Eenrigting­swaaideur by die bek van die hok keer dat die lammers uitspring. Sodra die lammers klaar geweeg is, word die dubbeltrekhekkie agtertoe getrek om hulle uit te laat.
Die teleskopiese laaibank wat Japs ontwerp het, is ewe geskik om skape van ’n eentonbakkie op ’n driedekvragmotor te laai. Hy beoog om die laaibank verder aan te pas sodat dit nie net op en af beweeg nie, maar ook links en regs.
Om te keer dat daar stof in die krale is wanneer met vee gewerk word, is waterspuite op strategiese plekke aangebring. Voordat die trop skape in die kraal gejaag word, word ’n kraan vir sowat tien minute oopgemaak om die kraalvloer nat te maak. Die stelsel werk op gravitasie vanaf ’n watertenk wat hoog bo die kraal geplaas is. Die “stoflose” vloer verminder die oordraagbaarheid van siektes (vir mens en dier) en help ook dat die wol nie deur stof besoedel word nie.

Koste 

Dit het Japs sowat drie weke gekos om die twee bestaande skaapkrale op die plaas in die doelmatige skaaphanteringsgerief te omskep. Omdat hy meestal skroot gebruik het wat op die plaas was, is die algehele koste, arbeid ingesluit, sowat R14 500. 

Dit was egter die moeite werd omdat hy tot 500 lammers met net drie werkers binne ’n uur kan doseer. Met sewe heeltydse werkers in diens is dit nie meer soos voorheen nodig om almal te betrek wanneer met skape in die kraal gewerk word nie. 

“Omdat dit ’n bergplaas is waar drade voortdurend in stand gehou moet word, kan die res van die werkers hulle eerder daarmee besig hou. Die gemak waarmee skape nou hanteer word, het nie net gelei tot hoër produktiwiteit nie, maar ook die werkers se werklas verminder as dit by die hantering van die vee kom.”

Nog ’n bonus is dat die skape nie ure in die kraal hoef deur te bring nie. Aangesien hulle op lusern loop, verminder dit ook die risiko dat hulle opblaas omdat hulle gou weer op die weiding teruggeplaas word. Voer Japs nog planne in die mou? 

“Ja, beslis. Ek wil ’n menger maak wat van die trekker se kragaftakker werk om ’n ton lek binne ’n halfuur te vermeng. Ek beoog ook ’n moderne beeskraal en dink aan maniere hoe ek met twee werkers 1 000 skape voor mid­dag­ete kan skandeer sonder dat die mense sweet,” sê dié vindingryke boer.

1. Die hek word met ’n voetpedaal deur die operateur na links getrek sodat die skape na kraal A (pers) uitgekeer kan word. 2. Die hek word met ’n voetpedaal weg van die operateur getrap en die skape beweeg regs na kraal E (geel). 3. Die voorste hek word met ’n hefboom weg van operateur gedruk om die skape na die voorste linkerkraal (B, blou), uit te keer. 4. Wanneer die operateur die hefboom van die voorste hek na hom trek, beweeg die skape deur na voorste regterkraal (D, rooi). 5. Wanneer die sluishek se kabel opgetrek word, beweeg die skape reguit deur na kraal C (groen).

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.