Selfs in die droogte het ’n Swartlandse pa-en-seun-span dit reggekry om hul lampersentasie noemenswaardig te verhoog danksy ’n lamkampstelsel en hul vaartbelynde voerbenadering.

Toe mnr. Bertus Eksteen vier jaar gelede saam met sy pa, Francois, op die Piketbergse plase Witvlei en Die Helfte begin boer het, het hulle begin ondersoek instel na maniere om hul Vleismerinovertakking produktiewer te maak.

Nadat hulle die hulp van mnr. André Fourie, landbou-ekonoom en veevoedingskundige van Bredasdorp, ingeroep het, het hulle ’n stelsel van permanente kampies, waarin ooie op die plaaswerwe lam, opgerig. Kleiner, verskuifbare toerusting, soos lamhokkies, afkeerringe en lammerwaentjies, help hulle om dié stelsel te verbeter om die optimale hoeveelheid gespeende lammers te verseker.

Francois sê hy het besef as hulle die lampersentasie hoër kan maak deur kampies te gebruik, sal hulle die kampies se koste kan verhaal.

Voor hulle die kampies begin gebruik het, was hul lampersentasie (lewende lammers as ’n persentasie van die ooie wat by die ramme gesit is) 115 teen die tyd dat hulle die stertjies afsny. In ’n uitstekende jaar was dit rondom 125. In die drie jaar wat hulle reeds die kampies gebruik, het hul lampersentasies van 130 tot 158 behaal.

Die ooi en lammers word maklik na die lamhokkie verskuif met die hulp van lamkarretjies.

LAMKAMPIES EN -HOKKIES

Bertus sê hy het self ook sy huiswerk gedoen voor hulle die kampies opgerig het. Met die hulp van die internettoepassing Google Earth Pro kon hy maklik die gebied met die ideale helling identifiseer, opmetings doen en bepaal hoe die waterpype moet loop.

Daar is 14 kampies aan elke kant van ’n pad wat 8 m breed is met gemiddelde afmetings van 16,6 m x 58 m en ’n oppervlak van 0,1 hektaar (sien figuur ). Die uitleg van die krippies, lekbakke en plekke waar die ruvoer uitgesit word, is ook so gedoen dat die skape nie net aan een kant van die kamp loop nie.

Gedurende lamtyd word 80 verskuifbare lamhokkies in die middelste twee kampe langs mekaar gerangskik om meerlingooie tydelik te huisves. Elke stel van 28 kampies kan 600 ooie huisves. Francois sê hulle het die projek op die “boeremanier” aangepak.

Waar hulle kon, het hulle gebruikte materiaal, soos wingerdpale, vir hergebruik in die kampe gekoop. Hy reken die hele projek het hulle R150 000 gekos, ’n bedrag wat lankal verhaal is met die hoër lampersentasies wat hulle reeds kry ten spyte van die droogte.

Die draadraam van verskuifbare swembaddens kry ’n nuwe lewe as ’n manier om te sorg dat ’n ooi haar lammers vat.
Die Eksteens van die plase Witvlei en Die Helfte by Piketberg se stelsel van permanente lamkampies en verskuifbare lamhokkies en ander patente werp reeds vrugte af wat betref ’n hoër lampersentasie en gesonder, eenvormiger lammers.

VAN VELD TOT LAMKAMPIES

Een van die redes waarom die stelsel so goed werk, is die feit dat hulle al vir baie jare self voer meng, sê Francois. Nadat hulle in 2004 hul melkery gestaak het, het hulle die melkstal as “voerfabriek” ingerig. Me. Ronel Joubert, voedingskundige van Feedtek, het hulle gehelp om die regte formulerings vir voermengsels te ontwikkel.

Nou koop hulle ruvoer, mielies of lupiene, konsentraat en sout en maal en meng self die voer. ’n Maand voor die ooie begin lam, begin hulle dieselfde lek kry as wat dié op die stoppellande kry, maar met meer deurvloeiproteïen. As hulle na die kampies toe kom, word die sout uit die lek weggelaat.

Hul skape lam net een keer per jaar – in April. Dis die algemene lamtyd in hul omgewing omdat toestande dan ideaal is en dit nie te koud of te warm is nie. Omdat daar daardie tyd van die jaar gewoonlik ’n voerdroogte is, behou die diere in die kampies hul kondisie beter as dié wat op die veld bly en ver moet stap.

Veertien dae voor lamtyd word die ooie in groepe van 25 per kamp ingedeel. “Teen daardie tyd kan jy sien watter ooie uiers maak. Ons skandeer slegs dié wat droog voorkom,” sê Francois. Nóg ’n voordeel is dat dit maklik is om die skape in die kampies te voer. “As hulle in die veld staan, ry jy jou gedaan, soggens en saans.”

Francois sê elke ooi kry net genoeg voer: 350 g lek per dag as hulle in die kampie inkom en 600 g per eenlingooi wat gelam het. Ooie met tweelinge kry twee keer per dag 600 g, terwyl drielingooie 600 g drie keer per dag kry. “Daar is baie voordele aan die stelsel. Deur die eenling- en tweelingooie te skei, word elke ooi presies gevoer wat sy nodig het en onnodige koste word uitgeskakel.”

Die verskuifbare lamhokkies met voer en water waarin ooie en lammers vir twee tot vier dae geplaas word nadat die lammers gebore is.

VAN LAMTYD TOT GENOEGSAME WEIDING

“Sodra die ooie begin lam, plaas ons dié wat eenlinge kry, regstreeks in ‘eenlingkampe’ (25 ooie per eenlingkamp), en dié met meerlinge eers in die verskuifbare lamhokkies voor hulle ook na lamkampe verskuif word (15 ooie per tweelingkamp).”

Om dié proses maklik te laat verloop, het hulle “lamkarretjies” gemaak. Een van die werkers laai ’n ooi se lammers in die karretjie en sodra sy begin stap, draf die ooi agterna “asof sy aan die karretjie vasgemaak is”.

Die verskuiwing sonder die lamkarretjie was in die verlede moeilik en arbeidsintensief. Na gelang van hoe druk die lamtyd is, bly die meerlingooie twee tot vier dae in die lamhokkies met water en kos sodat die band tussen die lam en ooi sterker kan word. In dié stelsel word ooie wat lam, daagliks vervang om die getal ooie per kamp waar ooie lam konstant te hou.

Om verwarring tussen die ooie en lammers te vermy, word twee keer elke dag slegs drie tot vyf meerlingooie en hul lammers gemerk voor hulle uit die lamhokkies vrygelaat word. Francois en Bertus sê hulle begin vroeg die lammers kruipvoer gee in PVC-pype wat hulle vir dié doel omskep het.

Mnre. Francois (links) en Bertus Eksteen. FOTO’s: NOLIE EKSTEEN

SWEMBADRAAM WORD AFKEERRINGE

Waar ooie in die veld sukkel om te lam, verloor hulle dalk die lam, of is hulle nie betyds om planne te maak sodat die ooi ’n ander lam kan grootmaak nie. In die kampies kom die draad van verskuifbare swembaddens wat in ’n sirkel gebuig word, goed te pas indien daar te veel ooie op ’n slag lam.

“Die draadsirkel is lig en in die klein ruimte van die kampie word dit maklik tydelik oor ’n probleemooi en haar lammers geplaas,” sê Francois. Bertus sê die kampstelsel maak dit ook makliker om alle swak ma’s wat nie die lammers lekker vat nie, swak lam of blou-uier kry, so gou moontlik te identifiseer, uit te skot en mark toe te stuur.

“As jy in die veld lam, kry jy nie daardie ooie betyds nie.” Vir laasgenoemde het hulle ’n kwarantynkampie weg van die ander skape. Bertus het ook ’n slim manier ontwikkel om die blou-uierooie se lammers uit te ken en te merk: Hulle spuit die ooie se spene met merkverf sodat die lammers wat suip, se bekke blou kleur en hulle sonder sukkel uitgeken kan word.

Benewens die hoër lampersentasie sien hulle reeds ’n verbetering in die ooie se kondisie. Die lammers is ook baie gesonder, eenvormiger en deur meerlinge te merk, kan hulle daarvolgens selekteer en sodoende hul kudde vinniger vorentoe neem. Eweneens help die stelsel die medics om goed te vestig voor die skape land toe gevat word.

Lamkampie se uitleg.

KAMPIES EN SOUTBOS GEE MEDICS ’N KANS

Die afgelope droogte het dié pa en seun opnuut die waarde van die soutbosplantasies op die plaas laat besef. Die soutbosse is van Francois se oupa se tyd af in die slote geplant. Daar was in die 1980’s selfs ’n regeringskema om boere te help om plantjies in die hande te kry van die kwekery op die Wes-Kaapse departement van landbou se navorsingsplaas Nortier.

Voor die droogte het hulle nie veel aandag aan die soutbos gegee nie, maar vanjaar het die skape van middel-Maart af in die soutbos geloop. Hulle besef die skape kan nie daarop afgerond word nie, maar dit het hulle darem aan die gang gehou. Saam met die soutbosse help die kampies dat die skape sekere tye van die jaar nie op die medicsweidings is nie.

Francois sê dit gee die medics ’n kans. “Dit is baie belangrik vir die medics en help dit om sterker te groei voor ons die vee daarop sit. Die weiding is nou voor. Die skape gaan nie die weiding alles opvreet as dit reën nie. Dit verseker die toekoms van die medics.”

Navrae: Mnr. Bertus Eksteen, e-pos: ekst-witvlei@patat.co.za; sel 073 776 6815.