Lamhokstelsels word vandag algemeen deur skaapboere gebruik om hul diere se lam- en speenpersentasie te verbeter en roofdiere se kans te verminder om pasgebore lammers of hul ma’s in ekstensiewe toestande te vang.
Mnre. Jan en Johan Wessels van die Waplaas-boerdery by Heidelberg in die Suid-Kaap het sedert 1992 ’n intensiewe agtmaande-lamstelsel gevolg waar ooie in klein kampies gelam het. Die lamverliese van gemiddeld meer as 15% wat daarmee gepaardgegaan het, was egter nie vir hulle aanvaarbaar nie.
“Ek het begin beplan hoe om daardie syfer drasties te verminder of selfs heeltemal uit te skakel,” sê Jan.
“In 2010 was my planne vir ’n intensiewe lamstelsel agtermekaar. Die hoofdoel daarvan was om lamverliese drasties te verminder deur 24 uur per dag toesig te hou oor ons dragtige ooie, hul lamproses en die versorging van die ooie en hul lammers vir die daaropvolgende drie tot vier dae. Ek wou ooie toelaat om in meer higiëniese toestande te lam en hul moedereienskappe ten volle uit te leef. Só kan die lammers se algemene gesondheid verbeter word.”
DRIE AFDELINGS
Landbouweekblad het gaan kyk na hierdie lamstelsel met geriewe wat altesaam sowat 3 300 vierkante meter beslaan, en uit drie afdelings of stappe bestaan. In die stelsel is daar 20 groter wagkampe, elk 20 m lank en 5 m breed, 20 kleiner gedeeltes wat deel uitmaak van die groter wagkampe waarin die ooie lam, en 326 houthokkies waarheen die ooie ná lam met hul lammers gaan om ’n band met mekaar te vorm. Die hele kompleks is 100 m lank en 33 m breed – alles onder een dak.
“Dragtige ooie kom sowat ’n week voordat hulle moet lam, na die groter waghokke, waar hulle in groepies wag om te lam. Wanneer hulle begin lam, word hulle na die kleiner lammergedeeltes in die waghokke geskuif. Nadat hulle daar op natuurlike manier weg van die ander dragtige ooie gelam het, word die nageboorte en bloed dadelik vanaf die vloer – wat met los sand en grond bedek is – verwyder.
“Daarna word die ooi en haar lam of lammers na een van die lamhokkies van 1,5 m x 1,5 m elk gebring, waar die lammers dadelik die noodsaaklike biesmelk vir goeie lamontwikkeling kan inkry, en die ooi en haar lam aan mekaar gewoond raak.”
Wat die lamstelsel van die normale lamhokkiestelsel onderskei, is dat die ooie en lammers onder 24 uur toesig is. Die ligte in die eenheid is heelnag aan. As ’n kragonderbreking voorkom, skakel ’n kragopwekker outomaties aan. Daar is altyd ’n werker of werkers wat gewoond is om met skape te werk, aan diens. Hulle monitor deurentyd ál die ooie en lammers in die verskillende fases en kan dadelik help waar nodig.
Jan sê ooie met ’n enkellam bly gewoonlik drie dae in die houtkampie. Ooie met meerlinge bly vier dae, sodat hulle behoorlik gemonitor kan word
“In dié tyd word hulle fyn dopgehou. As ’n lam byvoorbeeld nie aan sy ma wil suip nie of ’n ooi nie wil vreet nie, word dit dadelik opgelet. Enige probleem of fout kan dadelik reggestel word.”
Die ooi ontvang ’n spesiale lamhok- ooirantsoen om haar kragte vinnig te herwin. “Dit is ’n volvoerkorrel. Dit gebeur dikwels dat lammers ná ’n dag of twee ook aan die ooi se rantsoene begin knibbel. Só leer hulle sommer vinniger om self te vreet.”
Ná die drie of vier dae in die houthokkies gaan die ooie en hul lammers na spesiale uitkeerkampies waar tot agt ooie en hul lammers saam is vir twee tot drie dae. Daarna is die diere gereed om veld toe te gaan.
WAARDEVOLLE REËNWATER
Water wat in die stelsel gebruik word – vir die ooie en lammers om te suip, asook vir skoonmaak – is reënwater wat vanaf die kompleks se dak opgevang en na 29 tenks van 5 000 liter elk afgevoer word. Dit voorsien altesaam 145 000 liter water. “Wat nie aldag besef word nie, is hoe min reën eintlik nodig is om ál daardie tenks te vul. Slegs 20 mm reën is daarvoor nodig.”
’n Spesiale handkarretjie is gemaak waarmee die voerkorrels na die ooie in die stelsel geneem word. Die voer word twee keer per dag – soggens en saans – gegee.
Elke ooi kry 2 kg voerkorrels per dag. In die groter wagkampe is voerkorrels in groter krippe ad lib beskikbaar.
“Ons het gevind dat die hele lamproses veel skoner en meer higiënies plaasvind – wat vrektes feitlik heeltemal uitskakel. Die oomblik dat die ooi byvoorbeeld van haar nageboorte en gepaardgaande bloed ontslae geraak het, word dit dadelik verwyder, en skoon grond word op die vloer gegooi.”
Jan sê die hele lamstelsel het nagenoeg R600 000 gekos om te bou. Dit is in vier fases aangepak tot die grootte wat dit vandag is. “Dit het ons aanvanklik heelwat geld gekos, maar die lamverliese wat feitlik onmiddellik tot minder as 3% gedaal het, het die koste binne een jaar gedelg.”
KRUISTELING VIR MEER VLEIS
Die Wesselse koop rasegte Dohne-Merino- ooie waarby rasegte Ile de France-stoetramme gebruik word. Die ramme kom uit hul Ile de France-stoetery, Prima.
Die nageslag van die kruisings word op drie tot vier maande oud bemark. “Ons gebruik daardie kruiskombinasie spesifiek omdat die nageslag uitstekende vleiseienskappe het en meestal van 49-52% uitslag."
Die Ile de France-stoetery bestaan tans uit sowat 250 ooie, maar daar word beoog om dit tot 500 ooie te vergroot. Die hoeveelheid rasegte Dohne-Merino-ooie waarby die Ile de France-ramme gebruik word, is tans sowat 2 000. Daar word beoog om hulle ook mettertyd te vermeerder – “minstens tot 4 000 ooie in die toekoms”.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier