Mnr. Johan van Wyngaardt en sy vrou, Cherie, boer nog nie heeltyds op Sielsgevonden nie, maar as nuwelinge in die bedryf is dit deel van hul toekomsbeplanning.

Cherie se ouers, mnr. Dup du Preez en sy vrou, Drien, het die grond naby Tonteldoos in 2020 aangeskaf nadat dit sewe jaar lank in onbruik was.

“Ons moes eers die bestaande grensheining en dié van die kampe opknap en vervang, en het nog net op klein skaal begin boer om dit selfonderhoudend te kry. Ons het ’n paar beeste en vrylopende vleishoenders en eiers wat ons wel verkoop, asook ’n groentetuin en vrugteboord,” sê Cherie.

Benewens beeste en hoenders beoog hulle ook ’n kleinveevertakking met skape en Boerbokke. Hulle gaan ook die gevestigde foreltelery voortsit op ’n aangrensende stuk grond wat hulle onlangs aangeskaf het.

Johan en skoonpa Dup is vaklui by die ferrochroommyne Tubatse Samancor en die Lion-smeltery in Limpopo en hulle is by staalkonstruksie, pype en gespesialiseerde vlekvrye staal betrokke.

Die nabygeleë Dullstroom (ook bekend as Emnotweni) in die buurprovinsie Mpumalanga is bekend om sy wandelpaaie, perderitte en piekniekplekke by watervalle, maar die omgewing is ook ’n jagtersparadys.

’n Gat word deur die lekblok geboor vir ’n ysterstaaf wat deur die basisplaat vas­geskroef word.
Die moere word aan die onder­kant teen mekaar vasgedraai om die blok stewig in posisie te hou. Aan die bopunt van die staaf heg hy ’n stuk ketting wat aan die dwarsbalk gehaak word.
Diere word nou gedwing om die blokke te lek en kan dit nie vastrap om groter stukke uit te kou nie.

Jagtersparadys

Johan bied jagters die geleentheid om die omgewing se wild op sy plaas te benut. Hy is van kindsbeen af dol oor die bos, jag en visvang. “Ons bedryf nie ’n jagplaas nie, maar hier is heelwat trekwild.”

Met sy ondervinding as jagter het Johan voor die probleem te staan gekom dat die wild nie altyd deur ’n bepaalde soort voer tot naby ’n skuiling vir boogjagters gelok word nie. “Gedagtig aan dié jagters wat hul prooi by ’n wildskuiling voorlê, het ek ’n veeldoelige voerplek bedink.”

Sy lekblok-swaai is ’n unieke plan om aanvullende lek vir sy diere in die veld aan te bied. Dit is ook ’n vindingryke teenvoeter vir die klagtes van boere oor die vermorsing van die duur blokke wanneer diere dit vertrap.

Só werk die raamwerk

Die raamwerk vir die lekblokke herinner aan die kinderswaaie van ouds. Dit bestaan uit twee A-raampote, ’n boonste dwarslat en mandjies van plaatgaas of gesweiste maasdraad aan weerskante vir lusern, hawer of hooi vir byvoeding. Die struktuur van sowat 21 kg kan maklik verskuif word.

Johan maak die raamwerk breed genoeg sodat twee blokke – vir soutlek en melasse, byvoorbeeld – langs mekaar kan hang.

Hy gaan soos volg te werk: ’n Basis van plaatmetaal word so groot soos die blokke gesny. ’n Gaatjie van sowat 12 mm word deur die middelpunt van die blok geboor. Hierdeur word ’n ysterstafie met ’n skroefdraad aan die onderpunt van die plaat met twee moere vasgeskroef. Die moere word teen mekaar vasgedraai om die blok stewig in posisie te hou. Aan die bopunt van die staaf heg hy ’n stuk ketting wat aan die dwarsbalk gehaak word.

“Wanneer ’n soutblok bloot op die grond gelaat word, is grootwild en groot diere, soos perde en beeste, geneig om die blok vas te trap en stukke af te kou, wat vermorsing tot gevolg het. Die swaaiende blok dwing die diere om die inhoud af te lek, wat doeltreffende voerbenutting beteken.”

Johan vervaardig ook bakke van hoëdigtheid-poliëtileen (HDPE-plastiek) wat in die voermandjies aan weerskante pas vir byvoeding soos mielies, lusernkorrels of ander voerkorrels.

Om te keer dat die ligte struktuur wat sowat 1 m tot 1,2 m hoog staan, deur die diere omgekeer word, word elke poot deur ’n ring met ankerpenne in die grond vasgekap.

Die prys van die swaai wat hy in sy werkwinkel maak, is R3 320 elk. Dit bestaan uit ’n blokswaai met mandjies en vasslaanpenne, asook een HDPE-bak. Bykomende bakke kos R450 elk.

Johan maak aantekeninge in klein sakboekies van al sy idees vir planne om die lewe op die plaas te vergemaklik. Een van dié aantekeninge was die ontwerp van Cherie se verloof- en trouring (en om alles te kroon het hy haar in een van die boogjagskuilings gevra om te trou met die ring aan ’n pyl geheg).

Hy is tans besig om ’n gemaklike staander vir ’n boog, pyle en sak te ontwerp wanneer die skut oefen en dan ’n afsonderlike model wanneer die skut sy prooi in die boogskuiling inwag.

Hulle is ook besig om die blokswaai se raamwerk só te maak dat dit in afsonderlike passtukke makliker gekoerier kan word. 

Navrae: Mnr. Johan van Wyngaardt, 081 308 9269; me. Cherie van Wyngaardt, 074 294 3661 (net WhatsApp-oproepe op die plaas), e-pos: cherievanwyngaardt@gmail.com.