Sy gesukkel om die welige veldgroei op sy plaaswerf tydens die gunstige sommerreën te tem, het mnr. Michris Janse van Rensburg genoop om (nóg) ’n plan te beraam. Nou werk sy veldsnyer met ’n koppelstuk met drie roterende lemme, wat dit onmiddellik ’n hoëroktaanwerking gee.

Janse van Rensburg is ’n vernuftige planmaker van die distrik Bultfontein wie se planne al tot in Midde-Afrika veral kleinboere se lewe vermaklik. “Daar is plekke op ’n werf waar jy nie met ’n grassnyer of met ’n trekkeraangedrewe bossiekapper kan bykom nie,” sê hy.

In Michris se geval het hy ’n Chinese veldsnyer (brush cutter) gebruik wat met ’n nylonsnytou toegerus is. Daar is verskeie van dié petrolaangedrewe toestelle in Suid-Afrika beskikbaar waarvan die pryse van die verskillende fabrikate van meer as R2 000 tot R5 000 wissel.

Janse van Rensburg het ’n prototipe-lem geprakseer wat die snytoukoppelstuk van die toestel vervang. Dit bestaan uit ’n driehoekige basis met drie beweegbare lemme van saaglemstroke. “Dié oplossing het uit die staanspoor seepglad gewerk.”

Die drie kleure verteenwoordig die verskillende groottes groefdraad vir die modelle op die mark.

Verskeie kommersiële veldsnyers het ’n bykomende vaste lem, maar Janse van Rensburg het vinnig besef dat dit onvanpas en gevaarlik is.

Die lemme van sy finale weergawe is met staalboute aan die basis geheg, wat dit laat wegswaai wanneer dit ’n klip of ’n boomstam tref. Die risiko van beserings is dus kleiner. Die stelle swaailemme wat hy nou bemark, bestaan uit ’n netjies afgeronde staalbasis met drie punte wat met ’n laser uitgesny word en lemme van vlekvrye staal vir duursaamheid. Die afmetings daarvan is 20 mm x 80 mm elk.

Sy modelle maak voorsiening vir drie verskillende groottes groefdraad vir die modelle op die mark. Die geel model maak voorsiening vir die 12 mm-groefdraad van die Husqvarna-snyers, die groen een (groefdraad van 10 mm) vir die talle Chinese veldsnymodelle en die rooie vir die Stihl se fyner 12 mm-groefdraad.

Mnr. Michris Janse van Rensburg demon­streer sy aangepaste snylem vir sy veldsnyer.

LAER PETROLGEBRUIK

Een van die gebruiksmoontlikhede vir die aangepaste snykop aan ’n veldsnyer is om ’n klein lappie lusern gelyk af te sny. Daarvoor heg hy ’n wieletjie wat kan wentel aan ’n klamp aan die veldsnyer se skerm sodat die lem op snyhoogte oor die oppervlak gestoot kan word.

Terugvoer van kontrakteurs wat na die nuwe snykop oorgeskakel het, is dat die petrolverbruik van die toestelle aansienlik afgeneem het. Janse van Rensburg is ook geluk gewens met sy ontwerp deur mnr. Jannie Myburgh van die plaas Kromdraai, Ermelo, een van sy mentors wat hy as die meester van boereplanne beskou.

Die eerste prototipe van sy snytoestel bestaan uit ’n driehoekige basisplaat en die lemme van ’n houtsaag.
Deur ’n wentelbare wiel aan die rand van die veldsnyer se skerm te heg, kan ’n bepaalde snyhoogte bewerkstellig word.

SKAAPSKÊR OP STEROÏEDE

Janse van Rensburg se snykop is nie geskik vir die huishoudelike elektriese randsnyers (weed eaters) nie. Hy het egter sy snykop vir ’n ander tuintoepassing aangepas. Om ’n “skaapskêr op steroïede” te bewerkstellig, gebruik hy ’n hoekslyper met ’n draaiskyfafmeting van 115 mm. Hy vervang die hoekslyper se lem met ’n skyfbasis van staal waaraan twee beweegbare lemmetjies vasgeheg word.

Vir Janse van Rensburg, wat al baie gespook het om ’n boereplan te maak werk, was die ontwerp van die snykop speletjies. “Ek dink dit is net genade. Dit was die plan wat die maklikste ontstaan het met die minste mislukkings en die meeste tevrede gebruikers tot dusver.”

Janse van Rensburg se weergawe van ’n “skaapskêr op steroïede” wat hy vir die pret aangepas het. Die groen lemmetjie word in ’n hoekslyper van 115 mm vasgebout vir die geringe takies wanneer grasperkrande gesny moet word.

Hy dink ervaring begin help in die ontwerpproses, maar die hulp van duisende boere wat sy patente beproef, tel in sy guns. “Ek luister graag na kritiek en raad van ander, maar ’n mens vergeet maklik die ingenieursondernemings wat die ontwerpe verfyn.”

Janse van Rensburg beskou mnr. Hansie Steyn van MC Ingenieurswerke op Kroonstad as ’n meester op sy gebied. “Staalbeer op Bothaville se lasertekenaars kry al seker nagmerries as ek sê ek het ’n nuwe plan. Gewoonlik beteken dit baie ontwerpe, maar met dié een het dinge sommer met die eerste probeerslag gewerk.”

Die lemkoppelings kos R250 elk. 

NAVRAE: Mnr. Michris Janse van Rensburg, e-pos: michrisjvr@gmail.com, 073 454 4111.

Vertel ons VAN jou plan!

Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing. Besoek Landbou.com vir video’s van die aangepaste veldsnyer en “skaapskêr”.