In ’n vinnig groeiende stoetery en kommersiële boerdery soos dié van die Jordaans van Zuurfontein tussen Cradock en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap, is die grootmaak van hanslammers nie boaan die prioriteitslys van plaastake nie.

Toe me. Monique Jordaan, wat saam met haar man, Zeiss, met Dohne-Merino’s boer en die Sneeuberg-Dohne-Merino-stoetery bedryf, die gaping sien om by die vertakking betrokke te raak en ’n “afskeepwerk” tot professionele vlak te voer, het sy die geleentheid met albei hande aangegryp.

Monique het sedert sy drie jaar gelede met Zeiss getroud is, al ’n paar lesse oor die moets en moenies van die grootmaak van hanslammers geleer. Hulle het hul kudde se produksie die afgelope paar jaar drasties verhoog – ’n yslike verbetering van ’n lampersentasie van 130 na 173 – om sodoende aansienlik meer lammers met lamtyd aan te kry. Uiteraard is daar nou ook meer lammers wat hans grootgemaak moet word. (Sien ook “Boer vooruit met meerlinge en presisievoeding”, LBW, 3 Desember.)

“Toe ek hier aankom, het ek vir my man gesê ek wil bitter graag ’n hansie hê, want ek is baie lief vir diere,” sê Monique. Sy het toe sommer die bestuur van die afdeling oorgeneem waar lammers hans grootgemaak word.

Om die taak te vergemaklik, het sy ’n Biotec-masjien uit Kanada ingevoer wat water verhit en dan outomaties 330 ml water met 50 g melkpoeier vir elk van die masjien se ses tiete vermeng. Hiermee kan 120 lammers op ’n slag grootgemaak word.

Me. Monique en mnr. Zeiss Jordaan saam met Zeiss junior (links) en Willem. Foto: Fredalette Uys

Ad lib-toegang

’n Lam drink gewoonlik 20% van sy liggaamsgewig per dag. ’n Lam wat 10 kg weeg, drink dus minstens twee liter melk per dag. Danksy die melkmasjien het die lammers ad lib-toegang tot melk. Die melkmasjien het ses spene.

Omdat Monique die kleinste lammers eers apart aanhou, sit sy net drie tiete aan die masjiene in haar twee lammerhokkies. Die lammers drink beurtelings melk. “Almal drink nie op een slag nie en gee mekaar beurte. Só kry almal genoeg melk in,” verduidelik sy.

“Sommige mense gee ’n 330 ml- of 440 ml-botteltjie melk drie of vier maal per dag. Dit is nie genoeg nie en die lammers vrek soms van die honger. Dit is ook waarom hulle boepensies kry, want hulle is ondervoed.”

Lammers moet dus gereeld melk kry; klein bietjies op ’n slag aangesien hul pensies klein is en hulle nie baie melk op ’n slag kan inneem nie. ’n Lam drink gewoonlik bietjie-bietjie by sy ma en dis die beste vir die lam, sê Monique.

Sy kom ook agter die lammers drink meestal deur die nag en slaap bedags baie. “Die melkmasjien se vlakke daal die vinnigste in die aand. Dit is saans koel en die lammers het warm melk nodig om hulle warm te hou. Ons sit nie water in die hokke vir die lammers nie, aangesien hulle dan eerder water dink en nie die melk nie.”

Hortjiesvloere werk die beste om kieme uit die stal te hou. Foto: Monique Jordaan

Baie meerlinge

“Ons het die masjien aangekoop omdat ons méér meerlinge kry. As ’n ooi siek word of nie genoeg melk het nie, kan ons die lam van haar wegneem om hom te red en terselfdertyd die waardevolle genetiese materiaal weer in die kudde terugsit. Indien ’n ooi blou-uier kry, kan ons haar red deur haar lam weg te neem.”

Die hanslammers word in ’n ou ramstal met ’n hortjiesvloer gehou, met ’n kampie buite waar hulle in die son kan lê. Hulle hou daarvan om buite rond te hardloop, sê Monique. Hulle gaan in die toekoms ’n ander gebou oprig met meer spasie vir die lammers, asook ’n plek waar hulle in die winter lekker warm kan slaap.

Die hanslamhok het vensters waardeur sonlig instroom, ’n elektriese lig en infrarooilampe (die soort wat vir hoenders gebruik word) wat die lammers warm hou. Die vensters verseker ook behoorlike ventilasie, want anders word dit gou bedompig.

Lammers moet so gou moontlik by die masjien drink en nie eers met ’n bottel melk gegee word nie. “Sodra hulle melk met ’n bottel kry, sukkel jy om hulle weer sover te kry om aan die masjien se tiet te drink, aangesien die bottel makliker suig,” verduidelik sy.

“Wanneer die lammertjies baie klein is, hoef slegs die voorpunt van die tiet in die lam se bek te wees om te kan suip. As die hele tiet in sy bek gedruk word, kan hy nie suig nie omdat sy bek te klein en bekspiere nog nie sterk genoeg is nie.”

Die Jordaans het die lamtiete aangepas aangesien hulle dit nie altyd van Kanada wil invoer wanneer dit weens die aanhoudende gebruik vervang moet word nie. Hulle het ook ’n dop oor die tiet gesit omdat die lammers hul bekke teen die skroef stukkend stamp. Foto: Monique Jordaan

Beste formule

Monique het verskeie melkvervangingsformules getoets en uiteindelik gevind Lamlac (reg.nr. V23166) van Volac werk die beste vir haar hanslamboerdery. Daarby kry die lammers ook Epol se Broiler Starter-voerkorrels (reg.nr. V15433) wat eintlik vir hoenders geformuleer is. “Ek het die raad by iemand gekry. ’n Mens moet maar altyd jou oor teen die grond hou vir goeie raad.”

Dit bevat baie proteïen vir die hansies om lekker te groei. Hulle kry ook lammervoerkorrels wat hulle self op die plaas maak. “Die Broiler Starter gee die lammers ’n taamlike hupstoot en maak ’n verskil saam met die Lamlac en pille. Hulle is gou-gou vet en rond.”

Die lammers kry die voerkorrels en Broiler Starter reeds van die eerste dag af wanneer hulle by die melkmasjien begin drink. “Ons gee vir hulle lusernstokkies om die rumen te krap. Dit help om ensieme af te skei wat dan die kos verteer.”

Indien ’n lam van sy ma weggeneem word, moet sy seker maak hy het reeds bies van haar gekry. Beesmelk werk ook goed. Andersins meng sy eier, suiker en melk en gee dit vir die lam as sy nie bies in die hande kan kry nie. “Indien hulle iets in die maag het, is hulle warm en sal hulle mekaar nie doodlê nie. Die melk moet warm wees. Koue melk is nie wenslik nie.”

Wanneer ’n lam reeds vir ’n rukkie by sy ma was voordat hy weggeneem word, kan jy vir twee of drie uur wag voor hy by die melkmasjien gesit word. Dan is hy honger en vat hy die masjien se tiet makliker.

Monique het twee kampies vir die lammers; een vir die nuwe aankomelinge en een vir die lammers wat reeds sterk is en lekker drink. Sodra hulle dors raak, drink hulle by die melkmasjien. ’n Ouer hanslam wat reeds aan die melkmasjien gewoond is, word saam met die nuwe lam in die hokkie gesit, verduidelik Monique. Die lammers leer baie vinnig by mekaar.

“Ons het al baie klein lammertjies van die ma weggevat en dan drink hulle binne ’n uur of twee. Hulle is nuuskierig om te sien wat die ander doen.”

hanteer lammers so min as moontlik

Monique vind dat dit nie goed vir die lammers is as hulle gereeld hanteer of rondgeskuif word nie. Aan die begin het hulle die lammers in gewigsgroepe ingedeel en hulle taamlik baie verskuif, maar het toe agtergekom as die lammers te veel opgetel word, kry hulle draaiderm en vrek.

As lammers weggeskuif word van hul maats, treur hulle oor mekaar, sê Monique. Dit het sy in haar eie proewe vasgestel toe sy die lammers volgens gewigsgroepe ingedeel en elke week geweeg en verskuif het. “Sodra ’n lam weg is van sy maat, soek hulle mekaar en wil vir ’n dag of twee nie melk drink nie. Dan verloor hulle gewig, word swak en herstel nie weer maklik van die terugslag nie.”

Infrarooilampe hou die lammers warm. As die lammers baie klein is, word ’n bietjie mieliereste op die hok se vloer gegooi sodat hul pote nie deur die hortjies steek nie. Foto: Monique Jordaan

Spesiale aandag aan geriewe

Hortjiesvloere is die beste oppervlak vir die lammers, raai Monique aan. ’n Sementvloer met mieliereste daarop werk glad nie, want daar kom te veel kieme in en die lammers kry loopmaag en groei nie. Dan moet die plek vir twee tot drie maande leeg staan voordat dit weer skoon is.

Daar moet ook ’n plek wees waar hulle buite op die gras kan loop en in die son kan lê. Hulle speel dan ook met mekaar. Sonlig is baie goed vir hulle en maak kieme dood.

Die hokke word een maal per week met ’n ontsmettingsmiddel uitgespuit. Dan word die lammers uitgehaal, die vloere bespuit en met ’n besem skoongevee. Indien die lammers loopmaag kry, word hulle met Sulfadiazine 33 gespuit (reg.nr. G1124, Wet 36 van 1947) en BIO-VIT (reg.nr. 1999/020537/07), ’n elektroliet, word by die melk gevoeg.

Speenlammers

Die boerdery se ooie lam almal gelyk omdat die hele kudde laparoskopies geïnsemineer word, maar in vier groepe deur die jaar. Dus word al die lammers op een slag gespeen. Speentyd is op 35 dae vir een- en tweelinge. Lammers wat dan nog te lig is (onder 14 kg), word eers by die melkmasjien gesit. Dan kan al die ooie in die kudde veld toe gestuur word.

Die lammers bly by die melkmasjien totdat hulle 14 kg weeg voordat hulle na die trop speenlammers geneem word.

“Jy het ’n verantwoordelike vrou nodig om met die lammers te werk. Vroue werk beter as mans met die lammers en is geduldiger en waaksamer. Hulle gaan kyk kort-kort of alles goed gaan,” sê Monique.

Kontak: Monique Jordaan: E-pos: zeissjordaan@gmail.com