En dis nóg erger as die binnegoed nog in die bok se buik is. Die Vrystaatse wildboer mnr. Wynand du Plessis het die oplossing met sy borsbeenbyltjie.

Met net ’n stukkie yster, twee houtblokkies, baie verbeeldingskrag en die talent om iets uit niks te vervaardig, het mnr. Wynand du Plessis ’n vindingryke plan gemaak om ’n borsbeen-oopmaker te prakseer. Hy boer met wild, beeste en skape saam met sy pa, Abrie, op die plaas Plessishoek in die distrik Boshof in die Vrystaat.

Du Plessis is in beheer van die wildboerdery wat vir trofee- en biltongjag aangewend word en sy pa bestuur die veeboerdery wat uit gemengde Brahmantipe vleisbeeste vir speenkalfproduksie en kommersiële Dorpers vir slaglamdoeleindes bestaan. Aanvanklik was daar net ’n veeafdeling.

As hulle die veeboerdery wou uitbrei, sou hulle nóg waterpypleidings en krippe moes voorsien. Met wild is dit nie nodig nie, want bokke loop maklik groot afstande om te gaan suip. Nadat Du Plessis omstreeks 1999 by sy pa en ma Elsa op die plaas ingeval het, het hy ’n wildafdeling begin vestig wat nie ekstra infrastruktuur sou verg nie.

Mnr. Daniel Molekekwa (links), Du Plessis se slagter, kan die karkas met ’n drukpomp skoon spuit. Die drukpomp word ook gebruik om die bloed en ander afval van die sementvloer af te spuit.
Saam met drukpompfoto

Dit het goed uitgewerk en vandag boer hulle met elande, koedoes, gemsbokke, rooihartbeeste, rooibokke, springbokke, blesbokke, swartwildebeeste, sebras, vlakvarke, rooi ribbokke en waterbokke. Hoewel baie jagters trofeediere wil skiet, gaan die meeste mense daarheen vir biltongjag.

Daarvoor het hulle goeie slaggeriewe nodig. Hulle het ’n ruim slagafdak gebou met ’n sementvloer wat skuins afloop om van die bloedwater ontslae te raak. Daar is ook volop hangplek en ’n groot koelkamer. Die jagters bly in ’n huis neffens die slagplek én daar is ’n lapa.

Nadat die bok se buik oopgesny is, word die borsbeenbyltjie met die insnyding na binne op die borsbeen geplaas en kragtig met ’n houthamer of houtblok getik, wat nie die werktuigie beskadig nie. Só sny die insnyding die borsbeen gou-gou van bo na onder oop.

Borsbeen-oopmaker

“ ’n Mens moet goeie slaggeriewe hê as jy ’n goeie diens aan jagters wil lewer. Afskeepwerk is nie goed genoeg nie, want dan kom hulle nie weer volgende jaar terug nie,” verduidelik Du Plessis. Deel van dié diens is om die jagters se wild af te slag as hulle dit verkies.

Dit is presies wat hy doen. Hy dra groot sorg om nie vleis te beskadig nie. Een van die minder maklike take is om ’n karkas se borsbeen oop te saag sodat enige bloederigheid afgespuit kan word. Dis nóg moeiliker as die binnegoed nog in die karkas is, want dan kan ’n saag die pens of derms perforeer en die mis kan die vleis bemors.

Du Plessis het ook sy eie vleishake van ’n stuk ysterpaal van 40 cm lank gebou. ’n Stuk staal is in die middel gedraai om ’n lus te vorm, met twee hake aan die punte wat aan die stuk ysterpaal vasgesweis is. Daaraan word die bok se agterbene gehaak. Die lus in die middel kom deur ’n ander haak of die katrol om dit aan die balk te haak waaraan die bokke hang terwyl hulle afgeslag word.

Nie die borsbeen-oopmaker óf die vleishake het hom veel meer as ’n paar sweisstawe gekos nie, want Wynand het sommer afvalysters en ysterpale gebruik wat op die plaas was.

Navrae: Mnr. Wynand du Plessis, e-pos: oryx@vodamail.co.za; sel 072 766 1762.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.