Die Suid-Vrystaatse selfdoener van Luckhoff, mnr. Christi Grobbelaar, en sy vrou, Marie, se woonplek is nog nie ’n jaar oud nie en die dakplate lê op staalbalke, sonder kappe, en dus sonder vasmaakplek vir standaard geuthangers, wat die aanbring van standaard geute moeilik maak. 

Gelukkig het die ervare boer en planmaker altyd ’n plan.

Hy gebruik standaard-PVC-rioolpyp met ’n deursnit van 115 mm vir die plan. Omdat die pyp in die son lê, moet dit ná installasie met ’n goeie buiteverf, soos dakverf wat UV-bestand is, geverf word.

Die pyp word met ’n hoeksnyer al in die lengte oopgesny word. Waar ander passtukke, soos ’n afvoer-elmboog aangebring gaan word, moet sowat 75 mm aan die punt van die pyp nie oopgesny word nie. As die pyp gelas moet word, word die lasstuk ook gesny. Die gleuf in die pyp rek breed genoeg sodat dit oor die gegolfde dakplaat geskuif kan word, soos op foto 1.

Foto 1.

Grobbelaar sê selfs ’n pyplengte van 6 m kan eiehandig deur een man geïnstalleer word. Op foto 2 kan die installasie van ’n lengte van 6 m met sy afvoer-pyp gesien word.

In dié geval is ’n koppelstuk van 90°C gebruik om die reënwater tot in die opgaartenk te voer. Indien die ander punt van die pyp toegemaak moet word, kan ’n standaard-passtuk gebruik word, waaruit ’n keep gesny word om plek te maak vir die plaat.

Foto 2.

Om die pyp in posisie te hou, word ’n stukkie binddraad aan die twee eindpunte en in die middel van die pyp gebruik. Die plaat moet sowat halfpad in die pyp insteek sodat die pyp onder die gewig van die reënwater kan afsak. Dit vergroot die dra-vermoë van die pyp. 

Grobbelaar beveel aan dat selfdoeners die vasmaakgaatjies dus nie te gou maak nie. Gebruik ’n draadjie met ’n hakie aan die punt en ’n knak in die draad om te meet en te voel waar die plaat se punt is, skuif dan die pyp in of uit en maak dan die gaatjie vir die vasmaakdraadjie. 

Volgens Grobbelaar se berekenings kan ’n dak met ’n oppervlak van 48 m2 sowat 100 liter reënwater oplewer, ná ’n neerslag van 3 mm.

Op foto 3 kan die afvoerpyp en watertenk gesien word. Hier is mnr. Mpui Morutsile besig om reënwater op jong papinobome uit te lei. 

Foto 3.

In foto 4 word aangetoon tot waar die pyp gesny is, die afvoer-elmboog, die meethakie en die vasmaakdraadjie.

Die hele installasie, sonder die tenk, het hom minder as R200 en ’n bietjie moeite gekos.

’n Bykomende boereplan-wenk is om die dak wit te verf, wat die huis se binne-temperatuur (weens straling) heelwat sal verlaag, veral waar daar nie plafonne is nie.

Foto 4:

Dié boereplan is in April 2014 in Landbouweekblad gepubliseer. Die koste van die boereplan sal dus tans hoër wees as wat hier genoem word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.