Indringerplante soos lantana en swartwattel het boere aan die Oos-Kaapse kus en binneland raadop. Nou het die boer Johann Els van Komga ’n doeltreffende hulpmiddel gebou in die oorlog teen jong indringerbome.

Die meganiese balkspuit, waarvan die sproeiers deur ’n snellerwerking geaktiveer word om jong bome individueel te bespuit, raak ontslae van 80% van bome in ’n gebied wat deur indringers vervuil is.

Die dwarsbalk van die staalbalkspuit met staalarms en sproeiers kan tot op ’n hoogte van 2,5 m oor bome beweeg. Johann sê hy bespaar tot 30% aan gifkoste en arbeid!