Hoe groter die plaas, hoe meer oë is nodig om veiligheid op te knap. Daarvoor het mnr. Dirk Beukes van die plaas Bakenskop tussen Prieska en Niekerkshoop skrootmateriaal ingespan om sy opstal se veiligheidstelsel goedkoop uit te brei.
Die stelsel waarmee hy die huis en sy plaas beveilig, bestaan die afgelope ses jaar al uit kameras, hoofsaaklik Hikvision. “Die tegnologie het ná ses jaar al baie verbeter, maar die kameras werk steeds goed.” Beukes het skrootmateriaal gebruik om ’n mobiele stelsel te bou waarmee hy dele van die plaas enige tyd en van oral waar hy internettoegang het, kan bekyk. “Vandat ek die sonkamera begin gebruik het, behaal ek selfs meer sukses as voorheen.”
Skuif sonder skade
Die sleepwa wat hy as basis gebruik het, was vroeër die plaas se vuilgoedkarretjie. Die nuwe, kragtige Hikvision PTZ-kamera wat hy op die waentjie gemonteer het, kan met ’n 8 m-mas met spankabels opgeslaan word. Die kamera kan ronddraai en inzoem met ’n sterk lens wat die beeld meer as 25 keer kan vergroot. “Dit word soos enige kommersiële model van ’n selfoon of rekenaar beheer, en ek programmeer dit om waarnemings te doen. Ek kan ook die beeldmateriaal op my selfoon of rekenaar opneem.”
Die kragbron is twee sonpaneelbatterye met ’n vermoë van 105 Ah en ’n enkele sonpaneel van 180 W, wat voldoende is om die batterye te laai. Wanneer die kamera-waentjie verskuif moet word, laat sak hy die vier dele van die teleskopiese mas en ontkoppel die kamera sodat dit nie beskadig word nie.
Volgens Beukes kan hy met die beweegbare stelsel sekere bedrywighede in die veld dophou indien hy nie regsteeks kan toesig hou nie, soos draad span en skaapwerk.
Een van sy aanwendings van die mobiele sonkamera is vir toegangbeheer tot sy plaas. Bakenskop is naby ’n openbare pad geleë, en van ’n sekere hoogte is die verkeer op dié pad duidelik sigbaar. Niemand het nog die waentjie probeer steel nie.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier