Die Suid-Afrikaans ontwerpte produksiestelsel Agrigistics slaan drie vlieë met een klap: Dit vergemaklik bestuur vir boerderye wat intensiewe arbeid benut, bepaal die opbrengs van veelvuldige gewasse, en bereken en bestuur produksiekoste beter.

Die bestuurstelsel het ontstaan nadat drie ingenieurs, mnre. Cilliers Geldenhuys, Luke Kroon en Johan Ferreira, wat almal aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en aanvanklik stelsels vir die mynbedryf ontwikkel het, se pad met dié van mnr. Mario Marais van die Modelpak-boerdery gekruis het.

Modelpak is ’n groenteboerdery naby Brits in Noordwes, waar Marais saam met sy vrou, Andri, skoonpa en -ma, mnr. Ockert en me. Hanlie Werner, en swaer en sy vrou, mnr. Ockie en me. Nanri, met ’n wye verskeidenheid groente boer – met nie minder nie as 800 werkers.

Nadat die drie ingenieursbreine Modelpak se probleme uitgepluis het, is die idee vir Agrigistics gebore. Só het hulle hul eerste tree in die landboubedryf geneem. Van daar het hulle nog nie teruggekyk nie. “Agrigistics was ons eerste uitbreiding in die landboubedryf. Ons het ’n eerste prototipe van die sagteware gebou en na Mario gegaan,” sê Geldenhuys.

Hulle het die insigte wat hulle by Modelpak gekry het, dít wat hulle in die mynboubedryf geleer het en ander tegnologie gebruik om ’n eerste prototipe saam te stel.

By Modelpak het hulle ’n beter kykie in die plaaslewe gekry en meer geleer oor die werkers en stukwerk, en wat moet gebeur om die produk van die veld na die pakhuis te kry tot verkope.

Groei horisontaal én vertikaal

Marais, voorheen ’n voedingkundige in die melkbedryf in die Oos-Kaap, en sy vrou het in 2018 na sy skoonpa se plaas getrek. Sy skoonpa is ’n eerstegeslagboer wat self die boerdery tot stand gebring het.

Met sy aankoms op die plaas het Marais sekere gebiede in die boerdery geïdentifiseer waarop verbeter kon word om doeltreffendheid te verbeter. “Deesdae moet jy slim boer en vooruitgaan. Dit beteken nie noodwendig jy moet horisontaal groei en net grond bymekaar maak nie, maar ook om vertikaal te groei en meer presies te boer.”

Marais kon leemtes identifiseer in die kontroles op die plaas waarvoor daar ’n stelsel benodig word wat ’n impak op die omset kon hê.

Wat Modelpak eiesoortig maak, is die verskeidenheid gewasse wat aangeplant word. Daar word ongeveer 18 verskillende gewasse aangeplant, waarbinne daar ongeveer 130-140 verskillende verpakkingslyne in die pakhuis is. “Daar is hier en daar ’n program wat vir ’n tamatie- of rissielyn gebruik kan word, maar daar is geen sagteware beskikbaar wat in so ’n breë spektrum voorsien wat ons kon help nie.

“Die een groot hindernis by Modelpak is die groot verskeidenheid gewasse en verskillende lyne binne die pakhuis. Dit is ’n redelike groot probleem om kop te hou van presies wat gepak is en wie waar betrokke was,” verduidelik Geldenhuys.

Die Modelpak-boerdery is die grootste insetverskaffer vir die stelsel, maar hulle het ook met verskeie ander boerderye saamgewerk. Agrigistics se tegnologie word deur boerderye wat ’n verskeidenheid ander gewasse aanplant, soos kruie naby Hartebeespoortdam, avokado- en neutboerderye in die Laeveld en aartappelboere by Underberg, aangewend.

Van links is mnre. Johan Ferreira, Cilliers Geldenhuys en Luke Kroon, die manne wat Agrigistics ontwikkel het. foto’s: Estée Liebenberg
Mnr. Mario Marais, ’n groenteboer van Modelpak naby Brits, wat groot insae in die ontwikkeling van die stelsel gehad het.

Oorsig oor oesproses

Danksy die stelsel kan ’n hele naspeurbaarheidstelsel van die land tot in die pakhuis opgestel word, wat ’n oorsig oor die oesproses bied.

Die stelsel bestaan uit ’n aanlyn webportaal, wat op die wolk gelaai is. Toegang word bepaal deur ’n administrateur, en die toegang van werknemers word bepaal deur hul rol. Inligting word ingesamel deur ’n Android-handtoestel wat ’n RFID-armband of ’n toestel wat op oppervlakte geplak is, kan lees danksy nabyveld-kommunikasie (NFC).

Die span van Agrigistics het begin om die stelsel te ontwerp deur die werkers in die veld en die stukwerkers te meet om te sien wat hulle in die veld doen en hoeveel daarvan gedoen word. Elke werker kry ’n armband wat aan hom of haar gekoppel word, en ’n voorman meet hul vordering met die handtoestel.

Daarna het hulle die stelsel só ontwerp dat die opbrengs vir ’n spesifieke blok gemeet kan word, deur die kratte tamaties wat ’n spesifieke persoon oes, aan ’n blok te koppel. “Vanuit ’n bestuursoogpunt kan hulle nou sien hoeveel ton van elke gewas in ’n spesifieke area afgehaal is, watter mense daarby betrokke was en hoeveel elkeen gedoen het.”

Daarna het hulle begin om die blokke aan die drywers te koppel wat die produkte van die land na die pakhuis ry. Dit is gedoen deur te meet hoe lank dit hulle vat en hoeveel van die produk in die pakhuis beland. Sodra die drywer by die pakhuis kom, is daar nog ’n voorman met ’n handtoestel wat dit meet.

Hoewel die drywer ook ’n bandjie het, word die drywer nie fisiek gemeet (soos die werkers) nie, maar wel sy interaksies, soos die aflaai van die kratte.

Daarna is die proses in die pakhuis ook ingewerk om die uitpakpersentasie te kan bereken.

“Ons is aanhoudend besig om te verbeter om hulle te help sien watter span byvoorbeeld aan ’n tamatielyn pak en teen watter tempo hulle pak. Al die resultate wat jy daarvan kry, word gekoppel aan dit wat van die land af kom. Nou kan hulle ook bepaal of die produk wat van die land af kom van goeie gehalte is en hoeveel daarvan uitgepak word.”

Aangesien elke bedrywigheid tydens die oesproses waargeneem kan word, kan nou gesien word wie in watter stadium van die proses betrokke is, watter voorman oorhoofs toesig hou, en probleme in die veld kan makliker uitgewys word.

Volgens Geldenhuys het hulle met verdere ondersoek besef daar is nie veel mededinging in die mark beskikbaar vir groentebestuur nie. “Die meeste beskikbare sagteware kyk net na een gewas of sekere boerderyaspekte.”

Kroon sê hulle kon wegspring met die heel nuutste en gebruikersvriendelike tegnologie, wat kompakte handtoestelle met NFC insluit, anders as gevestigde programme wat verouderde tegnologie (in hedendaagse terme) gebruik.

Met alle aksies wat aanlyn aangeteken en beskikbaar is op ’n webwerf, het boere boonop te alle tye en op enige plek toegang tot die inligting.

Global GAP

Agrigistics is gebou en geskoei om die regte inligting vir Global GAP-sertifisering vas te vang. Met intydse inligting wat dadelik aanlyn toeganklik is, kan spesifieke inligting met die druk van ’n knoppie verkry word – selfs vir ’n onaangekondigde besoek van ’n ouditeur, sê Marais.

Die stelsel is ontwerp om aanpasbaar te wees volgens boerderye se eie behoeftes. “Met Agrigistics sit ons om die tafel met ’n voorstel, en binne twee weke is die plan toegepas – al moet daar soms nog verstellings ná die tyd plaasvind,” sê Marais. “Jy kan dit omskep en skryf volgens die spesifieke behoeftes op die plaas.”

“Boere pak die oesproses byvoorbeeld verskillend aan. Sodra ons ’n nuwe aanpassing in die stelsel inbring, bou ons dit altyd dat dit aanpasbaar is, en daar verskeie moontlikhede is om iets te doen,” sê Kroon.

Groot veranderinge

Danksy die metings kan Modelpak nou begin meet watter kultivar die beste produksie-opbrengs het en wat die uitpakpersentasie is. “Om die regte kultivars in die grond te sit, het ’n groot draaipunt in omset gebring. Dit het weer ander uitgawes, soos hoër lone en kragtariewe, geabsorbeer.”

Sedert die stelsel by Modelpak ingestel is, kon die boerdery sy aantal werkers verminder, maar steeds dieselfde produktiwiteit verkry. “Dit het ons gehelp om die probleem van die verhoging in die minimum loon wat in werking gestel is, te oorkom. Met Agrigistics gaan ons dit regkry om ons arbeid produktiewer en doeltreffender te gebruik.”

Dit is ook meetbaar watter persone is die geskikste vir watter opdrag.

Die Android-handtoestel en RFID-armband wat gebruik word om werkers en stukwerkers se werk te meet.

Opbrengs vind ook baat

Die inligting wat ingesamel word, maak dit moontlik om die regte kultivar- en gewaskeuse te maak wat geskik is vir die boerdery se toestande, asook die grondsoort, klimaat en tyd van die jaar in ag neem.

By die tamatielyn alleen is hul produksie-opbrengs tot 30% hoër. “Ons het van die gewasse heeltemal uitgegooi waar ons gedink het ons toon wins. Toe ons begin meet, het ons agtergekom ons verloor geld en moet die lyne sluit. Nou kan ons daardie grond toewys aan ander, winsgewender gewasse,” sê Marais.

Die ekstra geld kan ook nou aangewend vir verbetering aan die boerdery. Hulle is tans besig om te kyk om sonpanele te installeer om hul afhanklikheid van Eskom te omseil.

Volgens Marais is daar egter nog vele geleenthede in sy boerdery waarvoor daar voorsiening gemaak kan word in die program. “Ons vat dit egter eerder stappie vir stappie en doen een ding reg pleks van om aan ’n klomp goed te werk.”

Toekomsgeleenthede

Volgens Ferreira, die derde stigterslid, is dit die ideaal dat Agrigistics uiteindelik soos ’n plaasbedryfstelsel sal funksioneer, amper soos ’n alles-in-een-winkel. “Daarvolgens sal dit moontlik wees om alles te dek waarvolgens boere besluite moet neem om hul plase te bestuur,” sê hy.

“Boere is dikwels oorweldig deur die data. Ons doen alles van ons kant af om data te interpreteer, sodat dit vinnig sal sin maak. Daarby moet die data sy integriteit behou. Dit is goed as jy meet, maar die inligting moet noukeurig wees, anders help dit nie,” sê Kroon.

Marais voeg by dat daar baie papier in ’n intensiewe boerdery vermors kan word. “Die mikpunt is uiteindelik ’n papierlose proses.”

Hoewel die drie ingenieurs van Agrigistics betrokke was by groot bedrywe, soos die mynwese en tegnologie, meen hulle daar lê baie geleenthede vir die ontwikkeling van tegnologie in die Suid-Afrikaanse landboubedryf.

“Die landbou was een van die bedrywe wat die meeste tydens die inperking gegroei het. Toe ons in die mynbedryf en ander bedrywe betrokke was, was daar reeds goeie vordering gemaak met tegnologie, aangesien daar so baie geld daarby betrokke is en daar ’n geruime tyd reeds beleggings daarin gemaak is,” sê Kroon.

“Ons het die behoefte vir tegnologiese ontwikkeling binne die landbou raakgesien. Met die goeie vordering tydens die inperking, meen ons dit is een bedryf wat nie gekeer gaan word nie. Indien dit sleg gaan met die ekonomie, moet mense steeds aanhou eet. Ons meen dit is ’n bedryf wat op lang termyn goed sal vaar.”

NAVRAE: Mnr. Johan Ferreira, e-pos: info@agrigistics.co.za, 072 622 0734.

Vertel ons VAN jou plan! Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.