Mnr. Abie Nel, ’n rekenmeester op Graaff-Reinet, wou met ’n geruste hart by die see gaan vakansie hou en seker maak die beeste op hul familieplaas, Buffels- hoek, het genoeg water tydens die warm somer. Hy het die hulp van ’n kollega, mnr. Kallie Venter, ingeroep om ’n goedkoper alternatief te kry vir ’n duur kamera om ’n oog oor sy vee se drinkwater te hou.

Venter het met ’n eenvoudige plan vorendag gekom om ’n ou selfoon in te span as ekstra oog – teen sowat 12% van die koste van ’n nuwe sekuriteitskamera – sodat Nel sommer op die strand kon seker maak sy beeste het genoeg water. Venter, ’n meganiese ingenieur, het ’n “sagte plekkie” vir elektronika en het nog altyd ’n plan probeer bedink om ’n ou selfoon vir monitering in te span. “Jy kan ’n kamera vir R4 500 koop, maar die meeste boere het ’n ekstra foon met ’n stukkende skerm wat iewers rondlê.”

Mnr. Kallie Venter (links) en Abie Nel is kollegas by ’n hondekosfabriek op Graaff-Reinet.

Ekstra oog (of twee)

Sy elektroniese toesighouer bestaan uit ’n ou selfoon met kameras, ’n selfoontoepassing, ’n sonlaaier en ’n watervlakmeter. Die selfoon se agterste én voorste kamera word gebruik. Die een kamera kyk op die watervlakmeter in die tenks, ook een van Venter se planne, en die ander kamera is op die waterkrippe gerig sodat hy kan sien of en hoe die diere water suip.

Nel kan dan danksy ’n toepassing, Alfred Home Security Camera, die beeldmateriaal van albei kameras afwisselend op die selfoontoepassing op sy foon dophou.

Die watervlakmeter is in die watertenk se oorvloei gemonteer en bestaan uit ’n vlotter wat Venter aan ’n aluminiumgordynreëling vasgeheg het. Die “meter” steek by die oorvloei uit. Dit dui die watervlak op ’n eenvoudige manier aan namate dit styg of daal, sodat Nel maklik deur die toepassing kan sien of hy die pomp moet aanskakel.

Venter het aanvanklik ’n PVC-pyp gebruik as watervlakmeter, maar ’n trop bobbejane het tydens een van hul besoeke die oorspronklike watervlakmeter gebuig. Hy moes iets sterkers soek wat bobbejaanbestand is. Die selfoon en sonpaneel is aan ’n metaalraamwerk op ’n paal gemonteer, op dieselfde hoogte as die watervlakmeter. Die raamwerk is verskuifbaar.

Om die selfoon omgewingsbestand te maak, het Venter die foon tussen twee velle helder polikarbonaat vasgebout. “As dit in ’n staalhokkie gemonteer word, kan die selfoonsein benadeel word.”

Om te verseker dat die toestel waterdig is, het hy ’n O-ring deurgesny en die twee punte aan weerskante van die selfoonlaaier se kabel net voor die USB-punt vasgegom. Hierna is die twee plastiekvelle weerskante van die foon en O-ring vasgebout. Die selfoon is ook onder die sonpaneel gemonteer om oorverhitting deur die son te voorkom.

Die selfoon is permanent aan ’n 20 W-sonpaneel gekoppel. Venter het ’n kragreguleerder daaraan gekoppel sodat die foon slegs die 5 V wat benodig word, gebruik. Aanvanklik is ’n kleiner sonpaneel gebruik, maar dit kon nie genoeg krag voorsien nie. “As dit bewolk is, dan slaap Alfred soggens ’n bietjie, maar meestal is daar genoeg sonlig om die foon te laai.”

Danksy die toepassing kan Nel en Venter ook kyk of die diere water drink.
Die watervlakmeter (agter) is ’n eenvoudige patent wat hulle toelaat om die watervlak van die tenks waar te neem.

programmatuur effens verander

Om die ou slimfoon as sekuriteitskamera aan te wend, het Venter die foon se programmatuur aangepas. “Die nadeel van ou fone is dat die battery nie baie lank hou nie, en jy wil ook nie baie geld aan ’n nuwe een bestee nie.”

Die foon se battery loop dus elke aand af en moet van voor af gelaai word. “Die probleem met fone wat hul krag deur hul USB-punt kry, is dat jy dit self moet optel en aanskakel, nogal ’n probleem wanneer jy die foon van ’n lang afstand af bestuur. Mense is daarom nog huiwerig om fone vir dié doeleinde te gebruik.” Hy het toe ’n program geskryf wat geaktiveer word as die foon in die oggend begin laai. “Pleks daarvan dat die foon se skerm wys dat die battery laai, wag die foon vir 5-10 minute sodat hy ’n bietjie krag van die sonpaneel af kan kry en dan vanself aanskakel.”

Om na die beeldmateriaal te kan kyk, moet albei fone aan dieselfde Gmail-rekening gekoppel word. Dit beteken dat albei fone aan die internet gekoppel word.

Volgens Venter is dit voordelig as die foon binne WiFi-opvangsgebied is, want dan is daar geen ekstra koste nie. Indien nie, moet die foon ’n SIM-kaart hê. Die toepassing gebruik min data omdat dit net geaktiveer word as jy na die toepassing op jou foon kyk en data gebruik word om die beeldmateriaal aan te stuur.

Met die toepassing kan jy onder meer inzoem. Dit het ook ’n bewegingsopsporingsfunksie, wat Venter en Nel al in kennis gestel het dat bobbejane met die watervlakmonitor peuter. “Jy kan ook die selfoon se vordering bekyk, met inligting oor die laaikurwe of hoe vol die battery gelaai is,” sê Venter.

Anders as gewone sekuriteitskameras word die videomateriaal nie gebêre nie, maar daar is ’n opneemopsie indien jy iets wil opneem. Meer as een selfoonkamera kan aan die toepassing gekoppel word. Die toepassing kan gratis vir Android of iOS afgelaai word. “Ander toepassings het soortgelyke funksies, maar Alfred is maklik en werk goed,” sê Venter, wat die stelsel sedert verlede Desember sonder probleme gebruik.

Volgens Nel gee die patent hom nie net ’n geruste hart nie, maar bespaar ook petrol, tyd en instandhoudingskoste aan sy voertuig. Die hele plan het minder as R550 (selfoon uitgesluit) gekos.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.