Dis tydrowend om hekke met die hand oop en toe te maak in ’n land waar die wiele van ’n spilpunt die lyndrade kruis.

Mnr. Zirk Scheepers van die plaas Wonderkop naby Cradock het drie jaar lank planne beraam voor hy vier jaar gelede met die terugwiphekke vorendag gekom het.

Zirk, wat verlede jaar mielies teen ’n verstommende 22,98 t/ha geoes het, sê die meeste boere wat hy ken, stuur ’n werker na die lande waar spilpunte op permanente weidings met kampies is.

“Maar dit beteken die werker moet lang ure in die land deurbring om die hekke in die spoor van die spilpunt oop en toe te maak as dit verbybeweeg. En wat gebeur as daar ’n krag­onderbreking was wat die tydskedule van die spilpunt beïnvloed? Gebeur dit en jy kom weer in die land, is die lyndrade platgetrap en die skape deurmekaar.”

Plattraphekkie

Ná baie dinkwerk het hy die wiphekkies ontwerp. Zirk het met ronde yster die hekkies gesweis en twee vere in die rigting waarvandaan die spilpunt kom aan die bo- en onderkant van die hekkies op die raamwerk vasgesweis. As die spilpunte se wiele daaroor beweeg, gee die hekkie vorentoe mee. Sodra die wiele verby die hekkie is, trek die vere dit op en is die kampie weer afgesluit. 

“Ek het nog nêrens ’n beter plan teëgekom nie. So nou en dan verloor ’n veer sy spanning, daarom hou ek maar altyd ’n paar ekstra vere byderhand.” 

Om te verseker dat die hekkie, wanneer dit vorentoe buig en terugwip, nie skade aan die motor van die spilpunt aanrig nie het Zirk ’n ovaal staalbuis aan die onderpunt van die motor vasgesweis.

Om te keer dat die lammers deurglip, is die kampe met sifdraad omhein.
Die veer van 1,2 meter wat aan die bo- en onderkant van die hek gemonteer is.
Onpretensieus is die moer bo-op die hek waaraan die veer haak.
Die ovaalversterking wat onder die spilpunt se motor gesweis is om dit nie te beskadig as dit deur die valhekkies beweeg nie.
Die lek, waartoe ooie ad lib toegang het,bestaan uit soja-oliekoek, melassemeel, Green Grazer, sout en mieliemeel.
Toegang tot skoon drinkwater is ononderhandelbaar op Wonderkop.
Die kruipvoeding van die lammers bestaan uit verpilde mielies, lusern, melassemeel en Mutton Gainer.
Die posisie van die opslaanhekkies op die land word in dié infografika uitgebeeld.

Kampe

Die land van 10 hektaar bestaan uit 12 kampe wat elk 0,8 ha groot is. Daar is altesame 12 opslaanhekkies in die land en 12 ander wat wyer gemaak is sodat dat die skape en trekkers daardeur kan gaan (sien infografika). Die spilpunt loop (kloksgewys) al in die rondte oor die kampdrade in een rigting. 

Zirk beraam die koste van ’n hekkie en twee vere op sowat R400 stuk. As daar in ag geneem word dat hy nie ’n werker nodig het om die hekkies oop en toe te maak nie, beteken dit dat hy binne die eerste paar maande nadat hy dit opgerig het, die uitgawe teruggekry het. 

Weimengsel

Zirk is vol planne wat ook op ander vertakkings van sy boerdery toegepas word. Die ooie op Wonderkop lam drie keer per jaar, in Oktober, Februarie en Junie, op die lande waar ’n sewe-in-een mengsel (wit- en rooiklawer, langswenkgrasse, een- en meerjarige raaigrasse en Cocksfoot) van Cradock Saad onder spilpunte gevestig is. 

Die mengsels, wat teen 36 kg/ha gevestig word en sowat R2 800/ha (net saad) kos, word begin Maart op ’n goed voorbereide saadbed met stikstof en fosfaatkunsmis gevestig. Die presiese samestelling van die mengsels is aan die hand van grondontledings in Zirk se lande en sy eiesoortige behoeftes gedoen. Die leeftyd van die weiding waar dit goed bestuur word, kan tot meer as 20 jaar wees. 

Samestelling van lek

Sowat 20 lammerooie wei in ’n kampie en soos die lammers groter word, maak Zirk die 

troppe in elke kampie groter. Elk van die kampe word vir 30 dae laat rus om parasiete in bedwang te hou. Die ooie kry ad lib toegang tot ’n lek wat uit soja-oliekoek (430 kg), melassemeel (320 kg) en Green Grazer (320 kg), sout (500 kg) en mieliemeel (2 500 kg) bestaan. 

Die lammers kry deur kruipvoeding toegang tot afrondingspille bestaande uit mielies, 

lusern, melassemeel en Mutton Gainer. Waar Zirk aanvanklik sy eie Merino-ooie geteel het, beoog hy om voortaan eerder jong Merino-ooie in te koop en met Dormerramme te kruis. Hy verkoop die lammers vanaf die ouderdom van vier maande as stoorlammers aan ’n voerkraal wanneer hulle 35 kg weeg. 

Dié boereplan het in Oktober 2015 in Landbouweekblad verskyn. Navrae: Mnr. Zirk Scheepers, sel 082 322 5553, tel. 048 886 0715; e-pos: zirk@cradock.co.za.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.