Wanneer eenjaargewasse soos uiesaad onder drupbesproeiing jaarliks hervestig moet word, is dit lonend om plastieklynbesproeiingspype so netjies moontlik op te rol vir hergebruik.

Mnr. Alewyn Nel van Viskuil, Laingsburg, besproei ’n groot deel van sowat 20 ha uie deur spilpunte, en het ook heelwat uie onder drupbesproeiing. (Sien ook “Van uiesaad tot huisvesting verskans Karoorisiko’s”, LBW, 24-31 Desember 2020).

Plastiekdrupbesproeiingslyne en druppers is duur om te vervang en moet sover moontlik hergebruik word. Die gemiddelde gebruiksduur van so ’n lyn is sowat drie jaar, mits dit versigtig opgerol word.

’n Houttol met netjies opgerolde drupbesproeiingspype. Dit bly so opge­berg totdat dit weer in ’n land uitgerol moet word.

“Dikwels is daar knakke en ander skade as die pyp opgerol word. Ek het ’n paar jaar gelede begin dink aan ’n manier om die gebruiksduur van my besproeiingspype te verleng.”

Eskom het mettertyd heelwat kabels oor sy plaas gespan, en ’n klompie groot houttolle waarop elektriese kabels gedraai was, het op die plaas agtergebly. “Dit het my laat dink: ’n Mens kan mos besproeiingspype veel makliker en met minder moontlike skade om so ’n tol draai as dit aangepas word.”

NUTTIGE Oorskiet

Nel het ’n raamwerk uit ou ysterstukke gebou waarin so ’n groot tol kan pas en wat agteraan ’n trekker koppel.

“Ek het ’n ratkas geneem wat ek vroeër by my steenmakery op die plaas gebruik het, en dit aan die raamwerk vasgesit. Hiermee draai die tol met ’n lang band (waaierband) oor ’n ronde skyf (pulley), wat by die middelpunt aan die kant van die houttol vasgesit is. Die ratkas-houttol het ’n omwenteling-verhouding van 50:1 – met ander woorde, elke 50 keer wat die ratkas draai, draai die tol een keer. Die ratkas werk van die trekker se driepuntstelsel af wat gestel word vir presies die regte werkspoed.

“Wanneer ek die pype oprol, beweeg die trekker teen ’n gemiddelde spoed waarteen ’n mens loop. Werkers kan dus weerskante saamloop en sorg dat die pyp netjies oprol.”

Die ratkas trek die tol deur ’n lang waaierband wat die draaiskyf van die ratkas en ’n draaiskyf wat aan die kant van die tol vas is, verbind. Die omwentelingverhouding is 50:1.

Die raamwerk met die tol word agterop die trekker gekoppel. Só word die plastiekpype van die grond af gelig en draai dit om die wye middelas van die houttol waar dit net so opgerol bly tot dit weer afgerol word vir hergebruik. As pype in ’n nuwe land gelê word, word dit in ’n teenoorgestelde rataksie afgerol.

“Die pype word só min in die proses beskadig dat ek dit agt tot nege jaar lank kan gebruik voor ek dit moet vervang, wat my baie geld bespaar. Boonop het dit my feitlik niks gekos nie. Eskom het die houttolle ‘voorsien’, ek het die ou ratkas gehad en die raamwerk het ek uit yster op die plaas aanmekaar gesweis.” 

Navrae: Mnr. Alewyn Nel, e-pos: Viskuiltrust@gmail.com