Die laaibank is ’n moet op ’n beesplaas. Een wat met gebruikte buitebande gebou is, het verskeie voordele en is boonop goedkoop, sê mnr. Callie Muller van die plaas Roodehoogte, Herbertsdale, naby Mosselbaai in die Suid-Kaap.
Dit kan maklik en vinnig op die regte hoogte gebou word en is veilig om te gebruik. Die materiaal – ou buitebande – is in baie gevalle gratis, die boer moet dit net self by die bandehandelaar gaan haal. Verder is net ’n paar pale, draad en gruis of grond nodig.
Muller sê hy pak die bande opmekaar tot op die hoogte van ’n vragmotor se bakklap met ’n laer gedeelte waar hy met sy bakkie vrag kan op- of aflaai. Die bande en die laaiblad word dan met gruis of grond gevul tot op die regte hoogte.
Om te keer dat die bande beweeg of gly wanneer gewerk word, het hy pale in die gapings tussen die bande geplant en alles met draad aan mekaar geanker. Buiten dat die pale die bande stut en stewig vashou, staan hulle in die ope- ninge tussen die bande en keer dat die beeste beseer word as hulle dalk in een van die gate trap.
MAKLIK VERWYDERBAAR
Op Roodehoogte is die laaibank só gebou dat die vragmotor langs die bank kan staan sodat die vrag of diere aan die kant afgelaai kan word soos in die meeste gevalle gedoen word. Hoewel die ruimte beperk is, kan diere of vrag ook aan die agterkant van die vragmotor op- en afgelaai word op ’n ander gedeelte van die laaibank.
Vir die beheer van die diere word ’n verskuifbare kraal met ’n drukgang bo-op die laaibank geplaas. Dit kan maklik verwyder word as ander vrag as diere gelaai moet word. ’n Stuk ou rubbervervoerband help ook die bande vashou en gee goeie vastrapplek vir die diere omdat hulle dan nie op die gladde klap van die vragmotor loop nie. ’n Laer gedeelte van die laaibank is geskik om met ’n bakkie te gebruik.
By ’n kraal het Muller nog ’n laaibank van buitebande gebou. Dieselfde beginsel is gevolg met die bande wat só gepak word dat dit ’n maklike trap vorm vir die diere om teen op te klim.
Binne-in die bande word pale geplant en met dwarspale verbind om die drukgang te vorm. Ook hierdie bande word met gruis gevul en, waar nodig, geanker sodat dit nie beweeg wanneer die beeste daarop trap nie.
Rubber beskerm voertuig
Een van die voordele van so ’n laaibank is dat dit vinnig gebou en net so vinnig afgebreek kan word as dit nodig is. Dit is nie ’n permanente betonkonstruksie nie en boonop bied die rubberbande ’n goeie vastrapplek vir die diere.
Die bande beskerm in albei gevalle die voertuig, want wanneer dit gebeur dat die bakwerk aan die laaibank raak, is dit teen rubber wat nie die voertuig beskadig nie.
Muller sê hy het gevind dit is veral met die kleiner bande nodig om die band se holte ook met gruis te vul. Dit maak dit swaarder en stewiger en die band verskuif nie so maklik nie.
As melkboer wat weiding plant, besproei Muller uit ’n sytak van die Gouritsrivier. Die sandwalle waar die waterpompe staan, is ook met sandgevulde buitebande gestabiliseer. Bande word gebruik om die pompe waterpas te kry en om die pype te stut.
Muller het gevind die pype lê stewiger op die bande. Op dele van die walle wat rotsagtig is, werk die buitebande net so goed as stut en om pompe stewig te hou.
As die rivier in vloed kom, word die pompe met bande en al makliker verwyder as wanneer betonstrukture gebou is.
KONTAKBESONDERHEDE: Mnr. Callie Muller, 072 444 4023.
Laat hoor asb. van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne met gebruikte buitebande het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier