Dié boereplan het in Oktober 2014 in Landbouweekblad verskyn.

Mnr. Sarel Vorster van Morriston by Elliot het ’n videogreep van sy skaapvangkrat op YouTube gelaai en binne ’n paar dae het meer as 800 mense gewys hulle hou sommer baie daarvan. Een van die opmerkings was: “Dit is nou iets wat jy vir Landbouweekblad se Boereplan-rubriek moet inskryf.” 

En dís presies wat Sarel toe gedoen het. 

Ná sy studies aan die Landboukollege Potchefstroom het hy op ’n plaas in Engeland gaan werk. Daar was hy verstom om te sien met hoe min werkers boere hul dagtake verrig. 

“Omdat ek in die buiteland die meeste van die werk self moes doen en nie die luukse van delegering geken het nie, het ek met my terugkeer na Suid-Afrika op die internet begin navorsing doen hoe ons hier op die plaas ook met minder werkers die dagtake kan doen,” vertel hy. 

Leer Doer Onder

“Omdat skape die hoofvertakking op ons plaas is, het ek veral belang gestel in die Australiese en Nieu-Seelandse stelsels. Op een van die webwerwe het ek gesien dat boere in Nieu-Seeland ’n skaapvanghok het wat met druklug werk en vier skape gelyktydig kan vasdruk. Om te keer dat die skape hulle loswikkel, het hulle ’n tipe Velcro-materiaal aan die sykante van die krat geheg. 

“Dis hoe ek die idee gekry het om ’n skaapvanghok te ontwerp wat ek sommer met my heup kan toedruk en waaraan ek, pleks van Velcro, vier skropborsels op een van die sykante kan monteer” (sien die grafika).

Hy het drie jaar gelede sy eerste prototipe gebou met materiaal wat op die werf was. 

“Intussen het ek dit aangepas om ook skape daarop te weeg deur bloot die weegbalke onder die krat in te skuif. Die knypmeganisme om dit toe te hou, werk op die beginsel van beeskopklampe. Vir die handvatsel het ek sommer ’n ou speenhuls gebruik.”

Dit het hom net R600 uit die sak gejaag. 

Honde sit hand by

Sarel het ook skaaphonde aangeskaf en opgelei. Nou is dit glad nie meer nodig om die skape na die kraal by die huis te bring nie. 

“Ons gaan nou na die skape in die kampe. Terwyl die honde die skape gaan haal, slaan ek en een werker die kraal op.”

Sarel sê die aanloop na die vanghok kan enigiets van 3 m tot 9 m wees. Met jong skape verkies hy ’n lang aanloop. “Maar hoe langer die aanloop, hoe moeiliker is dit vir jou honde om hulle aan te druk. My Kelpies kom bo-op die skape se rûe na my toe aan en gaan onderdeur die skape se bene terug.” 

Die vanghok het drie verstellings om voorsiening te maak vir skape met lang en kort wol en klein lammertjies. Sarel sê hy en net een werker kan maklik tot 300 skape per uur doseer of inent. 

Sy volgende projek is om sy eie kanteltafel te ontwerp vir die skandering van skape wat vir dragtigheid ondersoek word. Hy dink ook aan ’n plan hoe om ysterpale maklik uit die grond te haal sonder dat dit buig. 

Sy pa, Pat, sê dit is wonderlik om so ’n vindingryke seun op die plaas te hê. 

“Sarel het van kleintyd altyd vrae gestel. As hy nie met my verduideliking tevrede was nie, het hy dadelik gesê: ‘Pa, ek het jou ’n goeie vraag gestel, moet my nie ’n swak antwoord gee nie.’ ”