Water is uiters gesog in Namibië en aangrensende waterskaars dele van Suid-Afrika, en boorgatpompdiefstal kom algemeen voor op veral afgeleë plase.

Mnr. Baltie Bierman, wat ’n onderhoud-en-vervaardigingsonderneming op Okahandja bedryf, se plan het ontstaan nadat sy swaer, wat rehabilitasie op boorgate doen, opgemerk het hoe dikwels diefstal voorkom.

Dit het hom aan die dink gesit aan maniere om die pompe te beveilig en seker te maak kwaaddoeners kan nie daarby uitkom nie.

Sommer met die eerste probeerslag kon hy die slotmeganisme uitpluis wat geskik is vir enige soort boorgat met ’n dompelpomp-tipe pomp binne-in die gat. Dit bestaan uit ’n drukring, ’n plaat met verlengstukke en nog ’n plaat wat met swaardiensslotte aan staalstawe geheg word.

Dit is maklik om te installeer en weer uit te haal wanneer dit nodig is.

FOTO 1: Die drukring wat eerste in die boorgat­voering ingaan. FOTO’S: BALTIE BIERMAN

Só werk dit: stap vir stap

Met die eerste stap laat sak jy die drukring ( foto 1 ) ongeveer 300-400 mm in die boorgatvoering. Dit het ’n stelskroef wat met ’n nommer 16-moersleutel vasgedraai word. Die drukring skop dan uit sodat dit baie stewig in die voering vassit. Hierdie drukring weeg ongeveer 960 g.

FOTO 2: ’n Plaat met twee ysterverlengstukke.

In die volgende stap ( foto 2 ) word ’n plaat met twee verlengstukke met twee 10 mm-boute aan die drukring vasgebout. Aan die onderkant van hierdie plaat is ’n oog waaraan die veiligheidstou van die pomp vasgemaak word sodat die pomp nie in die gat kan val wanneer die pyp en kabels aan die bokant van die boorgat afgesny word gedurende ’n diefstalpoging nie. Twee 20 mm-staalstawe word aan dié plaat vasgesweis.

Die derde plaat ( foto 3 ) pas oor die vorige plaat, en dit word met twee swaardiensslotte aan die 20 mm-staalstawe vasgesluit.

FOTO 3: Die derde plaat met ’n oog vir ’n veiligheids­tou.

Daar word ’n spasie in die middelste opening van die staalplate gelaat waaraan die elektriese kabel vasgemaak word.

Hierdie meganisme is gemaak van 10 mm-dik staalplate en is spesifiek ontwerp om in die boorgatvoering te pas sodat kwaaddoeners dit nie kan bykom met ’n saag of boutsnyer nie. Sodoende bly die pomp veilig.

Die totale gewig van die meganisme is ongeveer 3,6 kg sonder die slotte.

Namibië voer staal vanaf Suid-Afrika in en dit verhoog daarom die produksiekoste. Afgesien daarvan kon Bierman dit regkry om produksiekoste te verminder sonder om gehalte in te boet. Hy verkoop dié teendiefstalmeganisme teen N$3 500 tot N$4 000 na gelang van die boorgatvoering se binnemaat.

Bierman raai pompeienaars aan om aanvanklik ’n tou aan die drukring vas te maak totdat die stelskroef ordentlik vasgedraai is om te keer dat dit in die gat afval.

WENKE

Vir verdere veiligheid kan daar ook ’n ronde yster in die boorgatvoering gesweis word waar die drukring inkom om so seker te maak dat boosdoeners die meganisme nie in die gat kan afdwing nie.

Die meganisme is vir die standaardgrootte boorgatvoering met ’n binnemaat van 150 mm (6 duim). Bierman maak ander groottes ook op bestelling.

Kyk hier na ’n video van dié slotmeganismes.

NAVRAE: Mnr. Baltie Bierman, tel. 00264 817 61 2969.