Boere het ’n nuwe hulpmiddel gekry in die oorlog teen jong indringerbome. ’n Boer het ’n meganiese balkspuit ontwerp waarvan die sproeiers deur ’n snellerwerking geaktiveer word om jong bome individueel te bespuit. Die dwarsbalk van die staalbalkspuit met staalarms en sproeiers kan tot op ’n hoogte van 2,5 m oor bome beweeg en maak tot 80% van indringers op die veld dood.

Nie net speel mnr. Johann Els van die plaas Glen Kei by Komga op dié manier klaar met die hardnekkige indringers nie; hy bespaar tot 30% aan gifkoste en arbeid. “Een dag se spuit roei meer bome uit as wat 20 mense met knapsakke kan regkry.”

Sy seun, ook Johann, bestuur die plaas op die oewer van die Keirivier waar hulle met beeste en wild boer. Johann sr., wat ook grondverskuiwings in die omgewing doen en ’n werkswinkel besit, het die balkspuit op dieselfde beginsel gegrond as spuite wat vir onkruidbestryding aangewend word. “Die voordeel van die spuit is dat hy ten volle meganies is en geen elektroniese beheer nodig het nie.”

snellerwerking

Die spuit bestaan uit ’n balk met 18 staalarmpies en 36 sproeiers, sowat 300 mm van mekaar af daarop, wat aan ’n 5 000 liter-giftenk op ’n wa gekoppel is. Die sproeiers is aan ’n arm gekoppel wat teruggedruk en deur ’n snellerwerking geaktiveer word soos die spuit oor die jong boompies beweeg.

Mnr. Ronnie Baartman, een van Johann se werk­nemers, demonstreer hoe die oplig van die arm die spuit aktiveer.

“As die balkspuit oor die boom beweeg, raak die armpie aan die boom, wat die arm opdruk, die kraan oopdruk en gif op die boom spuit. Daarna val die arm terug, die kraan gaan toe en geen gif word verder vermors nie,” sê Johann. Die spuit se druk kom van ’n sentrifugale pomp, wat deur ’n hidrouliese motor aangedryf word.

Die arm en spuit is aan mekaar gekoppel en word individueel geaktiveer soos die balk oor die bome beweeg.

Die motor is aan die trekker se hidrouliese koppeling gekoppel. Die operateur kan die pomp vanuit die kajuit aan- en afskakel. ’n Hidrouliese silinder pas die hoogte van die dwarsbalk tot hoogstens 2,5 m aan. Dit word ook vanaf die trekker beheer. Met die kantarms oopgeswaai, is die hele balk 10 m wyd.

“Die kantarms swaai na binne om vervoer te vergemaklik. Dan is die balk sowat 4 m wyd.” Die tenk het ’n klein terugvloei van die pomp af om te verseker die gif bly gemeng. Daar is ook ’n klein varswatertenk op die wa sodat die stelsel ná die tyd met skoon water uitgespoel kan word. “Dit verseker dat die operateur nie aan die gif blootgestel word nie.”

As die tenk vol gif is, weeg die spuit sowat 6,5 ton. ’n Trekker wat daardie gewig kan trek, sal gebruik moet word. Op meer heuwelagtige terrein is ’n groter trekker nodig.

Groot besparing

“Jy bespaar eerstens baie aan arbeid en tweedens aan gifkoste, want jy hoef nie meer aaneen te spuit nie. Ek meen jy verrig meer op een dag as wat 20 mense met knapsakke kan regkry,” sê Johann. Nog ’n voordeel is dat operateurs beveilig word. “As jy met gif werk, is daar baie riglyne van toepassing.

Dit behels handskoene, beskermende klere, gesigskerms en maskers. Al wat op die trekker nodig is, is ’n filter in die kajuit wat die lug suiwer.” Hy sê boonop kan hy nou ’n gif gebruik wat “alles doodmaak” aangesien net die boom gespuit word. Dié soort gif is aansienlik goedkoper. “Jy kry tog ’n bietjie skade op die gras, veral as daar ’n bietjie wind is.

Daarom moet jy verkieslik op ’n windstil dag spuit.” Johann gebruik nou breëspektrum- (of nie-selektiewe) plantdoders, soos Touchdown Forte (reg.nr. L7305 , Wet 36 van 1947) en Roundup (reg.nr. L0407). Vir aaneen spuit moes hy duurder plantdoders gebruik, soos Browser (reg.nr. L7357) en Brush-off (reg.nr. L4535), wat spesifiek vir breëblaaronkruid geformuleer is.

Johann het die balkspuit met verskeie proeflopies getoets. In een gebied waar hy drie maande gelede gespuit het, is sowat 80% van die bome uitgeroei. “Gif bly maar die enigste manier om die jong indringerbome te beveg. Nog ’n manier om van die bome ontslae te raak, is om die bome af te kap en met gif te bespuit, maar dit is duur en verg baie tyd en arbeid.”

Wenke

Dit is ongelukkig nie moontlik om tussen bome te onderskei nie. Die gif maak enige bome dood. “Jy moet dus eers die gebied wat jy behandel, mooi ondersoek. As jy sien dit is net doringbome kan jy maar die gebied met die spuit behandel,” sê Johann. Hy sê dat inheemse bome gewoonlik sowat 4 m tot 5 m hoog is.

“Omdat die balkspuit net tot op ’n hoogte van 2,5 m kan spuit, word net jong indringerboompies bespuit.” Johann beveel aan dat jy die gebied ná behandeling dop hou. “Loop twee weke ná behandeling deur die gebied en takel boompies wat nie gevrek het nie. Dan kan jy met knapsakke daardeur gaan en die boompies bespuit, of afkap en bespuit.”

Die balk is 10 m lank, maar dit kan aangepas word volgens die terrein.

Grootliks van skroot gemaak

Johann het die voordeel dat hy baie skrootyster in sy werkswinkel het waarmee hy van sy werktuie kan bou. Die dele wat hy moes aankoop, was die ronde staal, spuitkoppe en die watertenk wat op die waentjie gemonteer is. Hy sê as iemand self so iets beplan, kan die lengte van die balk volgens die terrein aangepas word.

“ ’n Wyer balk kan vir ’n plat gebied gebruik word en die balk kan korter gemaak word as die terrein heuwelagtiger is.” Dié nutsmanboer sit egter nie stil nie. “Ek werk aan nog maniere om indringerplante te beveg, maar dié planne is nog net in ’n konsepfase . . .”

Mnr. Johann Els.

Hardnekkige probleemplante

Indringerplante, soos lantana (Lantana camara), Australiese swartwattel (Acacia mearnsii) en selfs die Suid-Afrikaanse soetdoring (Vachellia karroo), versprei soos onkruid langs die kus en binneland van die Oos-Kaap. Pogings om die indringers meganies en biologies te bekamp, is in die meeste gevalle onsuksesvol.

Dit is jong soetdorings soos hierdie wat groot probleme vir veeboere veroorsaak.

Chemiese bestryding is baie duur. “Ek het ’n hengse probleem met hierdie bome en sit letterlik ure lank en planne beraam om dit uit te roei,” sê mnr. Johann Els. “As jy ’n bossiekapper gebruik, vererger jy die probleem. Dit lyk aanvanklik goed, maar volgende jaar lyk dit net so erg.” Boonop is lantana giftig. As diere die plant vreet, vrek hulle.

“In ’n kwaai droogte is die lantana groen en dan wil die beeste die groenigheid eet. Daar is niks wat jy kan doen as ’n bees dit reeds gevreet het nie,” sê hy. “Die balkspuit is die eerste plan wat ons doeltreffend kon aanwend.”

Navrae: Mnr. Johann Els, e-pos: johannfels@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.