Veeboere, veral in die Wes-Kaap, weet dit kan ’n probleem wees om veelekkorrels in die nat wintermaande uit die modder te hou sodat skape sonder vermorsing kan vreet.

Mnr. Boeta Wessels van die plaas Karsrivier by Bredasdorp het deur die jare ook dié probleem ondervind om lekke aan sy Dohne-Merino’s in die veld te gee. Hy het ’n Dohne-Merinostoetery en ’n groot kommersiële kudde wat saam meer as 3 000 ooie is.

Omdat skaaplekke ’n belangrike deel van sy voedingsprogram is, het Wessels ’n plan beraam om skade en vermorsing op ’n goedkoop en maklike manier te verminder. Wanneer lekke in los houers in die veld geplaas word en nie in vreettrôe nie, keer die skape dit maklik om wanneer hulle saamdrom om te vreet. Vermorsing is aan die orde van die dag, veral in modderige toestande.

Hier kan gesien word hoe stewig die deurgesnyde houerhelftes in die staalraam pas, sonder dat hulle enigsins op ’n ander manier daaraan geheg word. regs: Mnr. Boeta

Wessels het jare lank spoorelementvoeding vir sy skape in 20 liter-plastiekhouers ontvang. Hy het altyd daarvan ontslae geraak saam met die plastiek-gifkanne. Die gifmaatskappye het ’n stelsel waardeur gifkanne op ’n gereelde basis op plase gehaal en hersirkuleer word.

Hy het weer aan die spoorelementhouers gedink en gewonder of hy dit nie middeldeur kan sny en die lekkorrels daarin in die veld kan plaas nie. Dit sou egter nie deug om die bakke vol lekkorrels een-een neer te sit nie, want die skape sou dit omkeer en mekaar verdring.

RAAMWERK

Wessels het toe van die houers middeldeur gesny en die helftes langs mekaar aan ’n houtraamwerk vasgekap, wat weer in ’n ysterraamwerk gepas het sodat hulle in ’n vaste posisie kon bly. Dit het heel goed gewerk, maar omdat die plastiekbakke deur die son, wind en weer verrinneweer is en vervang moes word, was dit nogal ’n proses om die stukkende helftes uit die houtraamwerk los te maak. Dikwels het die houtraamwerk self in die proses gebreek.

“Daar moes ’n makliker manier wees om die stukkende helftes te vervang. Ek het gedink as ek die houtgedeelte heeltemal kan uitskakel en met ’n ysterraamwerk vervang waarin die helftes lekker styf inskuif, gaan dit veel makliker wees.”

Mnr. Boeta Wessels met ’n vag van sy Dohne-Merinowol, wat ’n gemiddelde sterkte van 18,6 tot 18,9 is.

Wessels het die lengte van die deurgesnyde houers presies gemeet, en ’n ysterraamwerk gebou waarin die helftes lekker styf inskuif en nie deur die skape geroer kan word terwyl hulle daaruit vreet nie. Die yster moes gegalvaniseerd wees, het hy besluit, omdat die nat weer en die feit dat die plaas nie ver van die see geleë is nie, gewone yster sou laat roes.

Hy het ’n nuwe raamwerk aanmekaar gesweis waarin die houers weerskante gestut word en styf inpas sonder dat dit nodig is om dit vas te kap. Die raamwerk is op pote gemonteer wat sowat 500 mm hoog is – die ideale hoogte vir ’n Dohne-Merino om te vreet. Die lengte van die raamwerk is sowat 3 m, en tien houerhelftes pas styf langs mekaar daarin. Die breedte is sowat 450 mm.

“Die beste is dat indien ’n bak êrens in die middel van die raamwerk vervang moet word, word dit bloot skuins gebuig en uitgedruk. Die nuwe plastiekhelfte wat in sy plek kom, word ook skuins gebuig en in die oop plek ingedruk, waar dit weer in sy normale vorm ‘terugspring’ sonder dat dit enige van die bakke aan weerskante raak.”

Die staalraam stut die vreetbakke onder en bo. Die yster­struktuur se pote is sowat 500 mm hoog – die ideale hoogte vir ’n skaap om te vreet – en is sowat 3 m lank.

Wessels het reeds talle – “seker meer as 30” – raamwerke gebou waarin die deurgesnyde houers met lekkorrels inpas. Dit word oral in die kampe waar die skape loop naby waterdrinkpunte geplaas.

“Tot 30 ooie kan op ’n slag aan weerskante van so ’n struktuur vreet sonder om mekaar te verdring en sonder dat die bakke se posisie versteur en lekkorrels vermors word.

“Ek het gevind so ’n plastiekbak hou gemiddeld drie jaar, waarna die plastiek begin bros raak van die son en weer. Om dit te vervang, duur net ’n paar sekondes.”

Wat kos dit Wessels om sulke lekkorrel-bakraamwerke te maak? “Die gegalvaniseerde yster kos sowat R250 vir een raamwerk. Die bakke is gratis, want ’n mens betaal mos net vir die inhoud van die plastiekhouer.” Hy doen self die sweiswerk.

Wessels gebruik glad nie kanne waarin gifstowwe was nie – dit word steeds deur die maatskappye teruggeneem. Benewens die veiligheidsoorwegings het hy gevind van die plastiek-gifstofkanne is dikwels te sag en buigbaar en sal dus nie stewig in die raamwerk vassit nie.

* Lees in die volgende uitgawe van Wessels se voerplan om baie meer skape per hektaar te kan aanhou. 

NAVRAE: Mnr. Boeta Wessels, 082 927 8320.
Vertel ons van JOU plan!

Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.