Die storie begin sowat ses jaar gelede toe mnr. CD du Toit na mnr. Odendaal Koen is met ’n “idee vir ’n strooier wat op sy plaas kan werk,” vertel Koen.

Dele van Du Toit se plaas, Lanquedoc, tussen Albertinia en Riversdal, is hoog geleë. Van die landerye lê dus teen steil hellings, wat strooiers se werking en vermoë om ’n groot volume te strooi, bemoeilik.

“ ’n Mens kan sê CD het die blueprint vir die strooier in sy kop gehad,” vertel Koen. “Ons het toe die strooier begin bou. Dan gaan toets CD hom, kom terug met voorstelle, ons maak veranderinge, en ná omtrent 18 maande was die strooier klaar. Dit is dieselfde een waarmee hy nou nog strooi,” sê Koen, wat voorheen slegs op aanvraag masjinerie vervaardig het. Deesdae bou hy strooiers wat onmiddellik ná produksie te koop is, om die wagperiode uit te skakel of te verkort.

Mnre. Odendaal Koen (links) en CD du Toit, die ontwikkelaars van die strooier.

HOE LYK DIE PERFEKTE STROOIER?

Buiten die vereiste dat die werktuig groot volumes op hellings moet kan strooi, wou Du Toit ’n veeldoelige strooier hê wat alle soorte kalk, asook mis kan strooi. Hy wou ook nie ’n ratkas in die strooier hê nie omdat dié komponent dikwels nie lank hou nie. Die gevolg is vertragings en duur herstelkoste.

Omdat Du Toit en Koen se strooier sonder ’n ratkas moet klaarkom, benodig dit ’n kragtige motor. Dit het dus ’n hidrouliese een van 750 cm3 – met ’n 50 mm-as – aangedryf deur die trekker se hidrouliese stelsel. Die strooier het ’n rekenaarmodule wat instruksies vanaf ’n digitale beheerpaneel in die trekker se kajuit ontvang.

“Wat die strooier anders maak, is dat hy wringkrag van die hidrouliese motor direk na die ketting gelei. Ons rat hom wel af na 30 omwentelings per minuut, maar dis al,” verduidelik Du Toit.

Hy vergelyk die Albertinia-strooier met ander tipes: “Hul ratkaste se uitset in Newton-meter (Nm) is sowat 150, teenoor dié een se 1 500. ’n Gewone strooier word gewoonlik toegerus met ’n 200 cm3- hidrouliese motor en ’n ratkas,” sê hy.

Die Albertinia-strooier se fris motor dryf ook die spinners (strooiwiele) aan wat die kalk of mis strooi. Terwyl Du Toit die motor se werking verduidelik, kry Koen ’n oproep van ’n boer wie se strooier – van ’n ander fabrikant – ’n groot ratkasprobleem ontwikkel het. “So ’n ratkas kos maklik R35 000,” sê hy, terwyl hy sy foon bêre. Dié boer moet nou besluit of hy ’n nuwe ratkas gaan insit of ’n strooier by Koen gaan koop.

Die beheersentrum in die John Deere-trekker se kajuit vertoon inligting omtrent die strooier, en laat verstellings toe.

VEELDOELIG EN MAKLIK OM TE HERSTEL

Om die tollende strooiwiele met mis of kalk te voorsien, het die Albertinia-strooier drie vervoerbande, of “kettings”, soos Koen en Du Toit daarna verwys. Dit is in teenstelling met ander strooiers wat gewoonlik een of twee kettings het. ’n Enkelketting breek redelik maklik omdat dit al die volume alleen moet dra.

Maar soms werk twee kettings beter as drie. Om die middelste ketting vry te laat loop, terwyl die wat links en regs is kalk voer, het Du Toit ’n eenvoudig maar doeltreffende oplossing bedink. Twee langwerpige metaalplate is in die lengte aan mekaar geheg om ’n kegel te vorm wat aan ’n huisdak se nok herinner, of ’n staaf Toblerone-sjokolade. Wanneer dit in die strooier ingeskuif word, staan dit wydsbeen oor die middelste ketting. Dit keer dat die kalk se gewig te veel las op die kettings plaas en daardeur meganiese spanning veroorsaak.

Verder sorg dit dat die kalk nie aan die een kant van die strooier ophoop wanneer dit dwars teen ’n skuinste gesleep word nie. In so ’n geval sou die een spinner geen skietgoed gekry het nie. Die piramiedvormige staalkegel stel die boer dus in staat om ’n groter volume in te kry, en dit met meer akkuraatheid uit te strooi.

Wanneer kalk gestrooi word, werk net die buitenste twee kettings.
Die piramide (kegel) wat oor die middelste ketting staan, word los- gemaak voor dit uitgeskuif word sodat ál drie kettings mis kan strooi.
Die strooier is gereed om mis te strooi.

Veeldoeligheid was ook op Du Toit se wenslys, en hier speel die werktuig se vermoë om met twee of drie kettings te voer, weer ’n rol. Twee voerbande is geskik vir kalk, maar vir mis werk drie bande beter.

Du Toit sê hy strooi organiese hoendermis op die plaas, sodat hy nie chemiese kunsmis hoef toe te dien nie. Selfs wanneer die mis “sopnat” is, is daar min verstopping.

Die feit dat die Albertinia-strooier nie ’n ratkas het nie, is sy behoud. “Jy kan hom ’n Afrika-strooier of ’n boere-strooier noem, want hy’s teen hardhandigheid bestand,” sê Du Toit.

“Verder is die onderdele goedkoop en algemeen verkrygbaar. Dit is nie nodig om dit van ’n spesifieke vervaardiger te bestel nie. Ek kan ’n hele stel onderdele, wat nie duur is nie, vir ’n koper saamgee. Hy sal die strooier in Zambië kan diens, sonder ’n agentskap. Eienaars is nie bang om self herstelwerk aan ons strooiers te doen nie,” sê Koen.

“Daar’s baie min slytasie, en as daar is, kan ’n mens dit sien,” voeg Du Toit by.

Mnr. CD du Toit laai die strooier met mis wat gestrooi gaan word.

TEVREDE EIENAARS

Mnr. Jacques Hattingh, ’n boer en saaikontrakteur in die Oos-Vrystaat, sê hy’s beïndruk met die Albertinia-strooier, veral nadat hy aanvanklik ’n ander model van ’n verskaffer in die streek wou koop.

“Ek moes drie maande wag, en toe dit eindelik by my aankom, was die werktuig nog nie klaar nie,” sê Hattingh. “Ek het toe op ’n Vrydag vir Odendaal gebel, en Sondagmiddag was die strooier by my op Bethlehem.”

’n Kenmerk van die Albertinia-strooier wat groot byval by Hattingh vind, is dat daar twee uitlate is (en nie net een nie) wat die kalk of mis reg in die middel van elke spinner laat val. “Daarom is die verspreiding reg rondom baie beter,” sê Hattingh.

Ander kenmerke maak hom ook baie tevrede met die masjien. “Die strooier is baie sterk gebou. Jy sukkel nie met krake nie, en hy vereis nie onderhoud terwyl jy werk nie.”

Hattingh sê hy het 2 000 ha gestrooi kort nadat hy die werktuig ontvang het, en dit was nie nodig om ’n enkele onderdeel te vervang nie. “Die laers is beskut teen die kalk, daarom beland daar nie stof tussen hulle nie.”

Die strooier se kalibrasieproses, om by die kalk wat toegedien word se eienskappe aan te pas, is die maklikste wat hy nog ervaar het, sê Hattingh. “Odendaal was nie seker of die strooier kunsmis kan strooi nie, toe verras ons hom deur dit te doen,” voeg hy laggend by.

Die strooier strooi mis doeltreffend, al moet die werktuig teen ’n helling werk.

Mnr. Pieter de Jager boer ook naby Albertinia met kleingraan en vee. Hy beskryf Koen en Du Toit se strooier as “eenvoudig, maar robuus”.

“Daar’s nie onnodige fieterjasies nie. Dié strooier doen alles wat ek van hom verwag, met presisie. Dit is ook een van min strooiers wat boonop doeltreffend mis kan strooi. Daar’s niks wat ek sou verander nie. Jy kan ook sien Odendaal is trots op sy vakmanskap, byvoorbeeld in die gehalte van die verfwerk op die masjien.”

Die strooier is in twee groottes beskikbaar: Die AI 50 se kapasiteit is 5 m3 en die AI 135 s’n is 13,7 m3. Die AI 50 kos R598 000 en die AI 135 R747 500.

Navrae: Web: albertiniaing.co.za; mnr. Odendaal Koen, 082 306 0635.