Wanneer dit droog is, soos dit die afgelope paar jaar gereeld in die Overberg was, haal mnr. Boeta Wessels van die plaas Karsrivier, Bredasdorp, van sy ooie en ramme uit die groot kampe, sit hulle in van die voerkampies wat hy gereed het, en voer hulle daar in die droogste maande van die jaar sodat hulle kondisie behou.

“Dit is soveel makliker as om my hele plaas plat te ry en ramme en ooie oral te moet voer.”

Wessels het ’n Dohne-Merinostoetery, asook ’n kommersiële kudde – altesaam sowat 3 000 ooie. Hy het op die gedagte van spesiale klein en toegeruste voerkampies gekom toe hy soos gewoonlik voer oor sy hele plaas moes aanry vir sy diere.

“Ek het besef dit sou veel makliker wees as ek my ooie naby mekaar kan hou en daar vir hulle kos gee, pleks daarvan om kilometers kruis en dwars oor die plaas te moet ry om oral voer, kuilvoer, strooi of lekke af te laai,” sê Wessels.

Een van die kampies vanuit sy een hoek afgeneem. Die 25 voerkampies is gemiddeld 100 m x 100 m groot. Ekstra strooi word vir die skape in die kampies gegooi om te vreet. Deur strooi in die kampies te gee, word die risiko van onkruidverspreiding op die plaas tot die minimum beperk.

Wessels het besluit om ’n aantal klein kampies – 25 bestaan reeds op sy plaas – op ’n paar sentrale punte op sy grond te span waarin hy ooie en ramme kan plaas om gevoer te word, hetsy dit in droogtetye is of bloot wanneer hy ’n ekstra klompie diere het, byvoorbeeld skape wat hy gereed maak om bemark te word of droë ooie wat hy tydelik wil huisves sonder om op sy aangeplante weiding of op sy stoppellande te loop.

Só kon hy die drakrag van sy plaas drasties verhoog sonder om enige regulasie of wet te oortree. “Dit stel my in staat om op ’n ietwat kunsmatige manier baie meer ooie en ramme aan te hou sonder dat my stoppellande, aangeplante weiding of natuurlike weiding enigsins daaronder ly.

“Een groot voordeel is wanneer ek hulle in die kampies voer en nie oral op my plaas nie, versprei onkruid wat in die hooibale kan voorkom, nie oor die hele plaas nie.

“Geen vertrapping of verdigting kom op plekke oral op die plaas voor soos as skape op stoppellande of aangeplante weiding bykomende voer moes vreet nie. En natuurlik bevoordeel dit die ooie ook deurdat hulle nie energie hoef te gebruik om langer afstande te loop om te vreet nie.

“Dit is eenvoudig soveel makliker om voer- en weidingsbestuur op dié manier toe te pas wanneer nodig.”

Die lang vreettrog waaruit die skape in die voerkampie vreet. Dit beslaan die hele lengte van die kampie om verdrukking en vertrapping te voorkom. Die skape steek hul kop en nek deur  die opening en kom die lekkorrels en ander voer maklik by.
Die lang voertrôe se vloere word met maklik verwyderbare skadunet uitgelê. Hier lig mnr. Boeta Wessels ’n deel van die skadunetvloer in ’n trog op.

’n Reusebesparing aan brandstof word ook teweeggebring deurdat die diere op sentrale punte gevoer word. “Ek het my brandstofkoste om voer rond te ry en af te laai op die plase van meer as 2 300 ha met minstens 60% besnoei.”

GOED TOEGERUS

Die voerkampies wissel in grootte, maar is gemiddeld 100 m x 100 m groot, elk met waterkrippe en ’n vreetplek.

Die kuilvoer, strooi en lekkorrels word aan die buitekant in ’n lang voertrog wat oor die hele een lengte van ’n kampie strek, geplaas op ’n hoogte wat ideaal is vir die diere om te vreet. Elke kampie se voertrog word uitgevoer met skadunet wat die kos binnehou, maar maklik vervangbaar is. Die kant van die kampie waar die voertrog is, het ’n openingspleet wat hoog genoeg is sodat die ooie hul kop en nek daardeur kan druk om te vreet. Die hele sowat 100 m van ’n kampie is dus beskikbaar om te vreet en geen verdrukking vind plaas nie.

“Ek hou tot 100 skape per kampie vir een tot twee maande aan na gelang van die toestande. As die natuurlike toestande verbeter, gaan die skape weer uit na die gewone weiding.

“Ook wanneer ek groepe diere markgereed wil kry, plaas ek hulle in die kampe. Met die 25 voerkampies wat ek tans op die plaas het, kan ek dus tot 2 500 skape aanhou – wat nie andersins moontlik sou wees nie.”

Die strooibale en kuilvoer langs ’n ry van die voerkampies. Deur die voer só naby en gekonsentreerd by die kampies aan te hou en aan die diere te gee, word baie brandstof bespaar teenoor om dit oral op die plaas in kampe waar skape wei, af te laai. Die skape gebruik ook baie minder energie om te beweeg en te vreet, wat hul kondisie in swak tye baie aanhelp.

Elke kampie is omhein met ’n veldspandraad van 1,2 m hoog. Die draad is stewig en dig, en hou selfs klein lammers binne. In die meeste van die kampies het Wessels ook afdakskuilings aangebring, wat veral belangrik is in warm toestande.

Hoeveel kos dit om so ’n voerkampie te bou?

Wessels sê dit wissel ietwat van kampie tot kampie, maar hy reken gemiddeld kos elke kampie sowat R13 000 om te bou en toe te rus – wat alles insluit van arbeid tot waterkrippe, voertrôe en afdakskuilings.

“Maar bloot danksy my brandstofrekening wat só gekrimp het, is die koste baie gou verhaal. As al die baie ander voordele bygebring word, is die voerkampies deur en deur die moeite werd.”

As dit nodig is, sal hy nóg sulke voerkampe bou, sê Wessels. 

NAVRAE: Mnr. Boeta Wessels, 082 927 8320.

Vertel ons VAN jou plan!

Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.