Om twee keer per week ’n ton kragvoer vir Dormerskape te meng, was ’n rugknaktaak op die plaas Sanctuary naby Cradock.

Mnr. Erich Cloete, wat al boereplanne ván ’n snyroller tot ’n maklike onkruidbestrydingsplan met plastiekseile bedink het, sê dié tydrowende taak en hoë arbeidskoste het hom gedwing om ’n kragvoermenger te ontwerp en te bou wat die taak nou binne 10 minute kan afhandel.

Volgens Cloete het hy self die planne vir die menger opgestel. “Ek het maar met my oë gesteel soos ek rondbeweeg het.”

Die menger se ontwerp is geskoei op die beginsel van voermengers wat agter ’n trekker gesleep word om diere op lande te voer. “Ek hou egter van spoed en het besluit om die spoed waarteen dit meng aan te pas sodat ’n mens die taak vinniger kan klaarkry.”

Die menger bestaan uit ’n staalbak van 1,2 meter wyd en 1,8 meter breed. Die onderkant van die bak is gerond, en van die laagste punt is die bak 1,5 meter diep. In teenstelling met 3 mm-staal waarvan gewone staalbakke gebou word, het Cloete 5 mm-staal gebruik vir duursaamheid.

Die voer word gemeng met spane aan ’n roterende as, wat deur ’n 5,5 kW-motor aangedryf word. Cloete het die spane teen ’n hoek van 45 grade teenoor die as aan die arms vasgesweis. Die spane is ook teen dieselfde ronding as dié van die onderkant van die bak gebuig.

Volgens Cloete is hy veral beïndruk met hoe leeg die bak is ná die voer gemeng is danksy die hoek waarteen die spane aangebring is.

“Daar is minimale vermorsing, aangesien die menger alles uitstoot wanneer jy hom leegtap. Daar is wel ’n bietjie stof, maar die menger kan toegebou word.”

Die spane is elk 600 mm lank, maar Cloete sê as hy dit weer moet bou, sal hy die spaanlengte tot 400 mm verminder om die wringkrag te verhoog.

Spane is aan ’n roterende as aangebring om die voer so diep en deeglik as moontlik in die halfronde bak te meng.
Danksy die valdeur is dit maklik om die 50 kg-sakke vol te maak en die vloei van die voer te beheer.

MENG VINNIG

Al die bestanddele vir die kragvoer word bo ingevoer, waarna die menger dit binne minute deeglik meng. Die gemengde voer word deur ’n valdeur aan die onderkant van die menger uitgetap in 50 kg-sakke. Die opening kan maklik oop en toe gemaak word met ’n sluitmeganisme.

Cloete het die valdeur se posisie teen die ronding van die menger só beplan dat dit maklik is om langs die menger te staan om die voer in sakke op te vang, en sodat soveel moontlik voer uit die menger val.

Volgens Cloete kan die bak nagenoeg een ton kragvoer met gemak hanteer. Die menger is so gebou dat hy in die toekoms lusern sal kan meng. Hoewel lusern meer spasie sal inneem, het hy die rante van die menger hoog genoeg beplan.

Cloete sê die menger gebruik “minimale krag”. Die 5,5 kW- elektriese motor waarmee die menger aangedryf word, is aan ’n ratkas gekoppel wat die spoed van die motor ongeveer vier en ’n half keer afbring. Die motor word teen 750 omwentelinge per minuut aangedryf. Die menger kan tans nie rondgeskuif word nie, aangesien dit elektrisiteit gebruik.

“Dit kan ook aan die kragaftakker van ’n trekker gekoppel word.”

Die menger kan toegebou word as stof ’n probleem raak. FOTO’S: FREDALETTE UYS
Volgens Cloete sal hy volgende keer die ratkas en motor aan mekaar koppel vir beter werking.

PRESISIESNYWERK

Volgens Cloete het hy die verskillende staalonderdele deur Steel Cut in Port Elizabeth laat sny. Die onderdele is met ’n laser gesny volgens sy voorskrifte. “Die akkuraatheid van die presisiesnywerk het dit veral maklik gemaak om die menger aanmekaar te sit.”

Hy het die as waaraan die spane vasgesweis is deur Robbie Deyzel se ingenieursonderneming op Cradock laat draai. Die sweiswerk is hoofsaaklik deur een van sy eie werkers, mnr. Elvis (Mannetjie) Botha, gedoen, en volgens Cloete het Botha homself baie goed van sy taak gekwyt.

“Ek het maar net verduidelik wat hy moet doen, of ons het die dele aan mekaar gepunt- sweis, en dan het hy op sy eie aangegaan met die werk.”

Alles ingesluit het die menger ongeveer R40 000 tot R45 000 gekos om te bou. Volgens Cloete was die goedkoopste kwotasie wat hy kon kry vir soortgelyke mengers sowat R180 000.

NAVRAE: Mnr. Wessel Cloete, e-pos: wessel@goldsuite.com.au; sel 082 821 3254. Webwerf: www.sanctuary-farm.com; e-pos: infosanctuaryfarm@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.