Om ’n paar duisend skape in ’n intensiewe skaapstelsel te voer, is duur, maar ’n aangepaste wa wat 3 ton los korrels kan dra en in een rit – met een arbeider – tien of meer voerbakke kan volmaak, het ’n reusebesparing meegebring.

Mnr. Jan Wessels van Onderplaas, Heidelberg (Wes-Kaap), en sy broers, Johann en Jurie, vertel hul Waplaas-boerdery het op enige tydstip sowat 2 000 tot 3 000 kommersiële SA Vleismerino- en Ile de France-ooie. Die skape loop in verskillende kampe op hul grond van altesaam bykans 1 400 ha. “Ons het nooit ons eie voer gemeng nie, maar altyd voerkorrels gekoop.

Om klaar verpakte korrels in 50 kg-sakke te koop, werk egter aansienlik duurder uit as om dit los aan te koop. Die grootste rede waarom ons nie losmaatvoerkorrels gekoop het nie, is omdat dit ’n arbeidsintensiewe operasie sou wees om dit reg oor die plaas in die skape se voerkrippe te kry.

Mnr. Johann Wessels by een van die talle voerkrippe op die plaas wat met die korrelwa gevul kan word. Net een mens is nodig om die hele aksie uit te voer — van die bestuur van die bakkie of trekker tot om die voerkrip te vul.

’n Hele paar werkers sou nodig wees, en arbeid was dikwels nie geredelik beskikbaar nie,” sê Jan. Daarom het hulle maar die duurder, klaar verpakte korrels gekoop – tot op ’n dag ’n paar jaar gelede.

“My pa, oorlede Jurie Wessels, en ons broers het begin gesels oor hoe duur voerkorrels word en dat dit beslis lonender sal wees om dit in los maat te koop. Koste het ’n al hoe groter faktor geword.”

Weergawe 1: Waentjie met voerbak en ooikarweier

“Ons het koppe bymekaar gesit en ’n waentjie waarop korrels vervoer kon word, begin ontwerp. Omdat ooie wat moes lam of iets makeer uit die kampe gebring moes word, is die eerste dubbelwiel-prototipe ontwerp as ’n waentjie met ’n voerbak wat 1,5 ton voerkorrels kon hou, asook ’n ooi of drie kon vervoer.

“Omdat die plase ons maar besig hou, het ons die tekeninge na ’n ingenieursonderneming op Albertinia geneem, en hulle het die waentjie gebou,” sê Jan.

Die awegaar in een van die tenks waar-mee die voerpille na buite gevoer word en dan met ’n pyp tot in die ooie se voerkrippe “gepomp” word.

“Die bak word volgemaak uit die silo’s waarin die losmaatvoerkorrels geberg word. ’n Awegaar is in die bak geïnstalleer om die korrels uit die bak te laai. Buite is ’n dik, buigbare vloeipyp aangebring. Die awegaar word met ’n petrolenjintjie van 10 perdekrag (7,46 kW) aangedryf, en met ’n hefboomstelsel wat met bande werk, word dit gekoppel of ontkoppel.”

Die wa word deur ’n trekker of bakkie met vierwielaandrywing kampe toe gesleep. Wanneer dit langs ’n voerkrip kom, word die awegaar met behulp van die hefboom gekoppel. Die voerkorrels word uit die bak op die wa “gepomp” en die buigbare pyp word op die voerkrip gemik sodat die korrels in die krip kan loop.

Wanneer die voerkrip vol is, word die awegaar met die hefboom ontkoppel (terwyl die enjintjie steeds loop) en verder gery tot by die volgende voerkrip.

Weergawe 2: Houvermoë van 3 ton

’n Paar jaar gelede het die gesin na ’n skaaphokkiestelsel oorgeskakel en dit was selde nodig om ’n ooi of ’n lam uit die kampe te bring. Hulle het toe besluit om die “ooidek” op die waentjie met ’n tweede korreltenk – ook van 1,5 ton – te vervang.

Die korrelwa van die kant af. Elkeen van die twee tenks het ’n houvermoë van 1,5 ton voerkorrels.

Die tweede tenk is met sy eie awegaar toegerus, presies soos die oorspronklike tenk. Skielik was die houvermoë 3 ton voerkorrels, wat ’n rit na die verskillende kampe met ooie nóg meer produktief gemaak het. Jan sê minder as tien minute is nodig om elk van die bakke op die waentjie uit die groot opbergingsilo’s te vul.

In die kampe kan gemiddeld vyf voerkrippe uit elke tenk gevul word, wat dit dus moontlik maak om tien of meer voerkrippe in ’n enkele rit vol te maak. “Wat dit baie makliker maak, is dat net een mens nodig is vir die hele aksie.”

Die hele waentjie met ál sy toerusting het sowat R50 000 gekos om te laat bou, “maar die koste wat mettertyd bespaar word aan losmaatvoerpille, arbeid en brandstof, maak dit deur en deur die geld werd,” meen Jan.

LBW vra . . .

Mnr. Jan Wessels

MNR. JAN WESSELS

Watter tegnologie vind jy onontbeerlik op die plaas?

GPS, selfone en rekenaars.

Wat is die beste raad wat jy nog ontvang en toegepas het?

Moet nie dat jou planne opraak nie!

Wat is die grootste fout wat jy nog in die boerdery gemaak het?

Ons het waardevolle grond deur ons vingers laat glip.

Wat is die enkele aspek wat die grootste impak op jou boerdery gemaak het?

Die intensiewe skaapvertakking. Dit het die lamvrektes aansienlik laat afneem.

Het jy ’n mentor?

My pa, want hy het ons geleer hoe om te werk en altyd ‘n plan te maak.

Hoe bemark jy jou produk(te)?

Vleis word by die Hessequa-abattoir op Heidelberg bemark, en wol by BKB.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.