Soos menige bedryf wat grootliks van die stand van die ekonomie (en dus plaaslike jagters se bestedingsvermoë), asook van buitelandse besoekers vir ’n groot deel van hul inkomste afhanklik is, soek wildboere allerhande planne om hul produksiekoste so laag moontlik te hou totdat toestande weer na normaal terugkeer.

In die algemeen word wild van die veld af geoes, hetsy met lewende verkope of deur trofee- en biltongjagters. Die voeding van die diere is nie altyd ’n groot uitgawe nie. Wanneer ’n droogte egter toeslaan, of as ’n wildboer bloot wil seker maak sy wild is in ’n goeie kondisie, moet die diere ekstra voeding kry.

Dit is goed en wel as die wild alleen aan duur voer of voerkorrels vreet, maar wat van die onwelkome “gaste”, soos tarentale en meerkatte, wat ook iets te ete soek?

Mnr. Cobus Croucamp van Ystervark Staalwerke & Sleepwaens in Kimberley het ’n slim boereplan uitgedink en ’n uitsonderlike selfvoerder ontwerp wat hoog genoeg van die grond af is en die voerkorrels op só ’n manier beskikbaar stel dat dit buite bereik van die onwelkome besoekertjies is.

BAK OP BENE

Die selfvoerder het ’n vierkantige bak op vier ysterbene en vier geute wat vanaf elk van die vier sye skuins na onder loop en dan weer horisontaal draai. Die voerkorrels gly in die geut af en gaan lê in die horisontale deel waar die wild dit kan bykom. Die hoogte van die bene is verstelbaar sodat dit vir groot- of kleinwild aangepas kan word. Dit is ook vir volstruise toeganklik.

Croucamp sê die vreetspasie loop nie oormatig vol sodat die voerkorrels op die grond uitloop nie, maar net genoeg korrels versamel in die vreetspasie. Namate die korrels verorber word, word dit vanuit die voerbak, wat ’n houvermoë van 100 kg het, aangevul.

Die selfvoerder word onder die handelsnaam Ystervark bemark.

Een van die wildboere wat reeds só ’n selfvoerder gebruik, is mnr. Frank Blumenthal van Hopetown. Sy familieboerdery konsentreer grootliks op graanverbouing en Damaraskape, maar hulle het ook ’n wildboerdery met allerhande soorte wild en ’n gastehuis vir die jagters. Hy meen die selfvoerder is ’n goeie manier om te verseker die kos kom slegs die wild toe. Hy is ook besonder in sy skik dat ’n plaaslike jong man met sy eie onderneming só ’n goeie stuk toerusting ontwerp het.

Volstruise besig om voerkorrels uit die selfvoerder te pik. Die selfvoerder is vir die meeste wildsoorte geskik. Foto: CHARL VAN ROOYEN
Die voerkorrels gly vanuit die voerbak na die vreetspasie, waar dit bly lê sonder om uit te val. Foto: CHARL VAN ROOYEN
LINKS: Mnr. Francois Blumenthal vul die Ystervark-selfvoerder met voerkorrels. Dit fnuik die tarentale en meerkatte wat maar alte graag ook van die kos wil vreet. Foto: CHARL VAN ROOYEN

EENMANBESIGHEID

Croucamp vertel hy het op ’n plaas by Luckhoff grootgeword en self op boere se plase gewerk, waar hy baie gekyk en geleer het. Later was hy in die boubedryf. Dié leerskool, tesame met sy boerderykennis, het hom geslyp om uiteindelik in 2011 sy eie onderneming vir die vervaardiging van toerusting op Luckhoff te begin. Hy het dit later na Hopetown en uiteindelik in 2017 na Kimberley verskuif omdat die geleentheid vir uitbreiding, die vraag en verkope daar groter is.

Hoewel hy die meeste van sy werktuie in die Noord-Kaap en die Vrystaat verkoop, het hy ook klante in ander provinsies.

Die Hardegat-beeswa wat mnr. Cobus Croucamp bou. Dit is 4 m lank. Foto’s: YSTERVARK
Hierdie hanteringskraal-kompleks is Beeswagte gedoop. Dit kom ook uit Ystervark se fabriek in Kimberley.

Croucamp bemark die selfvoerder (wat hy vir ongeveer R5 750 verkoop, na gelang van die prys van staal), bakkietralies en ander plaaswerktuie vanaf Ystervark Staalwerke & Sleepwaens se fabriek in Kimberley. Sy vrou, Cornelia, behartig die kantoorwerk.

Hy vervaardig ook ander soorte vee- en wildselfvoerders en veehanteringstoerusting, soos sy verskuifbare Beeswagter-krale, nekklampe, drukgange en mobiele laaibanke.

Croucamp is besonder ingenome met sy reeks sleepwaens wat hy onder die naam Hardegat bemark. Dit wissel van ’n wa met ’n bak vir 750 kg goedere, wat hy vir sowat R20 700 verkoop, tot ’n bielie wat 3,5 ton kan dra, wat ongeveer R92 000 kos. Hy pas die groottes en ontwerpe aan volgens die boer se behoefte. Sy Ystervark-wipwaens kan 3-15 ton hou.

Die Y360-baallaaier, ’n Trots Suid-Afrikaans-­produk, wat ook deur Croucamp ontwerp is. Hy het gekyk hoe ander baallaaiers werk, met boere gesels, punte geïdentifiseer waarop hy kan verbeter, en toe ’n baallaaier ontwerp wat die Suid-Afrikaanse hooiprodusent se behoeftes en sak pas.

BAALLAAIER

Laaste, maar nie die minste nie, vertel Croucamp van die Y360-baallaaier wat hy ontwerp het, ’n Trots Suid-Afrikaans-produk. Hy het gekyk hoe ander baallaaiers werk, met boere gesels, punte geïdentifiseer waarop hy kan verbeter en toe ’n baallaaier ontwerp wat die Suid-Afrikaanse hooiprodusent se behoeftes en sak pas. Hy verkoop dit vir sowat R575 000.

Die baallaaier is ontwerp om groot, vierkantige bale op te laai. Dit word langs ’n lae sleepwa aangebring wat deur ’n trekker gesleep word. Die trekker ry dus langs die ry bale verby, waar die baallaaier dit gryp en met die opligslag omdraai (vandaar die naam Y360) en netjies op die sleepwa neersit. Wanneer die wa vol is, word die stapel bale net so in ’n skuur afgelaai.

Slegs een mens is nodig om die hele proses te behartig, wat arbeid en tyd bespaar.

Kyk by youtu.be/_afyy9VHTmw na ’nvideo wat wys hoe die baallaaier werk.

Navrae: Mnr. Cobus Croucamp, 082 564 8031; e-pos: sales1@ystervarkstaal.co.za; web: ystervarkstaal.co.za
Vertel ons van JOU plan! Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.