’n Droom wat haar laat wakker lê het omdat sy bekommerd was oor haar man, wat windpompe verstel, het tot ’n boereplan gelei. Dit is dié plan wat mev. Dirkie Jerling van Hennenman een van die kategoriewenners in Graan Suid-Afrika en Omnia se boereplankompetisie gemaak het.

Mev. Dirkie en mnr. Stan Jerling van Hennenman het ’n windpompoplossing vir vanjaar se boerepatentkompetisie ingeskryf.

Dit bestaan uit ’n verstelbare raamwerk wat as ’n stut optree om ’n windpomptoring te laat sak sodat verstellings aan die kop gedoen kan word.

“My man moes ’n windpomp in Vanderbijlpark gaan aftakel het en hy kon nie sy gebruiklike toerusting vir die taak saamneem nie,” sê sy.

“Toe het ek voor die tyd gelê en dink aan ’n oplossing. Stan het die volgende oggend my voorstel aanvaar en so ’n hefboomstruktuur gebou.”

Mev. Dirkie Jerling van Hennenman op die voorgrond by haar man, Stan, wat hul boerepatent met ’n skaalmodel illustreer om ’n windpompskag tot op ’n werkbare hoogte te laat sak. Foto: Johan Norval

Landbouweekblad het onlangs as mediavennoot ingetree om met die samewerking van Omnia as borg die boereplankompetisie te bevorder.

Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, sê hy is opgewonde om aan dié projek deel te neem, veral aangesien boereplan-artikels in die tydskrif soveel aansien geniet en ook as ’n jaarlikse handelsmerkuitbreiding uitgegee word. 

“Daar is ’n rede hoekom die gesegde ‘’n Boer maak ’n plan’ so baie waarde het, want boere maak werklik praktiese planne.”

Die wenners van die afdeling vir nuwe masjinerie, werktuie en landboutoerusting was mnre. Nico Jacobsz van die plaas Midlands, Wesselsbron, met sy ontbosser; Wayne Birch van Burchell Wildlife by Thabazimbi met sy verskuifbare wildvangboma (veranderde masjinerie, werktuie en toerusting); Chris Davel van Johannesburg, met sy diesel-diefstalbeveiligingstoestel (aangepaste gereedskap); en Bertus Goosen van Matlakeng in Botswana, met sy boomsnoeier (aangepaste tuintoerusting).