Diefstal, veldbrande, ratels en vandalisme het ’n byeboer van Carletonville in Gauteng, mnr. Louis van Zyl, soveel skade berokken dat hy besef het hy sal ’n plan moet maak om sy byeswerms beter te beskerm.

Sy korwe is gereeld deur vandale geplunder, mense wat heuning wil steel en dan sommer die hele korf oopbreek om daarby uit te kom of sommer net uit pure moedswilligheid breek.

As dit nie die vandale was nie, was dit ratels wat die korwe gebreek het. Boonop loop die gebied gereeld deur onder veldbrande en Van Zyl sê, selfs al maak ’n mens die gebied rondom ’n korf skoon, waai daar gereeld kooltjies teen die kaste vas en dan brand dit uit.

Die grootste probleem is egter diefstal. Van Zyl meen die sondaars is ander byeboere wat nie die geld wil bestee om korwe te koop nie. Hy het van 30% tot 40% van sy korwe elke jaar aan een van hierdie elemente verloor.

’n Byeboer se registrasienommer en kontakbesonderhede kan aan die binne­kant van die korf aangebring word, wat dit maklik herkenbaar maak, sou ’n mens vermoed iemand boer dalk met ’n korf wat hulle by jou gesteel het. Standaardrame pas binne in die korwe.

’n Plan met beton

Van Zyl het begin om byekaste uit beton te bou in ’n poging om die vandalisme en die plundering van sy korwe te voorkom. Hy het sy eie gietvorms van 3 mm-staalplate gemaak en tien korwe gemaak en vir sowat ses maande gebruik om te kyk of dit werk. “Ek was verbaas om te sien dat ek beter heuning uit daardie korwe kry as uit my houtkorwe,” vertel hy.

Die staal-bewapende beton se sand-klip-en- sementmengsel is dieselfde as dié wat ingenieurs vir brûe spesifiseer. Selfs die deksel is met staal versterk en word dig gehou deur ’n 15 mm-ysterstaaf wat net met ’n spesiaal-ontwerpte sleutel oopgesluit kan word.

Van Zyl wys daarop dat hierdie kaste net gebruik word op plekke waar ’n mens dit permanent wil los. Dit is te swaar om na gelang van blomseisoene tussen gewasse en boerderye rondgeskuif te word. “Die betonkaste se voordeel is ook hul nadeel,” sê Van Zyl.

Die betonkorwe wat uit drie dele bestaan, weeg sowat 200 kg wanneer alles aanmekaar is. Waar ’n mens gewoonlik tot 30 houtkorwe op ’n een-ton-bakkie kan laai, laat die betonkorwe jou nie toe om meer as vier op ’n slag te vervoer nie.

In die veld is die bye ewe gelukkig in hul betonkorwe as in die tradisionele houtkorwe. Daar was geen afname in heuning­produksie nie, sê Van Zyl.

Van Zyl sê daar is mengsels wat ’n mens kan gebruik met vullers wat die korwe ligter sal maak, maar dit sal hulle ook verswak. Met die brugsterktebeton is dit net die Carletonville-omgewing se onwettige myners wat die nodige toerusting het om sy korwe oop te breek.

Vir die 300 betonkorwe wat hy in die veld het, is sy verliese aan vandale en diewe nou skaars 3%. “Die skurke kon tot dusver nog net deur agt van my korwe kom.”

Vir die bye werk die betonkorwe net so goed soos die houtkorwe en Van Zyl sê die heuningproduksie is dieselfde en in party opsigte selfs beter as voorheen.

Hy maak die korwe op bestelling vir ander byeboere en ’n volledige korf kos R750. Die byeboer se registrasienommer kan binne in die kas in die nat sement aangebring word. Selfs al word dit gesteel, is die korwe dus steeds maklik om uit te ken.