Om weiding regtig goed te kan bestuur, moet ’n boer die veld en omgewing deeglik ken. Slegs dan kan ingeligte besluite tydig geneem word om oorbeweiding te voorkom en die weiding vir so lank moontlik te benut. Dit tel in me. Caroline Bührmann se guns dat sy in die omgewing grootgeword het waar sy nou naby Nauchas in die Naukluftkompleks boer, wat neffens Namibië se bekende Naukluft-natuurreservaat geleë is.

Goeie veldbestuur, lae veldbelading, wisselweiding, spaarkampe en genoeg grond om kampe lank te laat rus, is die faktore wat dit vir haar moontlik maak om droogtes te oorleef. Om die veld verder te beskerm, hou sy haar sebras almal op een deel van die plaas aan omdat dié diere baie swaar op weiding is. In die bykans kwarteeu wat sy heeltyds boer, was dit nog net een keer nodig om die skape ekstra voeding te gee om hulle aan die lewe te hou, danksy die stelsel van goeie wisselweiding en wisselrus.

Bührmann het baie kampe wat deur sowat 20 suipings bedien word. Die krippe word vol gehou deur pyplyne van 25 km uit twee boorgate wat met dieselenjins toegerus is. Die water word na damme gepomp, van waar dit met swaartekrag na die krippe vloei.

Sy het ook ander boorgate met 10 windpompe. “My oorlewing en sukses is danksy die feit dat ek my by die toestande aangepas en oor jare ’n stelsel ontwikkel het wat ek as ’n niks-nonsens-boerdery bestempel; ’n stelsel wat my omgewing soos ’n handskoen pas. My pa het die plaas ook baie volledig ontwikkel.”

’n Trop Persieskape in die tipiese klipperige veld in Namibië waar Bührmann boer. Hulle kry net ’n lek om die natuurlike weiding aan te vul.

By pa geleer

Haar pa, mnr. Geoffrey Jackson, het by Karibib met beeste en skape geboer. Bührmann was van kindsbeen af by die boerdery betrokke. Só het sy die omgewing haarfyn leer ken. In 1965 het Jackson Nauzerus gekoop – die plaas waar sy vandag boer – en daarheen verhuis. Nadat hy in 1973 oorlede is toe sy 21 was, het haar ma, Lawrie, vir nóg 22 jaar alleen met die boerdery aangegaan, totdat sy 86 was. Bührmann was toe ’n wetenskaponderwyseres in Windhoek.

Toe haar ma hulp nodig gehad het, het sy in 1995 uit die onderwys bedank en plaas toe verhuis om die boerdery oor te neem. In daardie jaar is sy getroud met mnr. Jan Bührmann, wat op ’n aangrensende plaas boer. Haar ma is in 2004 op 95 jaar oorlede.

Die gebied het goeie soetveldweiding: blinkaar-boesmangras, Eragrostis, Fingerhuithia, Schmidtia kalahariensis, steekgras, Anthe- phora, driedoring (Rhigozum trichotomum) en gabbabos (Catophractes alexandri).

Normaalweg is die drakrag 18 ha per grootvee-eenheid (GVE), maar tans belaai Bührmann die veld ver benede dié perk. Daarom het sy steeds gras op die plaas, ondanks die droogte. Sedert sy in 2016 beesgetalle verminder het, het dié knap vrou nog nie weer nodig gehad om haar beeste minder te maak of die skaapgetalle enigsins te verminder nie.

Persieskape kom by ’n watersuiping aan. Die water kom uit ’n aantal boorgate. Dit word na damme gepomp, van waar dit met swaartekrag na die kampe vloei.

Ontwikkel aanvoeling

Die huidige droogte het ses jaar gelede hier begin. Sommige jare het Nauzerus die gemiddelde reënval van 150 mm gekry, maar dit het met lang tussenposes gereën. In 2013 het Nauzerus 50 mm gekry, in 2016 slegs 79 mm en in 2019 net 57 mm. Gevolglik het Bührmann haar koeikudde van 250 tot 130 verklein. Haar eerste goeie reën was in Desember 2019 toe sy 52 mm by die huis gemeet het. Op sommige dele van die plaas het dit nog nie gereën nie.

Bührmann boer met twee troppe swartkop-Persies. Elke trop bly ongeveer drie maande by ’n waterpunt, wat drie kampe bedien. Dan skuif sy hulle na die volgende waterpunt met sy kampe. As sy ná reën goeie weiding het, sit sy beeste saam met die skape in ’n kamp. Normaalweg is die beeste egter in groter kampe as die kleinvee; van 300 ha tot 1 000 ha elk. Die beeste bly vir vier tot vyf maande in ’n kamp, na gelang van die beskikbare weiding en aard van die seisoen.

Al die kampe rus ná beweiding vir een tot twee groeiseisoene. Die beleid is om nooit ’n kamp te oorbewei nie, want dit kan die weiding langdurig beskadig. Die veldtoestand word met die oog gemonitor en vee word verskuif voordat die veld kort afgewei is. “As ’n mens jou veld ken, ontwikkel jy ’n aanvoeling wat nie juis beskryf kan word nie. Jy wéét wanneer jy van kamp moet verwissel.”

Die plaas is lank (sowat 20 km) en redelik smal. Gevolglik kry dele van die plaas soms reën en ander dele nie, wat beteken dit reën darem iewers. Volgende keer reën dit dalk in die dele wat die vorige keer oorgeslaan is.

Bührmann boer met twee troppe swartkop-Persies. Elke trop bly vir ongeveer drie maande by ’n waterpunt, wat drie kampe bedien.

Begin met Karakoele

Haar ouers het aanvanklik met Karakoelskape geboer. Gedurende die groot droogte van die vroeë 1980’s moes haar ma van baie skape ontslae raak. Ná daardie droogte het sy ook vleisbeeste gekoop. Toe Bührmann in 1995 begin boer het toe dit wéér droog was, het die boerdery net uit swartkop-Persies en Afrikanerbeeste bestaan.

Sy sê die Afrikanerkoeie beskerm hul kalwers baie goed teen roofdiere, wat luiperds insluit, en maak hulle goed groot. Sy het die Afrikaners eers met ’n Bonsmarabul gepaar om die nageslag méér vleis te gee. Later het sy meer van die Sussex geleer, wat ook goed aangepas is. Dit het sulke goeie resultate gelewer dat sy met dié kruising aangehou het.

Bührmann doen terminale kruisings met suiwer Sussexbulle en verkoop al die speenkalwers. Hierdie kruiskalwers het goeie vleis- eienskappe, is gewild by voerkrale en behaal sowat R4/kg tot R5/kg méér as ander kruisings of suiwer Afrikaners. Een Afrikanerbul loop steeds saam met ’n kleiner trop koeie, maar Sussexbulle dek die Afrikanerverse en meeste koeie.

Bührmann speen die kalwers op agt maande en verkoop hulle dadelik. Hoewel sy nie ’n vaste dek- en kalfseisoen het nie, word speenkalwers net twee keer per jaar gedurende Julie/Augustus en Februarie op speenkalfveilings verkoop. Kleinerige kalwers word tot die volgende bemarkingstyd oorgehou sodat hulle nog kan groei. Soms verkoop sy van die Sussex-kruiskalwers vroeër vanweë die Sussex se sterk teeldrang om te voorkom dat hulle die jong verse dek.

Op die jongste veiling het haar speenkalwers R28/kg behaal. Sy weeg nie die speenkalwers nie, maar skat hul gewig op 230 kg tot 240 kg. Bührmann hou wel deeglike rekord van die koeie en hul kalwers. Die kalfsyfer is gewoonlik ongeveer 90%.

Weens die vorige somer se min reën, toe slegs 12 mm in die somergroeiseisoen geval het, het sy hierdie seisoen ’n laer kalfpersentasie verwag. Bührmann se koeie kry klein kalwers en geboorteprobleme bestaan feitlik nie. Daarom kalf die koeie sonder toesig in die veld.

In die 25 jaar wat sy boer, het net vier verse gesukkel om te kalf. Die beeste kry een keer per week ’n droëveldkonsentraat-en-soutlek (1:1 gemeng) en in baie droë tye twee keer per week. Verder oorleef hulle sonder ekstra voer op die veld.

Gesondheid en roofdiere

Die gebied het gelukkig nie ’n ernstige bosluisprobleem nie. Bührmann smeer twee keer per jaar bosluisghries aan die sigbare bosluise op die Afrikaners. Die Sussexbulle is vatbaarder vir bosluise en perdevlieë en word meer gereeld behandel. Volgens wet behandel sy die beeste vir onder meer botulisme.

Roofdiere is ’n groter probleem as parasiete en siektes en eis ’n klein tol, veral luiperds en gevlekte hiënas. ’n Groot deel van die plaas is met jakkalsproefdraad toegespan wat roofdiere help uithou. Gevlekte hiënas is ’n groter gevaar en het al ou koeie gevang. Die skape word bedags deur twee veewagters met honde opgepas en saans in ’n kraal gejaag om hulle teen roofdiere te beskerm.

’n Afrikanerkoei met haar Sussexkruiskalf. Dié kruising lewer goeie speenkalwers wat gewild is.

Skaapboerdery

Daar is al in 1964 begin met die Persieboerdery, wat uit 450 ooie bestaan. Dit word vir vetskaapproduksie gebruik, wat veral in die winter gewild is wanneer jagters droëwors en boerewors maak. Dié ras groei stadig en is nie bekend om die teel van slaglammers nie. Bührmann boer kommersieel met die Persies en koop slegs goeie kommersiële ramme by ’n stoetboer.

Die boerdery volg ’n vaste lamtyd. Die ooie lam in Januarie wanneer die reëntyd tra- disioneel begin sodat die ooie hul lammers op groeiende veld kan grootmaak. Al die rammetjies word gekastreer en as hamels verkoop wanneer hulle 12 tot 18 maande oud is en 38 kg tot 42 kg weeg. Hulle word op ’n veiling in Rehoboth verkoop waar sy goeie pryse van R30/kg tot R35/kg op die hoef behaal.

Bührmann hou die ooilammers vir vervanging van ou ooie wat vir rantsoene vir haar werkers geslag word. Sommige ou ooie word goedkoop aan werkers verkoop. Die skape word vir bloednier en pasteurella behandel. Hulle het baie min inwendige parasiete en sy doseer hulle net een keer per jaar.

In droë tye kry hulle vitamien A. Die skape kry deur die loop van die jaar ’n lek van ureum, sout, fosfaat en melasse, en verder geen bykomende voer nie. Die lammers kry wel lusern en voerkorrels om hulle beter te laat groei.

Bührmann se ma het in die 1980’s ’n hektaar turksvye geplant. “Dit klink min, maar dit is baie kos en het ons al menige keer gered.” In die droogte kry haar beeste, asook haar man s’n, weekliks elk ’n bakkievrag turksvyblare om hul voeding aan te vul. “Elke bietjie wat hierdie dorre land kan bied, help.” Lees in ’n volgende uitgawe hoe haar man, Jan, op die aangrensende plaas met olywe, sitrus en Nguni’s boer.

Bührmann by ’n paar Afrikanerkoeie. Sy doen terminale kruisings en verkoop al die speenkalwers, wat beter pryse as ander kruisings behaal.

LBW vra . . .

Watter tegnologie is onmisbaar in jou boerdery?

Die internet en WhatsApp om op die hoogte te bly van nuwe ontwikkelinge, produkte en die weer en in kontak met die gemeenskap te wees.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Om altyd ’n doel in die lewe te hê: ’n projek, iets om na uit te sien en ’n mikpunt waarheen jy werk wat bevrediging en plesier sal verskaf.

Wat is die grootste boerderyfout wat jy gemaak het?

Ek het probeer om die Persie met ander rasse te kruis. Ek moes die skape eerder suiwer gehou het. Verder moes ek vroeër kruiskalwers met die Sussexbulle begin teel het. My pa, Geoffrey Jackson, het al in die 1950’s sy Afrikanerkoeie met Sussexbulle gekruis.

Wie was jou mentor?

My pa. Hoewel ek baie jonk was toe hy dood is, is ek verbyster oor hoeveel ek by hom geleer het. Ek is baie dank aan hom verskuldig.

En jou grootste KWESSIES?

Om my vee in ’n goeie kondisie te hou en die plaas se infrastruktuur te onderhou en te verbeter.

Wat is die lekkerste van ’N lewe in die afgeleë gebied waar julle boer?

Dit verg fyn beplanning om selfversorgend met sonkrag en kos uit my man, Jan, se groentetuin te wees. Geen twee dae is eenders nie. En besoekers is altyd welkom.