Ná die afgelope paar jaar wat hulle die dekgewasresep vir hul omgewing verfyn, glo mnr. Izak Dreyer van die plaas Skulpspruit by Vrede ’n vier-jaar-stelsel behoort selfs doeltreffender te werk as ’n vyf-jaar-stelsel.

Dreyer is ’n pionierboer in herlewingslandbou. Hy het op Reitz gepraat op die herlewingslandboukonferensie wat met die samewerking van die Riemland-studiegroep en Graan SA aangebied is.

Tot so onlangs as verlede jaar het die Dreyers, wat in die Ascent-gebied boer, nog ’n vyf-jaar-siklus van afwisseling tussen kontant- en dekgewasse in hul droëland-saaiery beproef. Hul sandgrond se kleipersentasie is tipies rondom 20%, en dan boer hulle ook op Arcadia-turf met meer klei. (Sien ook “Vyfjaarplan om dekgewasse in te sluit”, LBW, 6 Julie 2018.)

Die vyf-jaar-stelsel het as volg gewerk:

  • Jaar 1: Mielies opgevolg met ’n mengsel van winterdekgewasse.
  • Jaar 2: Weer mielies opgevolg met winterdekgewasse.
  • Jaar 3: Sojabone opgevolg met winterdekgewasse.
  • Jaar 4: Somerdekgewasse opgevolg met winterdekgewasse.
  • Jaar 5: Sojabone opgevolg met winterdekgewasse.

Winterdekgewasse word geplant waar vog beskikbaar is. Ná mielies kon hulle dit nog nie regkry nie, maar die afgelope vier jaar kon hulle ná kortseisoen-sojabone nog elke keer ’n winterdekgewas geplant kry. Daarmee, saam met beweiding van die dekgewasse met sy bees- en skaapkuddes, was hy reeds suksesvol om in ideale toestande in vyf jaar tien oeste (van mielies, sojabone en vleis) van die lande te haal.

Nou wys die boerdery-statistieke wat hy noukeurig byhou, dat die volgende vier-jaar-stelsel selfs nóg winsgewender en volhoubaarder kan wees

  • Jaar 1: Mielies opgevolg met winterdekgewasse.
  • Jaar 2: Mielies opgevolg met winterdekgewasse;
  • Jaar 3: Sojabone opgevolg met winterdekgewasse, en
  • Jaar 4: Somerdekgewasse opgevolg met winterdekgewasse.

Dreyer meen dat dit mettertyd moontlik sal wees om, namate hul grondgesondheid verder herstel, selfs jaar 2 in dié siklus uit te sluit, mits hulle genoeg vee het om al die plantmateriaal te benut. Hulle vind wel dat mielies wat die volgende jaar met mielies opgevolg word, ’n besonder goeie deklaag kan gee. Hy het die Amerikaanse herlewingslandbou-spesialis Jay Fuhrer aangehaal, wat verlede jaar op die Riemland-konferensie gesê het ’n groot deel van herlewingslandbou lê in selfstudie. Die Dreyer-boerdery se jongste grondontledings wys verstommende resultate.

Die grond

Die organiese materiaal-inhoud in hul grond het van 2016 tot 2018 jaarliks met gemiddeld 0,3% toegeneem, op party lande vanaf net 0,9% tot byna 1,9%, dít nadat hulle maar eers vier jaar gelede op ernstige skaal dekgewasse in hul boerderystelsel ingebring het. Op een land is die organiese materiaal-inhoud reeds 3,6%, en die donkerder swart kleur is opmerklik.

Dreyer meen die volgende deurbreekpunt vir gemiddelde organiese materiaal-inhoud op die lande behoort 2,25% te wees, wat sal beteken die “ondergrondse fabriek” van grondorganismes het weer aan die gang gekom. Dan is sy volgende mikpunt op die saailande die 3,5% organiese materiaal-inhoud wat die boerdery se natuurlike veldgrond bevat. Hierdie veld beslaan 80% van die boerdery se hektare, naas die 20% saailande.

Internasionale navorsing wys telkemale dat grond met hoër organiese materiaal en gevolglike laer digtheid (dus meer wortels en organismes wat deurlug) heelwat groter wins oplewer, sê Dreyer. “Wins is gelyk aan grondgesondheid.”

Dít is onder meer deur die herlewingslandboukenner dr. Jonathan Lundgren, stigter van die Blue Dasher-navorsingsplaas in die Amerikaanse deelstaat Suid-Dakota, bewys toe hy gevra is om die invloed van verskillende bewerkingspraktyke op boerderywins te ondersoek. Dit het onder meer tradisionele bewerking, strookbewerking en geenbewerking ingesluit.

Wat suurvlakke in die grond betref, sê Dreyer hy was aanvanklik self half ongelowig en wou nie glo dat herlewingslandboupraktyke die probleem van grondversuring nie gaan vererger nie. “Dit is of dit soos ’n mite klink. Moenie sleg voel as jy sukkel om dit te glo nie. ’n Mens mag maar so voel.”

Sy grondontledings wys dat sy lande se suurvlakke vanaf 2016 tot 2018 geensins drasties gedaal het nie, hoewel hulle glad nie meer kalk toedien nie. Die gemiddelde pH-stygings van vyf lande wat van 2016 tot 2018 op die woonplaas ontleed is, was 5,9 tot 6,5.

Die geldsomme

Dreyer sê die produksiekoste om konvensionele mielies in die Oos-Vrystaat aan te plant, beloop R9 000 tot R10 000 per hektaar, wat teen heersende pryse en die risiko van klimaatverandering nie meer volhoubaar is nie. Sedert die Dreyers die dekgewasse in hul stelsel ingebring het, het hul stikstofbemesting by hul mielies, volgens die grondontleding-aanbevelings, vanaf 120 kg/ha in 2016 tot 100 kg/ha in 2017 en 80 kg/ha in 2018 gedaal. Dít beteken ’n besparing van R1 000 per hektaar vanaf 2016 tot 2018.

Tans staan die anorganiese stikstof-inhoud (vanaf chemiese kunsmis) in hul grond op nul. Die organiese stikstof wat danksy herlewing van grondorganismes in hul grond vir plantopname beskikbaar gestel kan word, is gelykstaande aan 50 N/ha. “Dít is hoekom ons stikstoftoediening van 120 kg/ha tot 80 kg/ha kon verminder.”

Die drastiese toename in organiese stikstof in hul grond tot 50 kg/ha is gratis, groen en volhoubaar, sê hy. Dit word nie uitgeloog nie, maar stadig vrygestel. Die anorganiese stikstof in hul grond, wat oor die drie jaar drasties afgeneem het, beskou hy as die bad boys.

Hul somerdekgewas-mengsel kos tans rondom R500/ha (saad), R1 500 per ha (8:2:1-kunsmis), en spuit en plant ook gemiddeld R500/ha. Dit is dus altesaam R2 500/ha. “Omgereken in vleis: Teen ’n prys van R33/kg vir ’n speenkalf teen vyf kalwers per hektaar, is hierdie plantkoste gelyk aan 0,25 kg groei per speenkalf per dag om gelyk te speel. Ek dink nie dit is moeilik om ver meer as hierdie groei op ’n somer-dekgewasmengsel te haal nie.”

Grondgesondheid is wins, sê mnr. Izak Dreyer van die plaas Skulpspruit by Ascent buite Vrede in die Vrystaat. Dié herlewingslandboupionier pas reeds agt jaar lank geenbewerking toe en plant die afgelope vyf jaar dekgewasse wat hy met ultrahoëdrukbeweiding benut. Foto: Vida Booysen
Tussenryverbouing met winterdekgewasse by mielies. Hierdie wintermengsel is met ’n omgeboude tussenryplanter geplant toe die mielies in die agtblaarstadium was. Foto: IZAK DREYER
Dreyer sê hy is ’n groot voorstander van tussenryverbouing veral by mielies, maar het die praktyk daarvan nog nie lekker bemeester nie. “Met die 76 cm-rywydtes by mielies voel dit of ons te veel mielieplante beskadig en die skadu-effek van die mielies laat dekgewasse swak groei. Dit lyk asof boere wat met bietjie wyer rye plant, dit goed regkry.”
Dreyer sê ’n mens kan eintlik hoor hoe lekker die beeste in dié ruie somerdekgewasse wei. Sy somerdekgewasse word deur speenkalwers benut. Ooie wat in Maart of April lam, vaar weer baie goed op die winterdekgewasse ná die sojabone. As daar nog oor is, word dit ook deur speenkalwers in die winter benut. Foto: Vida Booysen

Alles kom nie sommer dadelik reg

Integrasie van dekgewasse in ’n kontantsaaiery gebeur nogtans nie sonder slag of stoot nie, sê Dreyer. Hul een groot probleem is byvoorbeeld om dekgewasse tussen mielierye te vestig – sogenoemde tussenryverbouing (intercropping). Hy meen wel dit is ’n nodige en die regte praktyk vir ’n volhoubare toekoms. “Maar ons sukkel nog daarmee. Miskien probeer ons met té groot masjiene in té nou rye (76 cm) ingaan, en dan trap ons te veel mielies dood. Daar is wel boere wat hierdie stelsel al regkry, maar dan in wyer rye van sowat 91 cm of meer.”

Grasgewasse soos hawer en rog wat tussen die mielies ingesaai word, sukkel ook om in die koelte te groei, is hul ondervinding. Daarmee saam moet onkruiddoder ook so bestuur word dat dit nie ’n invloed op ’n gemengde dekgewas het nie, sê Izak.

Dié stap verg Geloof

Voorts verg dit dikwels sterk geloof om winterdekgewasse reg agter die sojaboon-stroper te plant as die grond redelik droog is omdat die reën nie betyds of genoeg geval het nie – en die stof agter die planter staan. Dit bly vir Izak egter belangrik om te sorg dat hy elke jaar in April en Mei dekgewasse in die grond sit.

Vrede se gemiddelde langtermynreënval is 678 mm per jaar, waarvan gemiddeld 31 mm in April val en 10 mm in Mei. Hul ondervinding wys nogtans telkemale dat daardie lande waarop winterdekgewasse was, teen die einde van die somerreëntyd ’n beter kontantgewas-opbrengs lewer as dié net anderkant die draad waarop daar nie winterdekgewasse geplant is nie. Vanjaar was dit by uitstek die geval, sê Dreyer.

By dieselfde kultivar mielies wat weerskante van die draad geplant was, met die een land wat deur winterdekgewasse voorafgegaan was en die een nie, was die verskil in die jong mielies se toestand ná die buitengewone hitte opmerklik. Dit was in ’n stadium wat albei lande nog net 220 mm van die seisoensreën gekry het. Op die een land is dit spierwit, terwyl die ander land nog grasgroen was.

Hulle vind wel dat onkruiddruk in ’n groot probleem by opvolggewasse in somerdekgewasse kan ontaard as jy dekgewasmengsels plant. Hy meen dit is dalk net ’n misvatting dat dekgewasse grond droog trek. Hulle aanvaar dat winterdekgewasse grond droog kan trek, sê hy, maar die beter indringingstempo en nog baie ander voordele wat dekgewasse bring, verseker dat die agterstand baie vinnig ingehaal word.

Hy verwys na vogmeterstatistieke wat prof. Buz Kloot, Amerikaanse grondgesondheid-spesialis, ontleed het, en wat bewys het dat jy ná die tweede reënbui gelyk trek, en van daar af voor is met die water. Hul beleid is dat hulle nooit ’n kaal land wil hê nie – en altyd groen wortels in die grond wil hê. “As dit nie anders kan nie, wil ’n ou selfs eerder onkruid hê wat groei as dat niks groei nie.”

Dit klink amper soos die weduwee se kruik, sê Dreyer as hy mnr. Bruce Shepherd, herlewingsboer van Bergville in KwaZulu-Natal aanhaal: “Hoe meer jy vog benut, hoe meer sal daar wees om te benut.”

Elke druppel water moet groei om organiese materiaal met fotosintese te produseer en die ondergrondse fabriek aan die gang te kry, sê Dreyer. “Elke druppel wat wegloop of verdamp, beteken jy het ’n geleentheid verspeel om organiese materiaal en gevolglik koolstof te bou. Ons boer dus eintlik met son.”

Hierdie nuwe begrip van water is deel van die pad met dekgewasse wat hulle die afgelope paar jaar gestap het. “Ek raak baie senuweeagtig as ek nie oorgenoeg dekgewassaad in die skuur het nie, veral van winterdekgewasse.”

Hy meen dit help nie om geenbewerking (wat hulle al die afgelope agt jaar beoefen) sonder dekgewasse in jou boerderystelsel te integreer nie, want dan “stabiliseer jy net jou agteruitgang”. Integrasie van vee wat die dekgewasse en oesreste bewei, versnel grondherlewing nóg meer eksponensieel.

Wisselbou ‘nie genoeg’

Dreyer benadruk dat wisselbou bloot met mielies en sojabone (die algemene praktyk op die Hoëveld) nie voldoende is nie. “Heelwat stikstof in die grond het ál die koolstowwe verbrand, en die grond kliphard gemaak.”

Hy sê ’n peulgewas-tot-gras-verhouding van 80:20 in gewasse is volhoubaarder. 

Navrae: Mnr. Izak Dreyer, e-pos: izakdreyer@zippnorth.co.za of idddreyer@gmail.com; sel 083 406 8989.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.