Turksvye is gesond en gesog, maar omdat dit moeilik is om te pluk en af te skil weens die fyn dorinkies (glogiede) daaraan, is dit ’n doring in die vlees van baie verbruikers wat ander vrugte verkies wat makliker eet. Die bemarking van turksvye was ook altyd ’n probleem met ’n bottelnek wat gedurende spitsoestye ontstaan, en baie goeie vrugte het verlore gegaan. Met ’n ingevoerde ontdoringmasjien word die produksieproses drievoudig versnel.

Dr. Baltus Erasmus, voorheen viroloog by Onderstepoort, en mnr. Lindsay Hunt woeker saam op die plaas Zeekoegat met turksvye, ’n vertakking met heelwat potensiaal. Zeekoegat, hoog in die Langeberge by Heidelberg, is onderverdeel en behoort aan ’n paar boere. Erasmus boer al sedert 1989 hier met turksvye, en Hunt, ’n bekende buffelteler (“Van buffeljagter tot bewaringsboer”, LBW 14 September 2018), is ook direkteur van ’n maatskappy wat Italiaanse landboumasjinerie en werktuie invoer, Farmitaly Implements.

Namate Hunt meer betrokke geraak het by turksvyproduksie, het hulle aandag begin gee aan ’n vinniger manier om turksvye in spitsye te ontdoring. “Ons wou meer gehaltevrute kommersieel bemark en só winsgewendheid verbeter.”

Hunt sê dit is nie blote toeval dat hy saam met Erasmus by die turksvybedryf betrokke geraak het nie. “Dit was so bestem. Hy is die onbetwiste pionier van vrugteboerdery in die omgewing en die breinkrag van die bedryf. Ek is net ’n ‘ryloper’ wat nog baie by hom leer.” Erasmus behartig die produksiekant en Hunt die verwerkingskant.

Turksvye word met ’n voerband na ’n vlekvryestaalrollertafel geneem waar dit geselekteer word.

Somme maak sin

Omdat hy Italië gereeld besoek, onder meer om landbouwerktuie en voertuie na Suid-Afrika in te voer, het Hunt verlede jaar gaan kers opsteek by die organiese turksvybedryf in Sicilië oor praktyke en werktuie. “Ek wou kyk na ontdoringmasjiene omdat dit die ernstige bottelnek in ons produksie was.”

Voorheen het Erasmus ’n tuisgemaakte ontdoringmasjien gebruik waarvan die maksimum kapasiteit 4 ton per dag was. “Ons wou ’n masjien kry wat tot 3 ton per uur gedurende die spitstye kan handhaaf,” sê Hunt.

Dit sou ’n reuse-belegging beteken, maar ná berekeninge is besluit dat die ingevoerde masjien wel kostedoeltreffend sou wees. “Die besluit het in ag geneem dat die masjien vir ’n paar weke per jaar teen maksimum spoed moes werk, en die res van die jaar heelwat kleiner volumes sou verwerk. Die opeenhopings in spitstye is waarskynlik die rede waarom heelwat groot turksvyprodusente die afgelope jare uit die bedryf getree het. Turksvye is ’n baie maklike vrug om te produseer, maar moeilik om te verwerk.”

Hunt het op die Fici-ontdoringmasjien besluit en dit deur sy maatskappy ingevoer. Dit is in Januarie vanjaar in gebruik geneem.

Die doringlose turksvye word op ’n roterende paktafel in kartonhouers gepak.

Só werk die masjien

Turksvye gaan deur vyf prosesse om uiteindelik doringloos op die rak te pryk. “Die vrugte word op groot maat aan die een kant op rollers in die stelsel ‘ingerol’. Hierna gaan dit na die eerste of voor-ontdoringsplatform om die eerste massa los dorinkies te verwyder. Dan word dit van ’n vibrerende tafel met ’n voerband na ’n vlekvryestaal-rollertafel geneem waar dit geselekteer word,” sê Hunt.

In ’n volgende stap word dit na ’n 3 m lange vlekvryestaal-ontdoringseenheid vervoer, waar die grootste deel van die ontdoringsproses plaasvind. Die doringlose turksvye vloei daarna na ’n roterende tafel waar werkers dit sorteer en in kartonhouers verpak. Die masjien kan met gemak tot 12 ton turksvye per dag, oftewel 3 t/uur verwerk, sê Hunt.

Mnr. Lindsay Hunt by die kontrolebord van die ontdoringmasjien. Hy het dit uit Italië ingevoer om die produksieproses gedurende spitsoestye uit te stryk.

Lang pad saam met turksvye

Behalwe turksvye produseer Erasmus ook avokado’s. “Dit is ’n ‘maklike’ boerdery, want nadat die bome gevestig is, behels dit grootliks besproeiing en plukwerk.”

Nadat hy in 2006 proewe gedoen het oor watter avokado-kultivars die beste in die Suid-Kaap sou aard, het hy uiteindelik op die kultivar Lamb Hass besluit omdat hulle ses tot agt weke later as Hass ryp word, wat ideaal is vir die plaaslike mark. Tans is sowat 7 ha onder avokado’s op Zeekoegat, en hy lewer feitlik sy hele oes aan Woolworths. Maar terug by turksvye . . .

“Toe ek in die 1970’s by Onderstepoort gewerk het, het ek saam met die entomoloog wyle dr. Charles Howell, wat waarlik die pionier van turksvye in die land was, gewerk. Destyds is turksvye as ’n derderangse vrug beskou, en hy het dit sy taak gemaak om dit te verander.”

Erasmus het op sy kleinhoewe by Wonderboom turksvye geplant en daar touwys begin raak. In 1989 het hy ’n plaas by Robertson gekoop. Daar het hy die eerste keer turksvye kommersieel aangeplant en bemark. “Ek het sowat 5 ha onder turksvye gehad en dit self in omliggende dorpe bemark.”

Die turksvye in kartonhouers, reg vir die mark.

In 2002 het hy daardie plaas verkoop en ’n gedeelte van 220 ha van Zeekoegat gekoop. “Die plaas het moontlikhede gehad vir veral avokado’s, en omdat water soms skaars is, het ek gedink turksvye kan ’n pasmaat daarvoor wees in droër jare – turksvye kan die avokado’s ‘dra’ in droër tye.”

In 2006 is die eerste turksvye gevestig. “Aanvanklik net twee hektaar, want ek wou eers ’n vaste mark skep voor ek groter gaan”. Erasmus het die drie mees kommersieel-bemarkbare turksvykultivars geplant, naamlik Gymno Carpo (oranje), Algerian (pienk) en Morado (wit).

Omdat hy reeds aan Woolworths avokado’s gelewer het, het hy sowat vyf jaar gelede voelers na dié winkelgroep uitgesteek. “Hulle het belang gestel om dit op ’n volhoubare wyse te bemark, en sedertdien word feitlik die hele oes aan hulle gelewer.” Tans is 25 ha onder turksvye, maar alles is nog nie in volle produksie nie. Nuwe plante neem normaalweg drie jaar voor die eerste oes afgehaal kan word.

Dr. Baltus Erasmus tussen turksvyboorde.

Goeie opbrengs

Turksvyplante kan baie hoog groei en moet in toom gehou word. Hulle verkurk van onder af, en word op hoogstens 1,8 m vir oesgemak gehou. Deur snoei word ook voorkom dat die plant te breed groei. Die produksieleeftyd is normaalweg sowat agt jaar. Daarna word plante fyngekap en op die grond gelaat, waar die stukke uitdroog.

’n Turksvy moet reg gepluk word ook om sy raklewe te verleng – ’n stukkie van die blad moet saam met die vrug afgesny word. Daardie stukkie blad word binne dae droog, maar die vrug self word in die proses op ’n natuurlike wyse geseël wat daaraan ’n raklewe van tot ses weke gee in ’n koelkamer teen 6 °C.

’n Spesiale oesskêr is aanvanklik deur iemand by die WNNR ontwikkel, maar dit het later doodgeloop. “Daarom maak ons nou ons eie skêr met beskermende ‘grypers’ om die vrugte mee reg te oes sonder om dit te kneus of te laat val.”

Turksvye pas oor die algemeen goed aan in Suid-Afrika. Talle kultivars is al in 1914 uit kultivars van Mexiko en via Kalifornië, geplant en geselekteer. In Suid-Afrika is ’n eerste moederblok jare gelede by die Grootfontein-landboukollege naby Middelburg gevestig, waar kultivarproewe gedoen is. Minstens vier kultivars is later geïdentifiseer as ideaal vanweë hul goeie opbrengs en raklewe.

“In die 1980’s het dit so goed gegaan dat ’n SA Turksvykwekersvereniging met Howell as eerste voorsitter tot stand gekom het. Ek was destyds ’n stigterslid en dit was ’n goeie leerskool,” vertel Erasmus.

Só word ’n turksvyvrug geoes: ’n Spesiale oesskêr wat die vrug vashou en keer dat dit kneus, sny dit met ’n stukkie van die blad af om die raklewe daarvan te verleng nadat die bladstuk weggedroog het.

Produksiesyfers

Turksvyproduksie wissel van 10 t tot 20 t/ha. “Al haal ons net 10 t/ha af, is dit steeds betalend om te produseer,” meen Erasmus.

Soos by die meeste vrugsoorte, is uitdunning belangrik om goeie gehalte te verseker. Turksvye vorm nie uit ’n blom soos by ander vrugsoorte nie, maar begin deur ogies (areole) wat aan die blad ontstaan. Tot 20 of meer ogies kan op ’n blad ontwikkel. Eers wanneer die ogies al taamlik uitstaan, begin ’n blommetjie vorm, en daarna die pitte. Vir uitdunning word die jong vrugogies afgehaal. “Ons behou normaalweg vier ogies per blad met goeie spasiëring tussenin wat tot goeie vrugte ontwikkel.”

’n Blad bevat genoeg vog om vier goeie turksvyvrugte te produseer, en uitdunning vind plaas voordat dit te veel groei-energie en vog gebruik. ’n Turksvyvrug van bemarkbare gehalte weeg gemiddeld van 140 g tot 150 g – 100 g is die minimum. Turksvye lewer jaarliks ’n paar dragte, waarvan die eerste die grootste en beste is.

“Net die eerste en tweede drag se vrugte is kommersieel bemarkbaar aan Woolworths, terwyl buite-seisoenvrugte uit dragte drie en vier se gehalte gewoonlik nie goed genoeg is daarvoor nie. Dit word plaaslik bemark.”

Tans is daar sowat 25 ha turksvyboorde op Zeekoegat.
Jong, gevestigde turksvye. Dit duur sowat drie jaar vir ’n turksvyplant om in produksie te kom, en sy produksieleeftyd is sowat agt jaar.

Bemesting bestaan grootliks uit die toediening van stikstof waar nodig, maar dit is ’n fyn balanseertoertjie omdat die plante as ’t ware vegetatief “ontplof” as te veel gegee word en dit moeilik beheerbaar maak. “Ons het die probleem feitlik oorbrug deur fyn bestuur.”

Erasmus sê turksvyproduksie is arbeidsintensief en gedurende spits-oestye word ekstra plukkers gehuur vir ses tot sewe weke. Hy het ses heeltydse werkers op die plaas wat die snoei en uitdunwerk doen.

Die grootste voordeel van die ontdoringmasjien is dat die ernstige bottelnek wat vroeër veroorsaak het dat baie van die hoëgehalte vrugte tot niet gegaan het, nou makliker oorbrug word, meen Hunt en Erasmus. Deur nuwe tegnologie in te span, kon nuwe lewe in die produksie geblaas word, wat ook tot arbeidsbesparing lei.

Jong turksvyvruggies wat aan ’n blad vorm. Turksvyvrugte vorm nie uit ’n blom soos by ander vrugsoorte nie, maar begin deur ogies wat aan die blad ontstaan.

LBW vra . . .

Mnr. Lindsay Hunt

Watter tegnologie is onontbeerlik?

Ek probeer toerusting en werktuie gebruik wat ongeskoolde arbeid grootliks uitskakel, sodat meer geskoolde werkers ingespan kan word.

Wat is die beste raad wat jy nog ontvang het?

Gebruik jou grond soos ’n bank – verbeter dit altyd in goeie jare sodat dit in ’n goeie toestand is in moeilker jare.

Wat is die grootste boerderyfout wat jy al gemaak het?

Om nie van elkeen by wie ek iets kon leer, geleer het nie.

Watter aspek het die grootste impak op jou boerdery gemaak?

Die onlangse daling in die pryse van wildspesies veroorsaak dat meer gekonsentreer moet word op kombinasie-verskeidenheid – waaronder turksvye – om wins te maak.

Het jy ’n mentor?

Wat praktiese boerderypraktyke betref, het ek oor die jare baie by mnr. Mike Gregor van Elandsberg-plase geleer. En dan natuurlik dr. Baltus Erasmus, wat my, behalwe van turksvye, baie van grond en grondbestuur geleer het.

Wat was jou beste besluit ooit?

Om die soms skynbaar onmoontlike dinge aan te pak en ’n sukses daarvan te maak. Hoe bemark jy jou produkte? Deur regstreekse kliënteverwysings, asook “word of mouth”.

Het jy maatreëls om jou boerdery se voortbestaan te waarborg?

Ons is maar tot ’n mate oorgelewer aan die politieke klimaat in die land en daarom moet ons aanpasbaar bly. Ons belê egter in strukture en modelle wat ons tot minstens 2030 sal dra.