Baie mense het iewers ’n kisvrieskas waarvan die kompressordeel gekalf het, en dit gaar iewers in ’n skuur of buitekamer stof op. Hierdie vrieskas kan wel nie meer koud maak nie, maar kan wel iets koud hou.

’n Koelhouer van 60 liter kos enigiets vanaf R2 700 en vir ’n groot kampyskas van 90 liter kan jy tot R15 000 opdok. Na gelang van die handelsnaam kan dit dus enigiets van R45 tot R160 per liter kos om vleis koel te hou. Bereken nou maar ’n deursneegrootte kisvrieskas op dié manier en jou oë gaan traan, sê mnr. Steyn Bornman, ’n beesboer van Northam in Limpopo.

Hy sê hoewel ’n mens sy plan – of “sy beste vriend”, soos hy al daarna verwys het – nie na ’n gewone braai of uitstappie kan saamsleep nie, was dit vir hom ’n oplossing op jagtogte wanneer jy groot hoeveelhede vleis moet vervoer. Hy het immers nooit genoeg pakplek gehad vir sy wildsvleis ná ’n jagtog nie – en die ys en bier op pad na die bestemming het ook maar gelol . . .

Hy het begin kyk na maniere om sy kisvrieskas te benut. “Eerstens het dit plek vir vleis wat in vyf groot koelhouers pas.”

Bornman gaan jag graag in die Kalahari en wanneer hy die lang pad van die Bosveld na die westelike dele van die land moet aandurf, ry hy en ’n vriend met sy plaasbakkie en laai die kisvrieskas agterop.

Die koelhouvermoë van die kisvrieskas het hom verras omdat die wande van ’n gewone vrieskas baie dikker is as die standaardkoelhouer. Tradisionele koelhouers het ’n baie dun polistireenlaag tussen die plastiekbuitewande – en dit is dié materiaal (polistireen) wat die ideale isolasievermoë het. “Plastiek maak egter net toe, dit maak nie koud nie,” sê Bornman.

Hy het al op plekke soos Van Zylsrus, meer as 700 km ver, gaan jag en sy biltongvleis nog yskoud teruggevat huis toe. Om die temperatuur so laag moontlik binne te hou, pak hy ook soms vleis wat reeds gevries is, bo in die vrieskas. Dié bevrore pakkies bly ongeveer 12-18 uur lank bevrore.

Om vleis tuis op sy plaas te vries, plaas Bornman ’n herwonne waterpyp tussen vleislae om beter lugsirkulasie en ’n doeltreffender vriesproses te verseker. Jy kan ook ’n dunner 15 mm-pyp gebruik.

Terug by die huis . . .

Terug by die huis moet die hele jagtog se vleis in sy (werkende) vrieskas bewaar word. Nadat al sy wildsvleis ’n jaar gelede in sy vrieskas tuis bederf het omdat die vleis nie vinnig genoeg gevries het nie, het hy met nóg ’n blink plan vorendag gekom. “Vleis in die middel van die vrieskas bly lank warm omdat die koue lug nie lekker sirkuleer nie. Die vleis hou ‘homself’ dan warm.”

Om beter sirkulasie te verseker, hy het ’n herwonne waterpyp (gewone klas 3) in stukke van sowat 30 cm gesny en dit in lae tussen sy vleispakkies geplaas voordat hy sy vleis vries. Hy boor ook gate in die waterpyp om vir nog meer ventilasie van koue lug te sorg.

Keer dat vleis vasklou

Die “vleispype”, soos Bornman dit noem, dien dan ook ’n dubbeldoel omdat die vleis nie teenaan mekaar verpak is nie en makliker losgewikkel kan word. ’n Plaasvrieskas word gewoonlik ook volgeprop om al die vleis in te kry, veral wanneer bees geslag word. Min mense het nog nié gesukkel om vleispakkies heel onder in die vrieskas met ’n mes, skroewedraaier of kookwater te probeer loskry nie.

Heel onderin die vrieskas pak Bornman dus eers ’n paar “vleispypies” waarna hy die eerste laag vleispakkies insit om te keer dat die vleis aan die wand van die vrieskas vaskleef. Daarna volg nog ’n laag pypies. Die proses word herhaal sodat daar ’n gaping tussen elke laag vleispakkies is om beter lugsirkulasie te verseker.

Hoewel hy ’n pypgrootte van 50 mm gebruik, kan dunner pyp vanaf selfs net 15 mm gebruik word. Die voordeel van dunner pypies is meer pakruimte vir verskillende vleissnitte.

Agter slot en stofdigte grendel

Goeie nuus trek, en soos Bornman se vriende die plan raakgesien het, word die einste vrieskas agterop hul bakkies gelaai en bied stofdigte pakplek vir hul klere, tente en slaapsakke as hulle die grondpaaie aandurf vir ’n kamp. “ ’n Mens kan ook ’n slot aanbring om die boewe af te skrik.”

Die “Kalahari-koelboks”-idee word ook vir Bornman en sy vriende ingespan wanneer hulle maandeliks vir groot inkopies dorp toe gaan – alles netjies verpak sodat niks platdruk nie. En soos die Kalahari-gesegde lui: “Meel onder, brood bo!”

Navrae: Mnr. Steyn Bornman, sel 084 584 1333.