Tot nou toe het ’n spilpunt basies net een taak gehad: om gewasse te besproei. Bygesê, nuwe elektroniese toepassings het darem al bygekom wat die boer in staat stel om sy spilpunt met sy selfoon aan- en af te skakel, maak nie saak waar in die wêreld hy hom bevind nie.

Nou neem spilpunttegnologie ’n reusesprong die ruimte in sodat dit met behulp van kameras enige toestand kan eien wat die gewas strem, soos ’n siekte, plaag, onkruid en droë grond. Dit sal die boer in staat stel om betyds regstellende stappe te doen om skade te voorkom of beperk wat die oesopbrengs andersins sou skaad.

Mnr. Josh Dixon, ondervoorsitter en hoofbestuurder van Valley Irrigation Internasionaal op Valley in die Amerikaanse deelstaat Nebraska, het op ’n inligtingsdag by Brits in Noordwes aan Landbouweekblad gesê dit is die eerste stap in ’n groot revolusie in die spilpuntbedryf. Dié ontwikkeling word moontlik gemaak danksy ’n verspreidings- en gesamentlike ontwikkelingsooreenkoms wat vanjaar met die Israeliese maatskappy Prospera Technology aangegaan is.

Dié maatskappy staan aan die voorpunt van groentetonneltegnologie, is die markleier met digitale boerdery en gebruik gevorderde toestelle vir boerdery in groentetonnels om siektes, plae en algemene spanningstoestande deur middel van gevorderde kameras te identifiseer.

Op sy beurt is Valley, wat aan die moedermaatskappy Valmont behoort, die wêreld se markleier met spilpunte met ’n aandeel van méér as 50%. Hy het reeds 300 000 spilpunte wêreldwyd verkoop. Valley is in 1946 gestig om landboutoerusting te vervaardig en te verkoop. ’n Paar jaar later het hy ’n patent vir ’n spilpunt ontdek wat nie doeltreffend gewerk het nie. Dit het nietemin ’n beginsel vir die oorhoofse besproeiing van gewasse daargestel. Die maatskappy het die patent gekoop en ingenieurs het ná vyf jaar se werk die wêreld se eerste spilpunt in 1954 die lig laat sien.

Moniteer gewasse

Danksy die ooreenkoms kan Valley nou Prospera se tegnologie op die spilpunte gebruik om plae, siektes, gewasontwikkeling, plantgesondheid en strestoestande te moniteer sodat die boer dadelik kan optree met die regte behandeling of ander nodige stappe te doen om sy oes te beskerm. Dit kan enigiets van plaag- en onkruidbestryding tot ekstra besproeiing behels. “Ons spilpunte sal byvoorbeeld ’n insek kan identifiseer en ’n teksboodskap aan die boer stuur om hom te waarsku. So raak die boer vinniger van ’n bedreiging bewus en kan dadelik optree.”

’n Spilpunt gaan nie langer bloot ’n stuk toerusting op ’n besproeiingsplaas wees wat gewasse besproei nie, maar sal gewasbestuur oor ’n breër spektrum moontlik maak. Dit sal ’n outonome rol in algehele gewasbestuur begin speel. Die boer sal selfs inligting oor sy gewasse op verskillende spilpuntlande kan saamvoeg en ontleed en dit gebruik om ’n breër prentjie raak te sien, alles gegrond op wetenskaplike inligting. Dit sal lei tot groter oeste, beter doeltreffendheid en volhoubaarheid.

Die maatskappy het reeds ver gevorder met die toets van kameras op spilpunte om strestoestande waar te neem by graan- én peulgewasse en groente. Dixon meen die toetse sal spoedig bevredigend afgehandel wees en dat boere dit reeds in 2020 sal kan gebruik, Suider-Afrika ingesluit. “ ’n Boer hoef nie eens duur kameras op sy spilpunte te installeer nie. ’n Aantal goedkoop selfone met data sal doeltreffend wees om die gewasse te moniteer; moontlik dertig selfone per spilpunt.”

Waarneming vanuit ruimte

Hy het nóg ’n nuwe konsep, naamlik Valley Insights, verduidelik waarmee gewasse vanuit die lug gemoniteer word. Dit is ’n gevorderde diens wat gegrond is op kunsmatige intelligensie, die integrasie van masjiengeleerdheid en wetenskaplike data. Kyk by www.valleyirrigation.com om te sien hoe dit werk.

In die praktyk sal dit volgens Valley se webwerf só werk: Die boer gaan ’n ooreenkoms met Valley aan en verskaf die ligging van sy verskillende besproeiingslande met behulp van satelliettegnologie (GPS). Valley hou die land deurlopend met satelliete, hommeltuie en vliegtuie dop om ongewenste toestande uit te wys.

Toerusting wat die grondvog meet, word ook gebruik. Dié gevorderde toerusting kan buitengewone toestande waarneem lank vóór dit met die blote oog sigbaar is. Die inligting word in die Prospera Cloud ontleed deur kragtige, kunsmatige intelligensie en algoritmes te gebruik. Dan word die boer verwittig as daar iewers fout is, byvoorbeeld siektes of plae wat die gewasgroei aan bande lê en die oes kan skaad.

Die boer hoef dus nie sy eie ervaring te gebruik om toestande te vertolk wat hy waarneem nie en kan betyds die regte stappe doen om sy oes te beskerm volgens riglyne wat die maatskappy verskaf.

vennootskappe

Dixon sê die diens is nog só nuut dat net sekere lande reeds vanjaar toegang daartoe gekry het, waaronder Suid-Afrika. Teen einde vanjaar sal die gevorderde toerusting reeds op meer as 400 000 ha wêreldwyd aangewend word. As satellietdekkings dalk nie in bepaalde gebiede moontlik is nie, sal hommeltuie en vliegtuie gebruik word om foto’s van die landerye te neem om probleme uit te snuffel. Satellietwaarneming dek nietemin feitlik die hele Suider-Afrika en kan dus vorentoe ’n nóg groter rol in presisieboerdery speel.

Dixon sê nóg vennootskappe met byvoorbeeld gewasbeskermings- en saadmaatskappye kan volg. “Dié maatskappye versamel reeds ongelooflike hoeveelhede goeie inligting wat ontleed en gebruik word om nuwe saad- en ander tegnologie te ontwikkel. Dit gaan daaroor om die boer in staat te stel om alles moontlik te doen om te verseker hy kry die hoogste opbrengs uit die gewas wat hy aangeplant het en waaroor hy waak.”

Spilpunte in Afrika

Mnr. Louis Clark, hoofbestuurder van Valley Besproeiing in Suider-Afrika, het gesê hul spilpunte is sedert 1979 in Suider-Afrika beskikbaar. Daar is 23 handelaars wat die produkte aan boere in Suid-Afrika voorsien, asook handelaars in Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, Uganda, Kenia en Angola. “Dekades gelede was vloedbesproeiing die enigste manier van besproeiing. Die koms van spilpunte het opbrengste verhoog en watergebruik en risiko’s verlaag.”

In Afrika besproei die meeste boere hul gewasse met bogrondse waterbronne. Dus moet die landerye langs riviere of in besproeiingskemas wees. In Amerika is besproeiing grootliks afkomstig van ondergrondse waterbronne. Suider-Afrika is nie so gelukkig om sulke groot ondergrondse bronne te hê nie en is op riviere, damme en boorgate aangewese.

Valley het reeds sowat 16 000 spilpunte in Suider- en Oos-Afrika verkoop; méér as die helfte van die sowat 30 000 spilpunte in dié deel van Afrika. Spilpunttegnologie het al baie gevorder. “Dit is soortgelyk aan die motorkar. Die eerste spilpunte was soos die eerste motor wat op groot skaal vervaardig is, die Model T Ford. Dit was net ’n basiese spilpunt. Vandag ry mense met motors wat ongelooflik gevorderd is. Dieselfde geld spilpunttegnologie.”

Dit is in die boer se hande om toe te sien alles verloop reg met die benutting, bestuur, instandhouding, aanpassing en evaluering van die spilpunt. Foto’s: Verskaf

Regte aanwending

Verbetering in tegnologie gaan nie soseer oor die spilpunt se struktuur nie, maar hoe die spilpunt en sy tegnologie aangewend kan word. Met sy selfoon kan die boer dit van enige plek in die wêreld aan- en afskakel, vorentoe en agtertoe laat beweeg, die spoed waarteen dit beweeg en ’n sirkel voltooi aanpas en die hoeveelheid toegediende water verander. As dit genoeg reën, skakel die boer die spilpunt af.

Daar is tegnologie wat ’n spilpunt vanself afskakel met behulp van ’n sensor wat die humiditeit in die lug meet en bepaal of dit gereën het. Dit kan selfs onderskei tussen ’n stofnatbuitjie en ’n donderstorm wat groot hoeveelhede water laat neerstort. Hy kan ook dele van ’n land méér of minder as die res van die sirkel besproei om die hoogste opbrengs met doelmatige besproeiing te vermag. Sodoende word oorbesproeiing in hierdie waterskaars wêrelddeel gekeer. Dit is moontlik danksy satelliettegnologie.

Die boer gebruik grondmonsters en -ontledings om ’n grondkaart van ’n land op te stel wat elke deel se opbrengspotensiaal toon wat onder meer deur die grond se vrugbaarheid, soort en diepte bepaal word. Daarmee gebruik hy inligting vanaf ’n stroper se opbrengsmonitor wat elke deeltjie se opbrengs haarfyn meet. Dan kan die boer presisieboerdery toepas deur nie net die saad afwisselend te plant nie, maar ook bemesting en plaagbestryding afwisselend doen.

Afwisselende besproeiing is ook nou moontlik deur spuitkoppe op die spilpunt in beweging aan- of af te skakel. Suider-Afrika het wisselvallige waterbeskikbaarheid en dit moet so doeltreffend moontlik gebruik word. Soos Clark dit stel: “Om die minimum water te gebruik om die maksimum opbrengs te verkry – ons het die tegnologie om dit moontlik te maak.”

Clark is ’n rekenmeester van beroep wat aan die ou Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) gestudeer het. Ná universiteit het hy in die oudit-, petro-chemiese en laboratoriumbedryf gewerk en in 2016 by Valley aangesluit. Die hoofkantoor is in Nigel, Gauteng. Wat vir hom belangrik is, is die maatskappy se waardestelsel. Dit staan op vier pilare, naamlik passie, integriteit, voortdurende verbetering en resultaatgedrewendheid. Dit stel Valley in staat om produkte en diens aan die boer te bied wat gelykstaande is aan die produkte wat hy produseer. 

Navrae: E-pos: louis.clark@valmont.com; 082 925 1125.

Sorg vir jou spilpunt vir beste diens

Die beskikbaarheid van vars water vir landboudoeleindes verander vinnig en druk neem toe op boere om dié kosbare hulpbron toenemend met ander verbruikers te deel, het mnr. Uli Peters, ’n besproeiingsontwerper en lid van die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut, gesê.

Internasionaal reën dit gemiddeld 857 mm per jaar, maar Suid-Afrika kry gemiddeld net 450 mm waarvan 80% boonop binne vyf maande val. Daarom is besproeiing so belangrik, veral die skedulering daarvan om dit so doeltreffend moontlik aan te wend. “Die boere weet dit gelukkig, want water is skaars en duur, en geen boer sal water moedswillig vermors nie,” het hy gesê.

Mnr. Kofi Annan, voormalige sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies en ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, het nie sonder rede ’n “blou revolusie” bepleit nie. Peters het gesê almal, navorsers, ontwerpers, vervaardigers, verskaffers en boere, moet saamwerk. Hy het riglyne verskaf wat boere kan volg om húl deel tot die doeltreffende benutting van water by te dra. Met die toepassing van klein stappe in die bestuur en die neem van enkele lesings kan groot verbeterings met min moeite bewerkstellig word. Optimaliseer die besproeiingstelsel op die plaas sodat dit maksimum diens kan gee.

Die ontwerper se taak behels beplanning en ontwerp. Daarna is dit die boer se plig om te verseker alles verloop reg met die bestuur, instandhouding, aanpassing en monitering daarvan. “Hou die besproeiingstelsel die hele tyd dop en leer dit ken om betyds veranderings of aanpassings in die benutting aan te bring as iets nie 100% reg funksioneer nie. Evalueer dus die doeltreffendheid en pas aan wanneer dit nodig is,” sê Peters.

Optimaliseer stelsel

Die nagaan van die ontwerp, die evaluering en instandhouding van die stelsel en besproeiingskedulering hou verband met mekaar. As die ontwerp nie reg is nie, slytasie plaasvind of die situasie op grondvlak verander het, kan die boer byvoorbeeld nie behoorlik skeduleer nie. Daarom moet hy voortdurend evaluering en instandhouding doen.

’n Evalueringsprogram behels basiese meting en monitering. Veral die meet van die eenvormigheid van waterlewering is belangrik. By spilpunte byvoorbeeld kan reënmeters op eweredige afstande oor die land geplaas word om die doeltreffendheid van die waterverspreiding te bepaal. Die boer kan selfs eenvormige plastiekhouers gebruik, want dit gaan nie net oor die hoeveelheid water wat gespuit word nie, maar ook oor eenvormige toediening.

’n Basiese evalueringsprosedure behels die volgende:

  • Die meet van die inlaatdruk van die blok of spilpunt.
  • Die meet van tuitdruk en -lewering.
  • Die nagaan van stelseluitleg (pypgroottes, -lengtes en -roetes).
  • Die nagaan van die pomp se suig- en leweringstoebehore, die dienspunt, lees van elektriese stroom en luister vir pompkavitasie.
  • Die optimalisering van die skedule van blokke/sprinkelaars wat gelyktydig werk of die nagaan van ’n spilpunt se loopspoed.

Die bestudering en veilige bewaring van algemene installasie-inligting. Die monitering van stelselwaterverbruik.

“Die dae is lankal verby dat die boer die grond skop om te kyk of dit nat is. Hy het nou moderne skeduleringshulpmiddels en professionele diensteverskaffers om die toediening te meet, vas te stel hoeveel water in die grond is en wanneer besproeiing moet plaasvind,” het hy gesê.

As die stelsel reg is, kan die boer sy besproeiing doeltreffend skeduleer sodat die opbrengs, gehalte en wins kan styg, die water- en pompkoste daal en loging van kunsmis kan verminder. 

Navrae: E-pos: uli@sabi.co.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.