Die landwye droogte lei tot ’n toename in hanslammers, en ál meer planne moet beraam word om die kleintjies met so min as moontlik arbeid groot te kry. Mnr. Giffie Rautenbach van Petrus Steyn boer met SA Vleismerino’s. Hy het met ’n ronde melkkroeg van vlekvrye staal met suipplek vir 18 lammers op ’n slag dié voedingsprobleem op sy plaas, Fredericksdal, oorkom.

Die ronde struktuur kan nie maklik deur die diere omgekeer word nie. Omdat lammers se ouderdom en voedingsbehoeftes wissel en die groteres dikwels die kleiner lammers verdring, moes hy ’n melkkroeg ontwerp met kompartemente van verskillende groottes sodat almal volgens behoefte kan suip. “Hanslammers se voedingstempo wissel aansienlik. As hulle in ’n groep suip, kan jy nie bepaal hoeveel elkeen suip soos wanneer jy hulle individueel versorg nie. Die sterkste lammers suip vinniger en verdring die jonger diere.”

Die binnekant van sy melkkroeg is in drie kompartemente verdeel: In die helfte vir nege lammers, terwyl die ander helfte twee kompartemente het wat vir onderskeidelik drie en ses lammers voorsiening maak. Die kleinste houer word gebruik vir die drie swakste lammers. “Die kleintjies suip omtrent almal teen dieselfde tempo. Dit beteken elkeen sal sowat 300 ml van ’n liter melk uit dié houer inkry.”

Die groter lammers word uit die volgende bak met die ses lamspene gevoer, terwyl die grootste lammers toegelaat word om op eie stoom uit die ander helfte van die melkkroeg te suip.

Mnr. Giffie Rautenbach

Voordeel van vaste stowwe

“Sodra die lammers 14 dae oud is, word ’n mengsel van 4,5 liter melk en mielie- en sojameel in die groter helfte van die melkbak gebruik.” Sy rede vir dié byvoeding is rumenontwikkeling in die afwesigheid van die lakterende ooi. “Die inname van vaste stowwe in ’n vroeë stadium van ontwikkeling help die lammers om self vinniger te begin vreet.”

Om te keer dat die meel die lamspene verstop, brand hy die gaatjies in die spene tot ’n grootte van sowat 5 mm. Geen vermorsing vind plaas wanneer die lam ophou suig nie, aangesien die mengsel bloot deur swaartekrag na die bak terugvloei. Die mengsel moet voortdurend met ’n spaan geroer word om die suspensie vloeibaar te hou. Rautenbach se gebruik van vaste stowwe in die grootmaak van hanslammers beperk ook die voorkoms van diarree, iets wat dikwels voorkom wanneer lammers nie deur ’n ooi versorg word nie. Hy hou ’n paar melkkoeie vir die hanslammers aan.

Die gebruik van vlekvrye staal jaag die prys van die melkkroeg op. Rautenbach raam ’n soortgelyke toestel, arbeid ingesluit, sal sowat R2 000 kos. Dié metaal is roesvry en maak maklik skoon. ’n Plastiekpyp met ’n deursnee van 6 mm verbind die bodem van die bak met die lamspeen. Die speenverbindings word maklik met ’n tuinslang skoongespuit nadat die bak gewas is. Die melkbak is op ’n raamwerk met vier pote gemonteer op ’n gerieflike hoogte vir die lammers.

Die bo-aansig van die ronde melkkroeg toon die drie verdelings in die melkbak met, kloksgewys van links bo, voorsiening vir die swak lammers, die sterker diere, en die sterkste diere wat behoorlik om die beskikbare melkaanbod meeding. Foto: Vida Booysen
’n Stewige voetstuk-raamwerk verseker dat die lammers nie die melkbak omkeer nie. Die gate in die lamspene word vergroot om te keer dat die meelsuspensie die stelsel verstop. Foto: Vida Booysen

Vinnige pas met baie hanslammers

Op mnr. Philip Botha, Noord-Kaapse Jongboer van die Jaar, se plaas naby Britstown word ’n hoë speensyfer gehandhaaf. Die Bothas se intensiewe Merinoboerdery benut onder meer lamhokke vir meerlinge en ’n eie voerkraal (sien ook “Kuddeboer kraai koning met voerkraal”, LBW, 4 Oktober 2019).

Sy vrou, Zané, versorg jaarliks 80-100 hanslammers, meestal meerlinglammers wat die ooie nie kan versorg nie. Dié lammers word eerste gespeen om op die koste van die duur melk te bespaar en word in hul voerkraal aangepas. Sodra die ander speenlammers na die voerkraal verskuif word, is dit die hanslamgroep wat die nuwelinge help aanpas. Ná afronding behaal die hanslammers tans R1 400 elk.

Philip se melkkroeg is ’n reghoekige trog van staalplaat waarvan die V-vormige bodem verseker dat die melk – bokmelk in dié geval – tot die laaste druppel opgesuig kan word. Lammers suip in groepe van 24 aan spene wat gekoppel is aan pypies wat tot in die bodem strek. Met die laparoskopiese bevrugting van sy ooie verseker Philip ’n besettingsyfer van 140%. Hy gebruik net een jaarlikse lamtyd. “Ek laat ál my ooie – sowat 5 000 – sinchroniseer en in Oktober of November laparoskopies bevrug, maar weens ongunstige produksietoestande en sowat 12 000 ha wat weens die droogte nie benut kon word nie, is die mikpunt vanjaar 4 000 ooie.”

Hy ondervind ’n sukseskoers van 10% tot 15% hoër met laparoskopie as met kunsmatige inseminasie, en 50-55% van die lammeroes is meerlinge. Op dag 42 ná die laparoskopiese prosedure word die behandelde ooie geskandeer om hul dragtigheid te bevestig. Hulle word in groepe van een-, twee- en drielinge ingedeel.

mnr. Philip Botha
Wildebeestkooi se hanslammers is min of meer ewe oud wanneer die Bothas hulle moet begin versorg. Derhalwe werk mnr. Philip Botha se eenvoudige melkbak goed om elkeen ’n suipkans aan die bokmelk te gee. Foto: Philip Botha
Me. Zané Botha met ’n groep van haar “stiefkinders” wat sy jaarliks onder haar vlerk neem. Foto: Philip Botha

Intensiewe versorging

Philip kan sowat duisend meerlingooie in lamhokkies versorg. Indien dit nodig is, kan van die oortollige ooie in klein kampies of in die voerkraal gehuisves word voordat hulle lam. Die meerlingooie word ses weke voor lamtyd op voerkorrels in die voerkraal met ’n daaglikse rantsoen van deurvloeiproteïene van 2,8-3 kg vir melkproduksie aangepas. “Van laparoskopietyd tot die dag van lam verloop sowat 152 dae. Oor ’n tydperk van 10 dae lam die duisend ooie, en hul versorging is taamlik intensief.” Sodra die pasgebore lammetjie opstaan, maak hulle seker hy of sy begin suip. Die drie- en vierlinge word goed dopgehou om te bepaal of die ooi hulle kan versorg. Indien nie, word hulle as hanslammers met die melk van sowat 35 melkbokke versorg. Vir Zané is lamtyd die hoogtepunt van die jaar. “Ons hele jaarbeplanning wentel om lamtyd. Dit is spesiaal om te sien hoe die proses voltrek word.” 

Navrae: Mnr. Giffie Rauten-bach, e-pos: gfrautenbach@vodamail.co.za, 083 204 6720; mnr. Philip Botha, e-pos: pj1botha@gmail.com, 082 445 5539.