Graanboere in die betreklik plat dele van die noordelike saaigebiede pas al geruime tyd beheerde spoorverkeer toe, maar nog net een boerdery in die Wes-Kaap het onlangs met dié praktyk begin.

Beheerde spoorverkeer is ’n praktyk wat ontwikkel is om beweging met swaar masjinerie oor lande tot dieselfde stel “spore” te beperk, en só vele voordele in die dele tussen die spore te kry.

Mnr. Hume Schönfeldt, van die plaas Heuningneskloof buite Caledon, sê sy pa, Heinrich, het nog altyd aan die voorpunt van ontwikkelinge in tegnologie en boerderypraktyke probeer beweeg.

“Ons lande is stelselmatig groter gemaak met die gedagte dat ons met die een of ander vorm van beheerde spoorverkeer moet begin. Maar ons het ons altyd teen probleme vasgeloop. Toe ek in 2015 begin boer het, het ons besluit om verby die probleme te kyk en oplossings te kry.”

Hulle het nie juis ’n keuse gehad nie. “Ons móés oorskakel.”

Hy het ook goeie raad gekry van mnr. Bert Badenhorst, wat vir die Kaapse plantervervaardiger Equalizer werk, en dikwels tussen die boere in Australië kom. “Badenhorst het gesê as daar een boerdery is wat beheerde spoorverkeer kan toepas, is dit ons.”

Hy beskou die feit dat hulle die graan voor oestyd moet platsny as hul grootste struikelblok. “Ek het baie navorsing gedoen en nêrens inligting gekry van mense wat beheerde spoorverkeer doen én platsny nie. Die grootste probleem daarmee is as jy saam met die ry oes.”

Van die trekkers op die plaas moes wyer gemaak word.

Hulle het ook gemeen die skuinstes op die plaas gaan ’n probleem wees, maar toe hy sy pa oortuig het om na beheerde spoorverkeer oor te skakel, het hulle ’n DBX-skyfplanter aangeskaf. Met die skyfplanter se nouer spasiëring van 172 mm, teenoor die 300 mm van die tandplanter, sukkel hulle nie meer om saam met die rye te oes nie.

Aangesien die skyfplanter se plantereenhede almal in een ry is, sukkel hulle ook nie met kraploop (crabbing) op die skuins lande nie. Hy sê hulle is gelukkig dat hul grond oor die jare so verbeter het dat hulle wel ’n skyfplanter kan gebruik.

Volgens Schönfeldt het hulle nie juis nodig gehad om nuwe werktuie en trekkers te koop nie. “Die meeste van ons werktuie en trekkers kon ons self aanpas, maar een van die trekkers moes ons na Overberg Agri se werkswinkel op Bredasdorp neem om die wiele uit te skuif.”

Al probeer hulle van platsny wegkom, was hul ou 9 m-platsnyers die grootste probleem, en het hulle dit met ’n 12 m-platsnyer vervang.

Die Schönfeldts werk op ’n 12 m-stelsel. Daar is elke 12 m ’n spoor, en die spuitspore is elke derde. Hulle skryf die spuit se spore af omdat daar nie iets gaan groei nie, maar van die ander twee spore wil hulle darem iets oes.

Hulle werk op ’n 12 m-stelsel. Daar is ’n spoor op elke 12 meter, terwyl die spuitspore elke derde spoor is. Hy sê hulle skryf die spuit se spore af omdat daar nie iets gaan groei nie, maar van die ander twee spore wil hulle darem iets oes.

In dié stadium is elke spoor 800 mm wyd. Hoe smaller die spoor is, hoe beter. “Soos wat ons mettertyd ons werktuie vervang, sal ons probeer om die spoor nouer te maak, maar dis soos ons situasie nou is.”

Hulle hou Dorperskape en Limousin- en Bonsmarabeeste aan, wat ná oestyd vir ’n kort rukkie op die stoppellande wei om die oorblywende graanpitte te benut, maar vir die res van die jaar op ’n voerkraal staan. Hulle plant ’n dekgewasmengsel van kanola, wieke, radyse en wit mosterd waarvan hulle kuilvoer vir die skape en beeste maak.

“Ons gebruik die mengsel hoofsaaklik om ’n diverse wisselboustelsel in stand te hou om sodoende die lande skoon te hou van grasse. Die wieke is ’n goeie stikstofbinder in die grond.”

HUISWERK GEDOEN

Schönfeldt het sy huiswerk deeglik gedoen. Hy het alles wat hy op die internet kon kry oor beheerde spoorverkeer gelees. Vroeg verlede jaar, enkele weke voor hulle met beheerde spoorverkeer sou begin, het hy Australië toe gegaan en boere, soos mnr. Trevor Syme,  besoek om te kyk hoe hulle dit doen en vrae te vra sodat hy nie dieselfde foute as hulle maak nie.

Syme gaan in Augustus op Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) se konferensie praat. “Ek wou seker maak dat ek met boere self praat oor die vrae waarvoor ek nie antwoorde op die internet kon kry nie.”

Sy toer het gelukkig ook saamgeval met die geenbewerkingsboerevereniging van Suid-Australië (Santfa) se jaarlikse konferensie in die Barossavallei buite Adelaide. Daar kon hy met baie boere praat en saam met hulle plase besoek. Hy erken dis ’n duur manier om te leer, maar hy kon alles wat hy daar geleer het, net so terugbring. Hy meen dis die geld werd al sou dit beteken hy het net ’n paar dinge geleer.

Hy het ook goeie inligting van boere in Kanada en Australië op Twitter gekry. “Dié mense gee maklik inligting aan ander boere.”

SO MIN MOONTLIK GRENSE

Schönfeldt sê die lesse wat hulle geleer het, is om hulle nie blind te staar teen werktuie wat dalk nie almal ewe wyd is nie. Veranderinge kan maklik aangebring word.

Hulle het ook gaan sit en hul plaas herontwerp met behulp van kaarte van Google Earth. “Die ding met beheerde spoorverkeer is jy moet so min moontlik grense hê. Daarom het ons alle hindernisse weggevat.”

Hy meen jy moet deeglike beplanning in die kantoor doen voor jy lyne gaan uitsit. “Jy moet lang termyn dink. Die spoor moet reg wees vir nou én die toekoms.”

Hy sê hy sal beslis enige boer wat graag wil hê sy boerdery moet vorder, aanbeveel om beheerde spoorverkeer toe te pas. “Ons moet saam met die tye beweeg. Ons trekkers en werktuie word groter en swaarder.”

Hy sê hy besef die stelsel gaan nie vir almal dieselfde werk nie. “Ek was by ’n klomp boere in Australië en elke ou doen dit op sy eie manier wat vir sy plaas werk.”

Schönfeldt sê die 9 m- en 12 m-stelsels, wat algemeen as standaard beskou word, is dalk nie die wet nie, maar dis hoe die meeste John Deere-werktuie opgestel is.

Vanjaar is maar die tweede jaar dat hy beheerde spoorverkeer toepas. Hoewel hy sê hy het nie gedink hy sal binne ’n jaar reeds resultate op sy marge sien nie, kan hy reeds ’n verskil aan die grond sien.

“Die grondbiologie is beter, die grond is sagter. Dis moeilik om te meet, maar as ek dit vergelyk met die spore waarin die werktuie loop, is dit eintlik verstommend hoe vinnig die spore verdig. Ek weet presies hoeveel keer die trekker daaroor geloop het.”

Hy sê hy sien vanjaar watter groot verskil daar tussen die spore en die dele tussenin is. Hy sien ook die spore van drie jaar gelede. “Dít is ’n voordeel en ’n nadeel. Ek wil eintlik die spore sien, as ’n aanduiding van die verskil tussen spoorverkeer en daarsonder.”

Hulle het sowat 90% van hul graanlande na die sogenoemde AB-lyne (op en af) oorgeskakel. Die orige lande, wat baie skuins is en nog kontoere het, is nog op ’n stelsel van aangepaste kurwelyne (adaptive curve lines).

“Ons beoog om al ons grond so aan te pas dat dit reg is vir spoorverkeer. Ek meen nie daar is ’n land wat te klein is vir beheerde spoorverkeer nie. Ek het ’n 2 hektaar-land waar dit werk, solank jy net AB-lyne kan volg.

“Waar ons boer, kry ons meestal reën en wind uit die noordweste of die suidooste. Ek stel my AB-lyne met kompasgrade op en gebruik 120 grade op die meeste van my lande omdat dit die rigting is waaruit die sterk winde meestal kom. Wind is ons grootste risiko vanaf Oktober wanneer ons begin platsny, en daarom probeer ons die platsnyrye saam met die windrigting opstel. 

“Die feit dat alle toepassings nou op dieselfde spoor plaasvind en dat die meeste van die AB-lyne 120 grade is, maak spuit en kunsmis- en kalkstrooi in die winde ook baie doeltreffender.”

Hulle gebruik satelliettegnologie van John Deere om te verseker dat hul trekkers en werktuie op die spore bly. “Die RTK-stelsel se akkuraatheid is 2 cm van jaar tot jaar.”

Hy verwag dat een van die grootste voordele mettertyd gaan wees dat die graan gelyk opkom en dit spuit- en oestyd makliker gaan maak omdat alle plante in dieselfde groeistadium is.

Mnr. Hume Schönfeldt.

LBW vra . . .

Mnr. Hume Schönfeldt

Wat is die slimste ding wat jy gedoen het? Om nie in ’n boksie te lewe nie en om na ander mense te luister. Die jaar toe ek in Australië gewerk het, was ook ’n goeie tyd in my lewe.

Wat is die domste ding wat jy gedoen het? Om nie my AB-lyne se beplanning van die begin af 100% reg te doen nie.

Van wie leer jy die meeste? Beslis my pa, want sy passie vir en kennis van boerdery is aansteeklik. Ek is baie bevoorreg om elke dag saam met hom te kan werk, en ek leer elke dag iets nuuts.

VOORDELE VAN SPOORVERKEER

Dr. Ken Flower van die Universiteit van Wes-Australië in Perth het by verlede jaar se Jack Human-bewaringsweek gesê beheerde spoorverkeer is ’n logiese uitvloeisel van geenbewerking. “As jy nie meer bewerk nie, maar aanhou om oor die kamp te ry, kan jy jou opbrengs benadeel.”

Hy sê foto’s wat met behulp van afstandswaarneming geneem is, toon dat waar die spore is, is die biomassa en opbrengste laer as op die res van die land. “As jy nie gedurig oor die hele kamp ry nie, word die grond mettertyd losser en kan die plante se wortels makliker indring.”

Hy sê beheerde spoorverkeer is nuttig om vog goed te benut, want vog versamel in die ou stoppelrye. “As jy 2 cm-akkuraatheid op jou outomatiese stuur het, kan jy elke jaar net langs die ou ry plant sodat graan in baie droë toestande kan opkom.”

As dit nat is waar koring ná koring geplant word en daar is ’n vrees vir siektes as die saad te na aan die vorige jaar se stoppel geplant word, is dit moontlik om met beheerde spoorverkeer tussen die rye te plant.

Hy waarsku dat beheerde spoorverkeer nie in een jaar in werking gestel kan word nie. “Dit kan 12 jaar duur om by ’n punt te kom waar alle wiele ewe wyd loop.”

LEER MEER OOR SPOORVERKEER

Boere kan meer leer oor spoorverkeer tydens Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) se Jack Human-bewaringsweek op 7 en 8 Augustus. Die konferensiedag vind op 7 Augustus by Houwhoek Inn plaas en mnre. Hume Schönfeldt en Trevor Syme, ’n boer van Wes-Australië, gaan oor die voordele van beheerde spoorverkeer praat.

Mnr. Clint della Bosca, wat in ’n baie droë deel van Wes-Australië boer, gaan van sy wedervaringe vertel. Ander sprekers is mnr. Izak Dreyer, ’n boer van Vrede in die Vrystaat, wat oor dekgewasse en weiding gaan praat. Mnr. Andries van der Poll, ’n nuwe era graanboer van Gouda, gaan praat oor sy vordering in die graanbedryf.

Die dag word afgesluit met praatjies deur dr. Craig Galloway, navorser oor volhoubare landbou by Trace & Save, oor onlangse navorsing oor grondgesondheid in weidings, dr. Hendrik Smith van Graan SA oor die koolstofspoor van koringproduksie in die Wes-Kaap en me. Lorren de Kock van Blue North. Op 8 Augustus word ’n praktiese dag by die Tygerhoek-navorsingsplaas aangebied. 

Om aanlyn by Quicket te bespreek volg qkt.io/9bbSE5

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.