"Met ’n welder en ’n grinder kan ’n mens ver kom in die lewe.” Mnr. Henna du Plessis, verlede jaar se TLU SA Jongboer van die Jaar, se vermoë om planne te beraam en dit met sy eie handewerk tot uitvoer te bring, het waarskynlik ’n groot bydrae tot sy eerste plek in dié kompetisie gelewer.

Oral op sy plaas staan die oplossings wat Du Plessis vir alledaagse landbouprobleme geprakseer het. Boonop bespaar hy geld en omdat hy so ver van enige groot dorp is waar hy naby Maasstroom op die oewer van die Limpoporivier boer, bespaar hy ook tyd en reiskoste.

Een van sy boereplanne waarop hy besonder trots is, is die filterbank wat hy gebou het om onsuiwerhede uit die rivierwater te haal waarmee hy sy groente besproei. Du Plessis het dit beplan dat daar twee banke van vier skyffilters elk is wat elk ’n waterlyn bedien.

Die hooftoevoerpyp verdeel en kom dan aan die uitvloeikant weer bymekaar nadat die water gefiltreer is. Danksy die twee filterlyne kan hy filters skoonmaak sonder om sy watertoevoer te onderbreek. Deur twee groot hefboomkrane gelyktydig oor te swaai, kanaliseer hy sonder veel moeite die water van een kant na die ander en kan hy die filters aan die toe kraan se kant rustig uithaal en skoonmaak.

Du Plessis wys hoe maklik dit is om die filter uit te haal en skoon te maak sonder om watervloei te onderbreek.
Water uit die Limpoporivier dra baie sediment en onsuiwerhede. Sonder ’n filterstelsel sal ’n mens heeldag moet loop en druppers op jou besproeiingspype skoonmaak.

Die staalpype en flenskoppelings waarmee die hele stelsel aanmekaarskroef, het hy sommer by die koöperasie gekoop. Die skyffilters is maklik om oop te maak en te was. Die stelsel is baie eenvoudig, maar Du Plessis sê daarsonder sal hy heeltyds besig wees om verstopte druppers skoon te maak, want die water wat hy uit die Limpoporivier pomp, het baie sediment en plantmateriaal in, veral wanneer die rivier afkom ná die eerste reën.

Vir Du Plessis is sy stelsel dus goud werd al het dit hom net R18 000 aan materiaal gekos en sy tyd en energie om dit te bou.

Hy het onlangs, sommer net om te kyk hoeveel hy bespaar het, ’n foto van sy stelsel na ’n ingenieurswerke gestuur en ’n kwotasie vir só ’n filterbank aangevra. As hy dit nie self kon doen nie, sou hy R73 000 moes opdok om sy water skoon te hou.