Landbouweekblad het in 2018 met Omnia Nutrilogie en Graan SA kragte saamgespan om die kompetisie aan te bied wat nou as Landbou Boereplanne bekend staan.

Die gehalte van die 28 inskrywings het die beoordelaars, mnre. Chris Schoonwinkel, Hannes Haasbroek en Andries Theron (almal Graan SA), en Donald Brink en Piet Groenewald (albei Omnia), aangenaam verras.

“Die standaard van die inskrywings was vanjaar soos gewoonlik hoog, maar die wenners het bewys dat hulle as beroepsplanmakers bestempel kan word,” sê Schoonwinkel. “Ons is ook verheug dat verskeie van vanjaar se wenners as wenners in vorige kompetisies reeds kommersiële sukses behaal het.” Volgens hom het die inskrywings getuig van die wenners se gawe om planne te maak.

“Die reëls van 2020 se boerepatente is aangepas in die gees van die vreemde tyd waarin ons leef,” sê Schoonwinkel. Dit sal egter weer vir die 2021-kompetisie op Nampo-park gewysig word.

Wenners: Afdeling A

In afdeling A vir nuwe en aangepaste toerusting, gereedskap en planne in en om die huis en tuin het die pampoenplanter van mnr. Michris Janse van Rensburg met die louere weggestap. Janse van Rensburg is ’n bekende planmaker van Bultfontein wat baie sukses met sy praktiese werktuie in Landbouweekblad en op sosiale media behaal.

Die naaswenner in dié afdeling is mnr. André Cilliers van Ruimsig, Johannesburg, wie se soutbakplan eenvoudig, goedkoop en uiters prakties is. Hy stapel twee vragmotorbuitebande op mekaar wat hy met ’n vel rubbervervoerband skei. Hy gebruik ’n soortgelyke vel rubber as deksel vir die boonste bandhouer. Wanneer die beeste aan die houer gewoond raak, lig hulle die rubberdeksel aan die kante op om die soutlek met mielie-aanvulling by te kom. Voordele van dié bak is dat dit droog en skoon bly en knaagdiere en voëls uithou.

Die derde prys is aan mnr. Jannie Myburgh van Myburgh-toerusting van die plaas Kromdraai, Ermelo, vir sy baalroller toegeken. Hy het ’n meganiese afroller gemaak wat aan die trekker se driepunthyser gekoppel word.

Die raam is van vierkantpyp gemaak (76 mm reghoekig) wat wyd genoeg is sodat die arms aan die kante oor die volle breedte van ’n ronde baal met ’n deursnit van 1,2 m of 1,5 m pas.  Die systawe is ook lank genoeg om die radius van die baal se sykante te vorm, asof die sykante sirkels is waardeur ’n staalpen in die middelpunt pas.

Twee staalpenne word van weerskante in die baal gedruk om ’n as te vorm waarom die baal kan tol. Knippe aan die buitekant van die staalpenne verseker dat die as nie loskom nie.

Myburgh-toerusting vervaardig die baalroller tans teen R11 500. Dit weeg sowat 45 kg en is lig genoeg is om per koerier versend te word.

Wenners: Afdeling B vir goedere met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000

’n Veteraan met verskeie patentseges op sy kerfstok, mnr. Bertus Goosen van Matlakeng, Botswana, se paaltjieplanter vir mikrobesproeiing was die beste in dié afdeling.

Sy verstelbare toestel word gebruik om die paaltjies regop en in bepaalde rye in die grond te druk en ook om dit uit te trek sonder om dit te beskadig. Goosen het ook ’n handewasser, lusernsnyer, plastiekpyp-insulators vir elektriese heinings en ’n draadbinder vir pale en sparre ingeskryf.

Die naaswenner is mnr. Martin Nel van die plaas Leliehoek, Dealesville, wat ’n eenvoudige ontwerp van ’n skaalhanger ingeskryf het. Nel gebruik ’n pasgemaakte draagarm wat op sy bakkie se tralies pas. Hieraan word ’n meganiese skaal en ’n wigvormige buiteband gehang. Kalfies word bloot in die oopgesnyde buiteband in ’n hangende posisie geweeg, gemerk en versorg.

Die derde prys gaan aan mnr. Jan Janse van Rensburg wat ’n meettoestel vir sy spilpuntdam ingeskryf het. Hy moes noodgedwonge planne maak toe hy die damoppervlak bedek het om algvorming te beperk. Sy toestel stel hom in staat om van sy huis af die damvlak te bepaal.

Spesiale prys

Die beoordelaars se spesiale prys is aan mnr. Jakkals le Roux van Wesselsbron toegeken. Hy het ’n toestel gebou uit rommel waarmee hy vinnig plate met ’n dikte van tot 1,2 mm vinnig reguit kan sny en ook buig. Die snywerk word met ’n hoekslyper gedoen wat aan die raamwerk vasgeheg word. Die plaat word in die masjien geplaas en vasgeklamp, en met die hoekslyper volgens plan gesny. Die gesnyde plaat word dan in die buiggedeelte vasgeklamp en gebuig.

Volgens Schoonwinkel voldoen dié plan aan die doel van die kompetisie: Eiehandige probleemoplossing wat funksioneel en eenvoudig is en die boer se lewe op die plaas vergemaklik.

Aansporingspryse

Graan SA en Omnia het ook aansporingspryse aan twee juniors toegeken.

Jedrie Janse van Rensburg, die seun van Michris, het in die inperkingstyd verskeie modelle van voetpompies vir handontsmettingsmiddel ontwerp en versprei. Sy ontwerp is vinnig deur ander ondernemers nageaap om in die vraag na die toestelle te voorsien.

Nicolene Goosen, die dogter van Bertus, is ook ‘n getroue deelnemer aan die kompetisie. Sy het ’n plan bedink om herwinne lekbakke vir water- en voerbakke vir die perde en beeste op hulle plaas te gebruik. Sy sny vierkantige gate in buitebande om die dun plastiek van die lekbakke te beskerm.

Bekyk die boereplanne op Nampo Virtueel 2020 hier