Die virtuele aard van vanjaar se Nampo het geensins ’n demper geplaas op die inskrywings vir die boere- patentekompetisie nie – nou al ’n instelling by Bothaville en Bredasdorp.

Die gehalte van die 28 inskrywings van Boereplanne, wat Graan SA, Omnia en Landbouweekblad aanbied, het die beoordelaars, mnre. Chris Schoonwinkel, Hannes Haasbroek en Andries Theron (almal van Graan SA), en Donald Brink en Piet Groenewald (albei van Omnia), aangenaam verras.

“Die standaard van die inskrywings was vanjaar soos gewoonlik hoog, en die wenners het bewys dat hulle as beroepsplanmakers bestempel kan word,” sê Schoonwinkel. “Ons is ook verheug dat verskeie van vanjaar se wenners ook reeds as oudwenners van die kompetisie kommersiële sukses behaal het.”

In teenstelling met ’n bepaling wat kommersiële planmakers uitsluit, is die reëls van 2020 se patentekompetisie aangepas in die gees van die ongewone pandemietydperk.

Buiten geografiese, tyds- en koste-eise wat dit gewoonlik moeilik maak om in te skryf, kon groot masjinerie vanjaar ook ingeskryf word omdat die reëls aangepas is.

Mnr. Bertus Goosen, planmaker-staatmaker van Botswana, het afdeling B van die boerepatentekompetisie gewen.

Afdeling A-wenners

In dié afdeling vir nuwe en aangepaste toerusting, gereedskap en planne in en om die huis en tuin het die pampoenplanter van mnr. Michris Janse van Rensburg met die louere weggestap. Janse van Rensburg is ’n bekende planmaker van Bultfontein wat baie sukses met sy praktiese werktuie vir kleinboere in Afrika behaal.

Die naaswenner is mnr. André Cilliers van Ruimsig, Johannesburg, wie se soutbak- plan eenvoudig, goedkoop en prakties is. Hy stapel twee vragmotorbuitebande op mekaar wat hy met ’n vel rubbervervoerband skei. Hy gebruik ’n soortgelyke vel rubber as deksel vir die boonste bandhouer. Wanneer die beeste aan die houer gewoond raak, lig hulle die rubberdeksel aan die kante op om die soutlek met mielie-aanvulling by te kom. Die voordele van dié bak is dat dit droog en skoon bly en knaagdiere en voëls uithou.

Die derde prys is toegeken aan mnr. Jannie Myburgh van Myburgh-toerusting van die plaas Kromdraai, Ermelo, vir sy baalroller. Hy het ’n meganiese afroller gemaak wat aan die trekker se driepunthyser gekoppel word.

Die raam is van vierkantpyp gemaak (76 mm reghoekig) wat wyd genoeg is sodat die arms aan die kante oor die volle breedte van ’n ronde baal met ’n deursnit van 1,2 m of 1,5 m pas. Die systawe is ook lank genoeg om die radius van die baal se sykante te vorm, asof die sykante sirkels is waardeur ’n staalpen in die middelpunt pas.

Twee staalpenne word aan weerskante in die baal gedruk om ’n as te vorm waarom die baal kan tol. Knippe aan die buitekant van die staalpenne verseker dat die as nie loskom nie.

Myburgh-toerusting vervaardig die baalroller tans teen R11 500 (BTW ingesluit). Dit weeg sowat 45 kg en is lig genoeg om per koerier versend te word.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gesels met die wenners, van links, mnr. Jakkals le Roux, mnr. Bertus Goosen en sy dogter, Nicolene, en mnr. Michris Janse van Rensburg.

Afdeling B-wenners

In die afdeling vir planne met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000 was dit vir mnr. Bertus Goosen van Matlakeng in Botswana nie nodig om die lang rit Bothaville toe aan te pak nie.

Dié veteraan met verskeie patentseges op sy kerfstok se paaltjieplanter vir mikrobesproeiing was die beste in dié afdeling. Sy verstelbare toestel word gebruik om paaltjies regop in rye in die grond te druk en om dit uit te trek sonder om dit te beskadig.

Goosen het ook ’n handewasser, lusernsnyer, plastiekpyp-isoleerders vir elektriese heinings en ’n draadbinder vir pale en sparre ingeskryf.

Die naaswenner is mnr. Martin Nel van die plaas Leliehoek, Dealesville, wat ’n eenvoudige ontwerp van ’n skaalhanger ingeskryf het. Nel gebruik ’n pasgemaakte draagarm wat op sy bakkie se tralies pas. Hieraan word ’n meganiese skaal en ’n wiegievormige buiteband gehang. Kalwers word bloot in die oopgesnyde buiteband in ’n hangende posisie geweeg, gemerk en versorg.

Die derde prys gaan aan mnr. Jan Janse van Rensburg vir ’n meettoestel vir sy spilpuntdam. Hy moes noodgedwonge planne beraam nadat hy die damoppervlak bedek het om algvorming te beperk. Hy het onder meer weerkaatsers aangebring waarmee hy die damvlak van die huis af kan sien en bepaal of daar genoeg water is om te besproei.

In sy gesprek met Chris Burgess van Landbouweekblad het mnr. Louis Strydom (regs), bemarkingshoof van Omnia, gesê die gehalte van die inskrywings was vanjaar besonder hoog. “Verder het boere gewys hulle kan ’n plan maak om die inskrywings per video te maak.”

Korte mette MET rommel

Die beoordelaars se spesiale prys is aan mnr. Jakkals le Roux van Wesselsbron toegeken. Hy het ’n toestel gebou uit rommel waarmee hy plate met ’n dikte van tot 1,2 mm vinnig reguit kan sny en ook buig. Die snywerk word met ’n hoekslyper gedoen wat aan die raamwerk vasgeheg word. Die plaat word in die masjien geplaas en vasgeklamp, en met die hoekslyper gesny. Die gesnyde plaat word in die buiggedeelte vasgeklamp en gebuig.

Volgens Schoonwinkel voldoen dié plan aan die doel van die kompetisie: Eiehandige probleemoplossing wat funksioneel en eenvoudig is en die boer se lewe op die plaas vergemaklik.

Graan SA en Omnia het ook aansporingspryse aan twee juniors toegeken. Jedri Janse van Rensburg, Michris se seun, het in die inperkingstyd verskeie modelle van voetpompies vir handontsmettingsmiddel ontwerp en versprei. Sy ontwerp is vinnig deur ander ondernemers nageaap om in die vraag na sulke toestelle te voorsien.

Nicolene Goosen, Bertus se dogter, is ook ’n getroue deelnemer aan die kompetisie. Sy het ’n plan bedink om herwonne lekbakke vir water- en voerbakke vir die perde en beeste op hul plaas te gebruik. Sy sny vierkantige gate in buitebande om die dun plastiek van die lekbakke te beskerm. Van die bakke word ook op ’n raamwerk geplaas sodat dit nie op die grond staan nie.