As jy langs die Karoo Nasionale Park boer en met roofdiere te doen kry wat by die dag meer uitgeslape raak, kan jou arsenaal planne nooit opdroog nie. Mnr. Eddie Steenkamp van die plaas Doornboomsfontein by Beaufort-Wes het al talle halsbandtoestelle ontwerp om skape en lammers teen rooijakkalse en rooikatte te beskerm.

Hy sê jy moet jou strategie afwissel om die roofdiere uit te oorlê. Die spykerhalsband, sy nuutste wapen, is daarop gerig om selfs die halsstarrigste lamvangers na ander prooi te laat soek. Die halsband, gemaak van ’n dubbele laag 1 mm-hoëdigtheid-poli-etileenplastiek, bestaan uit ’n klokkie onder, ’n weerkaatser heel bo-op en agt skerp spykers van 20 mm lank aan die soom van die band.

Die spykers laat ’n roofdier met ’n bloedbek as dit ’n lam of skaap aan die nek beetkry. Die weerkaatser is gemaak van ’n duursame glimband tussen twee lae plastiek wat keer dat dit teen bome en bossies afskraap. Die spykers word met ’n spesiaal ontwerpte staalwasser stewig aan die dubbelplastieklaag geheg.

“ ’n Roofdier val nie voel-voel aan om sy prooi dood te byt nie, maar byt met mening.Wanneer hy een of meer van die spykers raakbyt, word hy baie seergemaak, maar dit is nie dodelik nie. Ek het gevind roofdiere wat hierdie stel afgetrap het, vermy lammers met dié nekbande, onder meer omdat hulle die weerkaatsende kol met ’n onaangename pynondervinding vereenselwig,” sê Eddie.

“Dit is die eerste keer dat drie sintuie van ’n roofdier, plus ’n regstreekse fisieke besering, gelyktydig met ’n enkele halsband gepak word.” Hy toets die spykerhalsbande reeds die afgelope vyf jaar en het net sewe lammers met spykerhalsbande aan deur roofdiere verloor. “Ná vyf jaar se ontwikkelingswerk is die spykerhalsband van so ’n hoë gehalte dat dit bykans onvernietigbaar is.”

: ’n Lam met die halsband om die nek. Dit sal selfs die mees gedugte roofdier weerhou van aanvalle op lammers nadat hy een keer sy bek in die spykers geslaan en só ’n erge “bloedneus”, of eerder “bloedbek”, gekry het. Dit sal hom altyd herinner aan die pynlike ervaring.

SÓ IS DIE HALSBAND ONTWIKKEL

Dié planmaker, wat met Wit Dorpers boer op ’n plaas wat 17 km se grensdrade met die Karoo Nasionale Park gemeen het, weet presies hoeveel skade dié roofdiere aanrig. Toe die probleem op sy ergste was, is tot 30% van sy kudde doodgebyt. Eddie hou ook Wit Dorpers aan op sy saaiplaas Karbonaatjieskraal by Hopefield.

Hy beywer hom al sedert die 1990’s om afskrikmiddels te ontwikkel en skaaf gedurig daaraan. Sy eerste ontwerp, die Protect-A-Lamb-klokkiehalsband (“Klokkies verwilder roofdiere”, LBW, 18 Desember 1998), het bestaan uit ’n klokkie aan ’n smal band (webbing) van 50 mm. “Dit het roofdiere afgeskrik deur op hul gehoorsintuig in te werk.”

Só lyk die springdraadklampie waarmee die ouer breëbandklokkie kan omskakel in die nuwe spykerhalsbandstelsel.
Die nuut ontwikkelde spykerhalsband van naderby. Die skerp spykers waarin ’n roofdier sy bek slaan, is duidelik sigbaar aan die hoëdigtheid-poli-etileenplastiek waarvan die halsband gemaak word. Voor is die klokkie, wat party roofdiere reeds afskrik.

Dit is later gekombineer met ’n reukblokkie wat aan die klokkieband vasgekram is en ’n paar maande lank ’n reuk vrystel wat die lammers so “onaantreklik moontlik” as prooi gemaak het.

“Maar daar is altyd roofdiere wat mettertyd aan vreemde klanke en reuke gewoond raak en weer skade aanrig,” sê Eddie. As dié produkte later as afskrikmiddel misluk het, het Eddie ’n gifhalsband as laaste uitweg gebruik.

Volgens Eddie kan die klokkiehalsband aangepas word om as spykerhalsband te werk. Die 50 mm-nekband word bloot vervang met ’n 25 mm-band met ’n skuifgespe.

Die klokkie kan steeds ingeryg en die lengte maklik verstel word sonder ’n krammasjien. “Ek is baie opgewonde oor die sukses van die spykerhalsbande en wou seker maak dat boere wat nog die ouer klokkiebande gebruik, dit ook kan gebruik. Daarom het ek ’n springdraadklampie ontwerp waarmee ’n mens die ouer modelle na die nuwe stelsel kan omskakel.”

Hy sê nog ’n voordeel van die glimbande is dat dit vee sigbaar maak in die donker waar die gevaar bestaan dat hulle deur voertuie raakgery kan word. 

Die spykerhalsbande kos R39,50 stuk, BTW uitgesluit.

‘Beter roofdierbestuur’

Eddie sê die sukses van die produkte word gemeet aan die hoeveelheid lammers wat vrek tydens roofdieraanvalle teenoor die hoeveelheid kere dat dit roofdiere suksesvol afweer.

“Tot nou toe het alle nekbande behalwe gifhalsbande ten doel gehad om bloot roofdiere af te weer of om lammers teen aanvalle te beskerm deur sy gehoor-, reuk- en/of sigsintuig te beïnvloed. Dit keer die roofdier, want sy sintuie waarsku en keer hom om aan te val.”

Die spykerhalsband is volgens Eddie ’n sinvolle opsie om die roofdier af te weer pleks daarvan om dit dood te maak, soos met ’n gifhalsband. Soms kan ’n besering, siekte of ’n groter werpsel ’n roofdier dwing om lammers te begin vang. “As jy hulle kan stuit, glo ek hulle sal wel op net normale, natuurlike prooi kan oorleef.”

Dit is bewys as produkte of metodes aanhoudend gebruik word om roofdiere – ongeag of hulle probleemdiere is of nie – af te weer, raak hulle “immuun” teen sulke metodes. Ná ’n tyd word min sukses daarmee behaal. “Party roofdiere raak bloot gewoond daaraan en pas hul gedrag sodanig aan dat die metodes ondoeltreffend raak.”

“Selfs hul aanwas word grootgemaak met hierdie gedragsaanpassings. Roofdierwerende draad, slagysters, vanghokke, nagjag met roepgeluide en selfs beskermende halsbande raak ondoeltreffend.” Eddie sê boere behoort hul produkte en metodes af te wissel om weerstand te beperk en dit doeltreffend te hou.

“Ek meen egter roofdiere sal uiteindelik ál hierdie metodes oorleef, en nuwes sal voortdurend ontwikkel moet word. “Daarom probeer ek om gedurig produkte te skep wat eenvoudig is om te gebruik en saam met ’n goeie bestuursplan keer dat roofdiere maklik immuun sal raak daarteen.”

Gifhalsbande bly steeds die doeltreffendste in uiterste gevalle omdat dit die roofdier wat aanhou lammers vang ondanks afweermetodes en -produkte, doodmaak.

Mnr. Eddie Steenkamp

DUIDELIKE GEDRAGSPATRONE

Omdat Eddie al 32 jaar lank saam met roofdiere boer, kan hy hul gedrag omtrent beter uiteensit as veldwetenskaplikes. Hy sê sekere roofdiergedragspatrone word deur instink beheer. “Die belangrikste is hul territoriale drang, asook gedragspatrone wat teling betref.”

Dit is wetenskaplik bewys dat roofdiere se aanteelinterval en werpselgrootte toeneem wanneer hulle deur doeltreffende bekampingsmaatreëls vinniger doodgemaak word. “Hoe vinniger jy uitwis, hoe meer is daar om uit te wis!”

Rooikatte en rooijakkalse is baie gebiedsgebonde as hulle toegelaat word om tot ’n sekere ouderdom te ontwikkel. Rooikatwyfies is alleenlopers en sal elk hul eie gebied beset. ’n Rooikatmannetjie sal ook sy eie territoriale gebied hê, maar dit oorvleuel gewoonlik met dié van drie of vier wyfies.

Rooijakkalse sal ’n gebied as ’n teelpaar beset tesame met van die jonges van vorige werpsels wat nog saam met hulle beweeg. Onderling sal rooikatte en -jakkals se gebiede met mekaar oorvleuel, maar individue van dieselfde spesie duld mekaar nie in hul onderskeie loopgebiede nie.

“Ek probeer om nie aanhoudend roofdiere dood te maak nie sodat hulle ’n kans kry om hul gebied te beset. En ek oes geen natuurlike prooi nie. Daar is dus gewoonlik genoeg natuurlike prooi.

“Ek verbied alle groot honde wat in regstreekse mededinging met prooi is, en ook geneig is om roofdiere se loopgebiede met hul urine en ontlasting te beïnvloed. “As ek lammers met klokkies aan verloor, is dit waarskynlik ’n territoriale roofdier wat aanhou lammers jag.”

Gewoonlik kom die verliese in dieselfde gebied voor. Verliese op Eddie se plase wissel jaarliks. Vanjaar is besonder baie verliese aangeteken weens die droogte omdat minder natuurlike prooi oorleef. “My langtermyngemiddelde is minder as 20 lammers per jaar uit ’n kudde van sowat 1 200 skape.”

Wen R1 000 met jou boereplan! Nog ’n inskrywing in ons kompetisie vir boereplanne en -patente wat werk. ’n Wenner word elke maand aangewys en hy of sy wen ’n kontantprys van R1 000.