Die bekroonde rooibosboer mnr. Hannes van der Merwe het ’n lang boerderypad geloop voor hy op sy eie grond kon beland. Danksy noukeurige produksiebeplanning, behoorlike plantasievestiging en -bestuur, en navorsing dra hy die kroon as Rooibos Bpk. se Boer van die Jaar (sien ook “Van huurder tot voorste rooibosboer”, LBW, 15 Junie 2018).

Hy bestuur sy plantasies deur die jaar met werktuie wat hy self bou. Voor die rooibosplantjies geplant word, word Neutrog-hoendermiskorrels met ’n skeurploeg in die grond gebandplaas. Twee Kverneland-tande, vas aan ’n sentrale balk van 100 mm x 4,5 mm vierkantyster, breek die ploegbank.

Bo-op die werktuig is ’n kunsmisbak (’n ou mielieplanterbak) vol hoendermiskorrels. ’n Ysterwiel is met kettings en ratwiele aan ’n spiraalstaaf in die kunsmisbak gekoppel. Dié wiel dryf die vrystelling van die korrels teen die regte spoed aan. Wanneer die spiraalstaaf draai, word die korrels na weerskante van die bak gedruk.

Dit val deur plastiekpype na buite en beland agter die tande. Aan weerskante van die ysterwiel is twee 18 duim-sleepwawiele wat die bolaag weer vastrap om grondvog te bewaar. Wanneer planttyd verby is, word die wiele afgehaal en elders ingespan. Hannes-hulle gebruik nie GPS-tegnologie in die rooibosplantasies nie.

Hannes het hierdie skeurploeg gebou om hoendermiskorrels in die grond te bandplaas voor die rooibos geplant word. Voor op die foto is ’n “vlerk” met ’n klein skottel wat weerskante van die werktuig merk waar die volgende trekker moet ry.
Danksy dié meganisme, wat op-en-af-beweging toelaat, steek die merkerskottel nie vas nie. Agter is die hidrouliese stelsel waarmee die vlerk na bo opgeslaan word.
Die middelste wiel dryf die bak met die hoendermiskorrels aan sodat die regte hoeveelheid gebandplaas word. Die wiele aan weerskante (nie op die foto nie), afkomstig van ’n sleepwa, trap die bolaag weer vas om die grondvog te bewaar.

Pleks daarvan het die skeurploeg twee hidrouliese “vlerke” wat kan op- en afslaan. Aan die punt daarvan is ’n klein skottel wat ’n streep in die sand maak terwyl die trekker ry. As die volgende trekker met sy wiel op dié streep ry, is die rywydte net reg.

Die merkerskottel kan teen wisselende hellings beweeg sonder om vas te steek danksy ’n kanaal wat speling oor die skarnier toelaat. Die merkerskottel “dryf” dus saam met die helling. Die “vlerke” is uit plat- en hoekyster gebou, met versterkings uit ronde yster.

Die res van die werktuig bestaan hoof- saaklik uit platyster. Afmetings sal wissel na gelang van die boerdery se rywydte. Rietvlei gebruik ’n rywydte van 1,6 m.

Hannes het dié skoffel gebou om sy rooibosplantasies skoon te hou van onkruid, soos ramenas, stinkkruid en bitterbos. Dit is vir ’n rywydte van 1,6 m gebou.

ONKRUIDSKOFFEL

Hannes streef daarna om jaarliks 400 ton droë rooibostee sonder chemiese residu of pirrolisidien-alkaloïede te lewer. Onkruidbestryding is deurslaggewend. Hy het ’n onkruidskoffel gebou om veral die probleemplante ramenas, stinkkruid, bitterbos en gifbos tussen die teerye te bestry.

Die werktuig is soortgelyk aan dié wat ’n mens by ’n vervaardiger sou koop. VibroFlex-tande, geskik vir hoëspoedwerk, is met platyster vasgesweis aan ’n sentrale balk van 100 mm x 4,5 mm vierkantyster. Die skoffel het drie tande aan elke kant en maak dus twee bane skoon.

Hannes het die tande weerskante met sowat 50 mm verleng om seker te maak dat die onkruid deeglik afgesny word. Twee 14 duim-wiele bepaal die tande se werkdiepte. Dit moet vlak skoffel, anders word die teeplantjies se wortels beskadig. Die diepte kan verstel word by ’n platysterstaaf met gate op verskillende hoogtes.

’n Slim meganisme keer dat die pennetjie wat dié platyster in plek hou, uitval. Om een ronde met die werktuig te ry, is gewoonlik genoeg, maar as die gras baie dik is, soos vanjaar, sal hulle twee rondes ry.

Die skoffel het Vibro- Flex-tande wat met platyster aan weerskante van die balk vas is.
Die tande is weerskante met sowat 50 mm verleng.
Die meganisme waarmee die werkdiepte verstel word. ’n Mens moet die pennetjie met die hand boontoe draai voor jy dit kan uithaal om die hoogte te verstel. Die pennetjie lê gewoonlik plat en sal dus nie loswikkel en uitval nie.

STAALHOKKE

Hannes het staalhokke gebou om die rooibosgerwe in te pak en te vervoer. Dit het dieselfde afmetings as ’n palet (1,2 m x 1 m) en is 2 m hoog. Die hokke word gemaak van hoekyster en betonbewapeningsyster. ’n Bodem uit platyster is onderaan die hok gelas om te keer dat dit in die diep sand insink.

Die een sy van die hok is oop. As die hokke op die vragmotor gelaai word, word die hokke só gepak dat die oop sye na mekaar wys. Die hokke word met ’n omgeboude Bosvark-laaigraaf op die vragmotor getel. Dit is veel vinniger en doeltreffender as om gerwe met die hand te laai.

’n Staalhok waarin rooibosgerwe gepak word nadat dit gesny is. Die voorste sy is oop, en die hokke word teenoor mekaar op die vragmotor gelaai.
’n Bodem uit platyster is onderaan die hok gelas om te keer dat dit in die diep sand insink. Daar is platyster-versterkings sowat 30 cm van die kant af sodat dit nie buig nie.

Hannes het die kuns van werktuie bou en met ysters werk by wyle mnr. Oubaas Engelbrecht van die plaas Groenkol geleer, by wie hy destyds gewerk het. “Hy was ’n man van ysters. Hy kon na ’n hoop yster toe loop en iets daarvan te maak. Hy het altyd ’n plan gehad.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.