Die skaapdoeltreffendheidsentrum wat mnre. Jan en Johann Wessels van die Waplaas-boerdery by Heidelberg, Wes-Kaap, bedryf, is waarskynlik een van die eerstes in sy soort in Suid-Afrika wat hoogs voerdoeltreffende ramme as uitstekende teelmateriaal identifiseer.

Die inligting wat ingesamel word, word direk per rekenaar aan GrowSafe, ’n ramtoetsstelsel ontwerp deur ’n Kanadese maatskappy, en aan SA Stamboek deurgee om die genetiese inligting en groei-eienskappe van ’n skaapram (of ooi) saam te voeg en só die potensiële teelmoontlikhede te bepaal.

In die uitgawe van 21 September 2018 het Landbouweekblad berig oor die Wesselse se boereplan van ’n verhewe lamvoerkraalstelsel binne-in ’n skuur wat sorg dat skape in nat wintermaande lekker droog onderdak, 3,5 m bo die grond op diamantmaasplaat (diamond mesh) staan waardeur mis en urine val (“Gelukkige, droë lammers in dié skaapvoerkraal”).

Dié verhewe voerkraal is nou danksy die GrowSafe-stelsel verder uitgebou en verbeter tot ’n volwaardige skaapdoeltreffendheidsentrum waar presies gemeet kan word hoeveel elke skaap vreet en wat sy daaglike gewigstoename is (sy voerdoeltreffendheid). Dié inligting word via ’n rekenaarprogram aan SA Stamboek deurgegee.

Só kan die genetiese geskiedenis van die ram direk met sy daaglikse groei gekoppel word om sy groei- en teelpotensiaal wetenskaplik te bepaal.

Jan sê in hierdie stadium meet hulle hoofsaaklik ramme se voerdoeltreffendheid, maar ooie se doeltreffendheid kan ook bepaal word. Benewens hul eie diere bied hulle die diens ook aan medeskaaptelers, ongeag die ras waarmee hulle boer.

Die drie onderdak-silo’s met verskillende soorte voer (A, B en C). Bo kan die leweringstelsel, wat op spore aan die bokant loop, gesien word.

SÓ WERK DIE SENTRUM

Die grootte van die verhewe doeltreffendheidsentrum is 20 m x 15 m, en dit is in agt hokke opgedeel. Dit bestaan uit ’n swaardiens-skuurkonstruksie waarin ’n vloer 3,5 m bo grondvlak gemonteer is. Die dak is ’n normale skuurdak, en seile en skadunet bedek die kante om die diere teen koue, wind en reën te beskerm. Die seilkante kan op warm dae opgerol word vir ventilasie. Die skadunet bly egter in posisie en laat genoeg lug deur.

Die skape loop uit die krale met ’n drukgang en met ’n sement-opstaphelling wat goeie vastrapplek bied, en kom weer daarmee na onder. Die vloer van die oorspronklike voerkraal is intussen vervang met ’n sterk rubbervloer met gate waardeur mis en urine na onder val.

Ramlammers word net ná speentyd in groepe ingeneem. ’n Aanpassingstydperk van 14 dae, waartydens die lammers ’n aanpassingsrantsoen ontvang, word toegelaat, waarna hulle vir 42 dae ’n ramgroeirantsoen ontvang.

’n Rammetjie besig om te vreet deur die vreet-traliewerk wat met sensors toegerus is. Aan die dier se oor is ’n elektroniese plaatjie. Die sensors en plaatjie meet die hoeveelheid en gewig van die voer wat hy vreet, en hoeveel keer hy vreet. Die inligting word na ’n rekenaarprogram deurgegee, vanwaar dit na SA Stamboek gaan vir evaluasie.

Die rammetjies bly die 56 dae wat die evaluasie duur, in krale binne die sentrum. Elke dier kry ’n elektroniese oorplaatjie wat gekoppel is aan die rekenaarprogram. Hoeveel kere hulle vreet en hoeveel voer elkeen vreet, word direk gemonitor en gemeet via die oorplaatjie.

Die ramme word ook deurentyd geweeg. Net voor ’n groep ramme die sentrum verlaat, word elkeen deur ’n amptenaar van SA Stamboek ondersoek.

Die skrotumomtrek word gemeet, en die vet aan die rugspier, asook die oogspiervet word geskandeer.

“Dit bied ongelooflike geleenthede om saam met SA Stamboek te werk. Ramme wat winsgewend en ekonomies vreet, word geïdentifiseer. Ramme wat onekonomies vreet teenoor sy groeiprestasie, word uitgewys. Ons soek winsgewende ramme wat ekstra gewig aansit sonder om noodwendig ekstra voer te vreet.

“Jy kry dus die kans om die genetiese geskiedenis van ’n ram aan sy direkte groei te koppel en uitstekende teelmateriaal te identifiseer,” sê Jan.

Hy sê hulle het sowat ’n jaar gelede die eerste groep lammers ingeneem. ’n Soortgelyke stelsel word al langer gebruik om beeste se inligting in te samel, maar die gebruik daarvan by skape in Suid-Afrika is nog taamlik nuut.

Die bakke waarin die voer deur die afleweringstelsel na die verskillende krale gevoer word, met die blou afvoerpype waarmee dit tot in die vreetkrippe gestort word.
Die bakke waarin die voer deur die afleweringstelsel na die verskillende krale gevoer word, met die blou afvoerpype waarmee dit tot in die vreetkrippe gestort word.

VOERSTELSEL

Die voerlewering aan die verskillende krale binne die kompleks word gedoen met ’n outomatiese voerderstelsel wat aan ’n verhewe spoorstelsel aan die dak van die kompeks “hang” en deur ’n rekenaarprogram beheer en gereguleer word. Voer word volgens behoefte gelewer.

Die skape vreet deur ’n traliestelsel waardeur die dier sy kop en nek steek om by die voerbakke uit te kom. Dít is waar die noukeurige monitering via die elektroniese oorplaatjie gedoen word.

“Die oomblik wanneer die skaap se kop met die elektroniese oorplaatjie deur die tralies gaan, word alles deur sensors gemeet. Die hoeveelheid voer wat hy vreet, word uiters noukeurig – tot 1 gram – geweeg. Elke aksie word noukeurig gemonitor.”

Eersdaags sal die diere ook geweeg kan word elke keer wanneer hulle vreet.

Mnr. Jan Wessels by die monitor wat deurentyd wys hoeveel voer gelewer word. Hy kan dit selfs vanaf sy selfoon dophou.

Drie verskillende soorte voer kan gelyktydig gelewer word (A, B en C), wat duidelik gemerk is in die voerderstelsel en ten volle gereguleer word deur die program.

“Die voordeel van die program is dat ek selfs vanaf my selfoon kan monitor of die hele voerleweringsproses seepglad en volgens die program verloop. Binnekort gaan dit selfs moontlik wees om aanpassings daaraan vanaf my selfoon te maak.”

GrowSafe monitor ook alles van sy kant af, en as enige probleme met die sagteware opduik, kan hy dit dadelik regstel.

Drie voersilo’s – een elk vir voer A, B en C – is op weegstawe gemonteer wat ook die vlakke in die silo’s monitor sodat dit nie onverwags leeg raak of te min voer in het nie. ’n Stel batterye lewer onmiddellik krag indien ’n kragonderbreking voorkom. Geen data gaan dus verlore nie.

Mee. Jané Wessels (links) en Anel du Plessis,’n voedingskundige wat die Wesselse help met navorsing, hier in die rekenaarbeheerkamer waarvandaan alle opdragte aan die stelsel deurgegee word.

Die voerstelsel word met die samewerking van De Heus-voere van Nederland bedryf.

Water vir die skape kom van ’n dam wat hoër as die sentrum is, en word deur gravitasie tot by die sentrum geneem. Dit vloei tot in ’n ontvanger-waterbak met ’n vlotterklep om die watervlakke op die regte vlak te stabiliseer. Daarvandaan vloei dit na die verskillende hokke se waterbakke.

Die mis wat deur die vloer na benede val, gaan nie verlore nie. Dit word met ’n laaigraaf bymekaar gestoot en opgetel en met saagsels gemeng as bemesting – die vloer is hoog genoeg om daaronder in te ry, en daar is nie mure wat in die pad is nie. 

NAVRAE: Mnr. Jan Wessels, 082 550 6785.