Genoeg is genoeg. Nadat skape van bykans R1 miljoen in net meer as ’n jaar in die distrik Hofmeyr in die Oos-Kaap gesteel is, het dié gemeenskap sy eie bedryfskamer met twee heeltydse personeellede en ’n komitee gestig om misdaad te bekamp.

Volgens mnr. Ettienne Roux, ’n skaapboer in die omgewing en lid van die uitvoerende komitee, het dié besluit reeds vrugte afgewerp. Veediefstal is in sy spore gestuit, met die laaste voorval wat op 30 Mei verlede jaar plaasgevind het.

“Ons is oortuig daarvan dat die maatreëls help om misdaad te voorkom. Vreemde spore en geknipte drade is byvoorbeeld al in veekampe opgemerk nadat boere vinnig op ’n sein van halsbande gereageer het. Die skelms moes toe sonder ’n enkele skaap die aftog blaas.”

Pak misdaad saam aan

Volgens Roux was die boere en gemeenskap in dié Karoodorpie bekommerd oor die onvermoë van die polisie om misdaad in die distrik doeltreffend te bekamp. Hofmeyr is sowat 63 km noord van Cradock geleë en is hoof- saaklik op die landbou aangewese, met die meeste boere wat met skape boer, asook besproeiingsboerdery.

Veediewe het van 1 November 2017 tot 31 Desember 2018 nagenoeg 713 skape in die distrik gesteel, waarvan slegs 215 teruggevind is. Dit kom op ’n verlies van R1 miljoen neer. ’n Bejaarde egpaar is ook in Oktober 2018 op die dorp vermoor.

“Die boere en gemeenskap het besluit om eerder die toenemende misdaad saam aan te pak as om terug te sit en te kla.” Die Hofmeyr-boerevereniging en Gemeenskapshoofkantoor is op 1 Maart verlede jaar gestig. Dit word gelei deur ’n komitee, bestaande uit mnre. Faan Coetzer (kommunikasie), Fanie de Jager (veediefstal) en Roux, wat vir landelike veiligheid verantwoordelik is.

Die woord “samewerking” duik in elke gesprek op oor hoe die eenheid bedryf word. “Samewerking van ons boere met die gemeenskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens is uiters belangrik. Dit is verder noodsaaklik dat elke boer daartoe verbind sal wees om alle partye te alle tye by te staan. Die samehorigheid onder ons boere is deurslaggewend.”

Radionetwerk EN kameras

Die gemeenskap het nagenoeg R1 miljoen bestee aan radio’s vir ’n radionetwerk tussen die boere, halsbande vir kleinvee in kwesbare kampe en om sekuriteitskameras op strategiese plekke te installeer. Die distrik is in agt sektore verdeel en ’n leier is vir elke sektor verkies.

’n WhatsApp-groep is ook vir die komitee, sektorleiers en elke sektor gestig. Roux sê die komitee het onlangs ’n baie suksesvolle vergadering met die provinsiale polisie gehou waar kwessies soos landelike veiligheid, veediefstal en ander misdaad bespreek is, en hoe almal kan saamwerk om dit te bekamp.

“Ons het ook potensiële polisiereserviste onder ons lede geïdentifiseer en sal binnekort ’n aansoek by die polisie hieroor indien.” Hulle werk nou saam met die polisie se veediefstaleenheid, wat in Middelburg gesetel is.

Die eenheid het slegs twee lede wat die distrikte van Middelburg en Hofmeyr met een voertuig bedien. Die komitee kon die polisie al ’n paar keer bystaan met foto’s en videomateriaal vir misdaadondersoeke. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van verdagtes wat treinspore en ander Transnetstoerusting ter waarde van R136 000 gesteel het.

Finansier alles self

Die boere ontvang geen finansiële bystand nie. Elke boer moet ’n aansluitings- en maandelikse heffing betaal wat volgens elke bewoonbare huis op elke plaas bepaal word. Die inisiatief het tans 42 lede. Die geld word onder meer gebruik om ’n huis op die dorp te huur.

Dit is toegerus met ’n bedryfskamer met rekenaartoerusting, sagteware, moniteringtoerusting en kantoormeubels. ’n Groot kaart van die distrik is gedruk, met ’n nommer wat aan elke opstal toegeken is. Kameras is ook by die hooftoegangroetes na die dorp en in die hoofstraat geïnstalleer.

Twee basisradio’s wat by die radionetwerk inskakel, is aangekoop en twee mense is aangestel om die hoofkantoor te beman. Een mens woon permanent in die huis en is elke werkdag drie uur aan diens, vyf uur op Saterdae en is 24 uur op bystand. ’n Vrou werk ook weekdae van 09:00 tot 17:00 in die kantoor.

Databasis word bygeWERK

Die komitee het onder meer ’n databasis met die besonderhede van die bewoners op die plase wat die boere en hul familie en die werkers insluit. Almal se name, vanne, kontakbesonderhede, voertuie, registrasienommers en inligting oor die opstalle en werf word bygewerk.

Indien plaaswerkers bedank, afgedank of aangestel word, word die uitvoerende komitee in kennis gestel sodat die besonderhede van plaaswerkers bygewerk kan word. Die databasis bevat ook inligting oor verdagte voertuie, voorvalle, misdade en kameraverslae van vreemde voertuie wat op ongewone tye op die paaie beweeg.

Dit word op die WhatsApp-groepe versprei. Alle belangrike inligting word aan die lede deurgegee. Elke sektor word aangemoedig om sy eie landelike veiligheidsplan op te stel, en patrollies en ander operasies word beplan en uitgevoer.

Lede word ook aangemoedig om hofsake by te woon, aangesien dit tot meer gepaste vonnisse lei en dat die misdadigers kennis neem van hul teenwoordigheid.

Meer as misdaadbestryding

Die klem is egter nie net veiligheid en die bekamping van misdaad nie. Die hoofkomitee kontak onder meer verskaffers om beter pryse vir landbouprodukte te beding. In die huis word noodmiddele soos brandbestrydings-, noodhulp- en ander toerusting gehou en vir alle lede beskikbaar gestel.

Baie pakkies word per koerierdiens na die huis gestuur. Almal kan ook inloer vir gratis WiFi, koffie en tee. “Boere in die distrik is onder groot finansiële druk weens die droogte, en geld vir die misdaadbekamping is skraps,” sê Roux.

“Ons gaan borge van buite nader om almal by te staan sodat ons nuwe doelwitte kan bereik.” Nog kameras op strategiese plekke in en om die dorp word beoog. Die komitee wil ook nommerplaatidentifiseringskameras op hoofroetes aanbring. “Dit is egter tans te duur.”

Verder wil die komitee sy eie perseel op die dorp koop. Roux moedig ander boereverenigings aan om dieselfde pad as Hofmeyr te volg. “Dit sal ideaal wees as ons ’n uitgebreide netwerk op die been kan bring waarmee ons misdaad gesamentlik kan bekamp.”

Navrae: Mnr. Faan Coetzer, 082 824 5703, 048 885 9006.