Groter naspeurbaarheid hoef nie ’n plaas se geld te kos of ’n tegnologiese maanlansering te verg nie. Blokkettingtegnologie is pas suksesvol ingespan in ’n datastroom waarin elke stap van veldgevoerde beeste – van die plaas tot die pakkie in die verbruiker se hand – in ’n QR-kode vasgelê word. Elke pakkie vleis se “unieke storie” is danksy die Trace Five-stelsel met die druk van ’n knoppie beskikbaar.

Terwyl die verbruiker ’n QR-kode gebruik om inligting oor die oorsprong van die vleis na te gaan, verg dit nie veel meer administrasie as gewoonlik vir die boer nie, sê me. Marietha Prinsloo van Langside Meats naby Queenstown. Sy en haar man, dr. Pieter Prinsloo, was van die eerste boere wat deel geraak het van die veldbeesvleisbeweging (Grassfed SA) om nagenoeg 30% meer vir hul vleis te behaal. Langside Meats is ’n familiebesigheid en hulle seun Koot, en sy vrou, Lindrie is ook deel van die span.

Langside Meats lewer beesvleis van die veld af aan uitsoekwinkels en -slaghuise in Johannesburg en Kaapstad, afkomstig van tien Oos-Kaapse boere. “Daar was egter altyd ’n leemte, naamlik ’n volle naspeurbaarheidstelsel,” sê sy. (Lees ook “Klop die klassifikasiestelsel met vrylopende diere se vleis”, LBW, 5 Mei 2017). “Boere maak nog altyd hul eie aantekeninge, maar indien klante navrae het oor die herkoms van die vleis, verg dit baie moeite om terug te gaan na die boeke.”

Pieter het deur sy betrokkenheid by die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Agri SA se kommoditeitekamer bevriend geraak met mnr. Chris Klopper, ’n vryskut- ontwikkelaar. “Hy het my aandag gehad toe hy sê ’n naspeurstelsel hoef nie duur te wees nie. “Toe ek by die RPO betrokke was, is ek oorval deur aanbiedings oor naspeurstelsels, die een duurder as die ander. Die vleisbedryf praat heeltyd oor die nodigheid van naspeurbaarheid, maar die staat begroot nie daarvoor nie en dit kom nie van die grond af nie.”

Dr. Pieter en me. Marietha Prinsloo.

Begrip vir band tussen kos, verbruiker

Klopper het ’n stelsel van nuuts af gebou volgens data van beeste wat die Prinsloos aan hom verskaf het. “Chris het ’n agtergrond in bemarking en navorsing, en verstaan stelsels en die band tussen kos en die verbruiker, asook die oorsprong daarvan,” sê Pieter. Volgens Klopper is dit onnodig duur en ingewikkeld om selfoon- en rekenaartoepassings volgens jou behoeftes te laat maak. “Die meeste boere kan dit dan nie eens gebruik of bekostig om dit te gebruik nie.”

Hy gebruik blitsige toepassingsontwikkeling (rapid application development) om sy toepassings te bou, en het onlangs ’n toepassing ontwikkel wat binne drie weke in gebruik was. Die Trace Five-datastroom, wat elke stap van die dier vaslê, integreer met blokketting, hoewel verbruikers en die kleinhandel nog nie daarop aandring nie. Elke dier se data word gelyktydig op die databasis en ’n blokkettingprogram geregistreer. Die toepassing kan op ’n selfoon of rekenaar gebruik word.

Marietha voer inligting in die stelsel oor beeste wat hul tien vennote verskaf, byvoorbeeld die geboortedatum, unieke nommer, gewig, hoe lank die dier in watter kamp was en slagdatum. Hierna word die vleis op Langside verouder en verpak. Dié inligting asook die datum waarop dit na die slaghuis of winkel vervoer word, word ook vasgelê.

Verskillende QR-kodes

Danksy Trace Five kan Marietha verskillende QR-kodes saamstel. Die eerste is ’n generiese QR-kode wat die slaghuis, winkel of restaurant op ’n spyskaart of inligtingstuk kan druk. Dié kode bevat inligting oor Langside Meats. Sy skryf ’n weeklikse nuusbrief, wat saam met elke weeklikse besending in ’n QR-kode gelees kan word. Die vleis van elke bees het ook ’n unieke QR-kode waarop die verbruiker die geskiedenis van die bees kan sien, asook die gesondheidsverklaring wat saam met elke besending uitgestuur word.

Die slaghuise, restaurante en handelaars kan self besluit hoe hulle die kode wil gebruik, hetsy op die verpakking, spyskaart of faktuur. Die verbruiker benodig ’n QR-lesertoepassing, en Apple-selfoongebruikers kan hul kameratoepassing daarvoor gebruik. “Die verbruiker kan dan sien waar die dier gewei het, wanneer dit geslag is en hoe lank dit vervoer is. Die belangrikste is die bevestiging dat die diere eties behandel is,” sê Klopper.

Net ’n klein persentasie Suid-Afrikaners wil tans weet waar hulle kos vandaan kom, maar Klopper voorspel dit sal verander. “Binne ’n paar jaar gaan meer mense betrokke raak by aksies teen klimaatsverandering. Boere moet hulself voorberei op ’n toekoms wat dalk ongemak gaan inhou. Hulle sal dinge anders moet aanpak.

"Mense vra vrae oor die oorsprong van vleis en watter uitwerking dit op klimaatsverandering het, en ons kan daardie antwoorde deur die stelsel gee. In ’n wêreld van fopnuus is dit moeilik om sonder verifieerbare naspeurbaarheid ’n waarborg te bied dat ’n produk soos veldvleis die ware Jakob is. Aangesien blokkettingdata onvervalsbaar is, is die stelsel betroubaar.”

Die generiese kode wat gebruik kan word in die winkels of slaghuise.

Nie net vleis nie

Die oogmerk was om die stelsel so bekostigbaar en eenvoudig te ontwerp sodat nisboere ’n alternatiewe bemarkingsaanslag kan hê en kleiner boerderye die verbruiker van hul naspeurbaarheid kan verseker. “Die gemene deler moet net wees dat die produk handelsmerkgevoelig moet wees.

Die eerste stap wat ’n boer moet doen, is om ’n kopskuif te maak dat hy meer as net ’n kommoditeit lewer. Benut dan dié unieke inligting om jou produk gesog te maak sodat dit teen ’n beter prys verkoop kan word. “Dit is maklik en bekostigbaar om ’n soortgelyke stelsel op te rig vir enigiemand wat sy bate met sagteware wil beskerm. Al wat die boer benodig, is ’n rekenaar en selfoon.”

Daar is tans nie ’n standaardkoste aan die stelsel verbonde nie. Dit is ’n pasgemaakte stelsel wat na gelang van ’n boer se behoeftes opgestel word. Belangstellendes kan Klopper kontak vir ’n kostebenadering.