Waar ’n boer hom ook al bevind, is daar ’n oplossing vir ’n probleem. Op vanjaar se Nampo is ’n sterk en vernuftige stroom planne vir Omnia, Graan SA en Landbouweekblad se boereplankompetisie ingeskryf. Heelwat waarlik innoverende planne het mense vasgenael gehou.

Mnr. Christo Schoonwinkel, sameroeper van die beoordelingspaneel, sê ondanks die feit dat vanjaar se 38 inskrywings in die vyf afdelings effens minder was as in 2018, was die standaard van die planne in die algemeen hoog en baie interessant. “Dit is opvallend dat party van die inskrywings oor die hoof gesien sou kon word sonder om aandag te trek. Maar dit is juis dié eenvoud wat die gees van ondernemerskap en ware planmakery beklemtoon.”

Voorbeelde hiervan was ’n damskrop wat uit ’n halwe konka bestaan en ’n halwe buiteband wat as ’n kalf-immobiliseerder dien.

damskrop uit halwe drom

Plaasdamme hoef nie meer leeggetap te word om die slik op die bodem te verwyder nie. Mnr. Piet Badenhorst beskou dié slik as ’n benutbare aanwins en nie net ’n las wat pype verstop nie. In dié proses gebruik hy sy vuurvegter se pompstelsel.

’n Konka wat in die lengte deurgesny is, word van ’n flappie aan die voorkant voorsien om die slik in te laat as dit oor die damvloer getrek word. Vier klein wieletjies op die hoeke help met die beweeglikheid van die toestel. Die konkadop is van ’n sleeptou aan die voorkant en twee stuurstokke aan weerskante voorsien vir die stuur oor die damvloer.

Die vuurvegter se rooi pyp word aan die skrop gekoppel en die Venturi-tegnologie daarvan verseker ’n egalige vloeitempo om die slik in houers of waterkarre uit te pomp.

Piet gebruik die mikro-organismes van die blougroen alge om hope voerkraalmis, hoendermis, kompos, saagsels, hooi en uitskot-kuilvoer te aktiveer. Hy gebruik ook verrykte kompostee om die biologiese balans in die mengsels te herstel. “My Green Machine is slegs die beginpunt van ’n biologiese proses om die grondgesondheid en dié van grasweidings te herstel.”

Navrae: 082 800 7321.

Prof.

kettingsaag en saagmeul in een

Die ontwerp van dié vertikale kettingsaag-saagmeul van prof. JP le Roux, verbonde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het ontstaan uit ’n behoefte om reguit planke uit houtstompe van verskillende diktes en lengtes te saag.

Die staalstruktuur bestaan uit ’n vertikale glybaan waaraan die kettingsaag gekoppel word, asook ’n horisontale baan waarop die houtstomp regop op ’n slee gemonteer word. Die stomp kan stelselmatig nader aan die saaglyn geskuif word.

Navrae: 082 775 9982.

Mnr.

immobiliseerder vir kalwers

Dit is die twaalfde jaar dat mnr. Gerrit Smith van die plaas Rhebokfontein, Klerksdorp, deelneem. Vir sy kalfimmobiliseerder gebruik hy ’n halwe buiteband waarvan die ronding op ’n metaalvoetstuk lê. “Jy plaas die band soos ’n piesang neer dat dit met sy pens na bo lê,” sê hy.

Aan die een kant sny ’n mens ’n gleuf in vir die kalf se nek. Die kalf se rug word in die halwe band laat sak dat sy nek in die gleuf pas. Volgens Gerrit bly ’n kalf spook om los te kom terwyl die hanteerder hom op die grond vasdruk, maar in die buiteband-“wiegie” kan maklik aan die kop gewerk word.

Navrae: 083 400 8041.

Mnre.

kortpad met Kontoere

’n Versoek van ’n skoolvriend het tot die bou van ’n kontoerskoonmaker gelei. Hy wou ’n werktuig hê wat die onkruid op die kontoere skoffel, sê mnr. Kobus van Zyl van die plaas Helena’s Home, Bethlehem. Van Zyl se oplossing was ’n werktuig met twee afsonderlike balk-arms met tot ses skottels elk wat hidroulies op- en afgeslaan kan word om by die kontoerhelling aan te pas.

Die werkwydte is 2,4 m en dit is ligter as kontoermakers wat in die handel beskikbaar is. ’n Trekker met ’n werkkrag van minstens 80 kW word benodig.

Navrae: 082 446 1785.

Mnr.
/

Nuttige rak

Mnr. Coenie Strydom van die plaas Syferfontein buite Klerksdorp hou van orde. Hy het ’n kompakte, roterende staander gemaak vir 144 glasbottels in drie groottes. Dit is vir die bêre van ’n verskeidenheid goedere, soos boute, moere, naalde, knope of speserye. Regs is ’n oppervlak waarmee boutjies in die bottels gegooi kan word.

Navrae: 083 399 0486.

/

Nampoveteraan

Vanjaar was die 26ste deelname van die 82-jarige mnr. Willie Crous (regs op foto) van Klerksdorp. Sy inskrywings is hoofsaaklik goedere wat hy daagliks gebruik en met boorgate verband hou.

Sy weergawe van ’n pyplêwerktuig word aan die driepunt van ’n trekker gekoppel en het ’n snylem waarmee ’n sloot van sowat 30 cm diep gegrawe word. Daarna kan ’n werker help om die plastiekpyp in die sloot te lê deur dit deur die toevoerboog van ’n horisontale rol op ’n bakkie wat langs die trekker beweeg, te help voer. Met die driehoekige skaar agter word die sloot toegemaak.

Navrae: 082 936 8780.

/

Van spuit tot brandbestryder!

Vanjaar was die gewildste onderafdeling oudergewoonte dié vir aangepaste masjinerie, werktuie en landboutoerusting met altesaam 13 deelnemers wat om die eerste prys meegeding het. Mnr. Jan Grobler van die plaas Unie by Vierfontein het met die louere vir sy meerdoelige beesspuit/brandbestryder weggestap. Hy wou daarmee wys dat skroot in ’n nuttige werktuig omgeskep kan word.

Grobler het ’n uitgediende skeurwerktuig, skoffel, plantersnywiele, beitelploegtande en afvalyster as skroot vir R16 800 verkoop. Hy het toe vere en ou vellings met buitebande gekoop, asook B-graad-yster, ’n pomp, ’n spuit en ’n stutwiel vir die sleepwa. Hy het sy eie Roundup-giftenk, boute en moere gebruik en uiteindelik met ’n veeldoelige spuitwa vorendag gekom. Dit het hom altesaam net R14 360 gekos.

Navrae: 083 654 2121.

/

Voerplan help droogte troef

Dr. Manie de Wilde is ’n ortopediese chirurg van Krugersdorp wat deeltyds ’n gemengde boerdery in die omgewing van Boons by Magaliesburg bedryf. Sy baalmasjien, wat met ’n dieselenjin werk en op ’n sleepwa gemonteer is, is ook vir kleinboere geskik. Sy patent vergemaklik die optel van gras.

Hy het die idee daarvoor tydens die onlangse groot droogte gekry toe hy ’n skaarste aan ruvoer vir sy Rhenosterhoek-Nguni’s ondervind het. “Ek het die tonne gras wat nie langs die paaie, op munisipale terreine en onder kragdrade benut word nie, begin bymekaar maak, maar het gou besef dit was ondoeltreffend. ’n Werker maak nou die gras bymekaar, voer dit in die masjien in en die eindproduk is ’n ronde baal.”

Navrae: 083 265 4677; e-pos: admin@drdewilde.co.za

Mnr.

klein menger vir voer

Vanjaar was daar grensposprobleme vir die Nampo-boereplanveteraan mnr. Bertus Goosen van Matlakeng in Botswana, maar hy laat hom nie sommer onderkry nie. Een van sy inskrywings was ’n voermenger.

Klein hoeveelhede voer kan in dié horisontale panmenger gemeng word, asook die konsentraat waarmee hy lekblokke vervaardig. ’n Sluisplaat word opgetrek om die mengsel in sakke te bêre.

Navrae: 00267 71680498.

/

plan met los drade

Mnr. Wansen Engelbrecht (bo) van die plaas Wolverand naby Klerksdorp het per geleentheid sy beeste in die veld nagegaan toe hy op ’n beskadigde heining afkom. Hy moes toe dadelik ’n plan beraam om die beeste uit die pad te hou. Hy gebruik deesdae ’n vragband wat aan weerskante van draadtrekker-grypmeganismes voorsien is om die heiningdraad styf te span.

Engelbrecht haak die grypmeganismes aan weerskante van die vragband aan die geknipte doringdraad waarna hy die sperrat-meganisme (ratchet) van die vervoerband opwen om die draad styf te trek. Sodra die gebreekte draad styfgetrek is, gebruik hy ’n lasstuk om die spanning in die heining te behou.

Navrae: 083 304 9388.

/

Sleep sonder sukkel

Met die verstelbare haak wat mnr. Hennie Brink (bo) van die plaas Boschbult naby Rostrataville, Delareyville, ontwerp het, kan jy moeiteloos die hoogte van ’n sleephaak verstel. “Nou hoef jy nie elke keer ’n klomp boute los en vas te draai nie.”

Dit vervang die gewone “gesukkel” met ’n verstellingsplaat (drop plate) met ses gate. Die verstelbare haak pas op die standaardgate van enige sleepstang. Deur slegs een pen uit te trek, kan die haak 170 mm op- of afwaarts verstel word deur die pen se R-knip te verwyder.

Navrae: 083 774 9551

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.