In ’n hoogs gediversifiseerde volstruisboerdery moet alle aktiwiteite so glad moontlik verloop. Mnre. Laubscher en Jacques Coetzee van Kandrift Boerdery by Oudtshoorn in die Wes-Kaap het die take van hul volstruisboerdery, wat konsentreer op veerverkope en die verkoop van dagoudkuikens, tussen hulle verdeel.

Laubscher is betrokke by die broeiery en voorsien sy jongste seun, Jacques, van kuikens vir grootmaak. Jacques maak net kuikens van hul eie produksietrop groot. Jacques sê hulle bring die dagoudkuikens reguit na die lusernlande. “Na my mening is dit die ding wat hulle die vinnigste leer vreet.”

Die kuikens kry genoeg skoon water en pre-krummel van Nova tot op twee maande. Daarna kry die kuikens voerkorrels, hoofsaaklik van mielies en soja en 10-15% lusern, wat die Coetzees op die plaas maak. Gewoonlik kweek hulle die lusern, maar die droogte van die afgelope paar jaar verplig hulle om lusern in te koop.

Mnr. Deon van der Ross wys hoe een van die ringe waarin die volstruiskuikens vir die eerste sewe tot tien dae in die kuikenhok slaap, lyk.
Mnr. Japie Goliath wys hoe maklik en vinnig dit is om die growwe sifvloer van die kuikenhok skoon te maak.

SLAAP IN RINGE

Die eerste sewe tot tien dae slaap die kuikens in ringe in ’n verskuifbare kuikenhok wat ontwerp is deur Laubscher se oudste seun, Christo, ’n ingenieur by ’n maatskappy op Worcester. Hy het die raam gemaak en die hele hok só ontwerp dat dit op die plaas aanmekaar gebout kan word.

Die hok is ontwerp om die regte omstandighede vir kuikens te skep sonder duur verhittingstoerusting. Dit is op verstelbare wiele gemonteer, met koelkamerpanele as mure. Die geïsoleerde dak is van dieselfde materiaal, met ’n growwe sif as vloer.

Die ringe waarin 12 kuikens slaap, word met plastiekkabelknope vasgemaak. Die ringe keer dat die kuikens op mekaar klim en saambondel vir hitte. Ná tien dae slaap die kuikens nie meer in die ringe nie. Dan word hul kosbakke in die hoeke van die kuikenhok gesit om te keer dat die kuikens daar saambondel as hulle koud kry. Die koelkamerpanele bied isolering. Jacques sê dis belangrik om die temperatuur te bestuur. “Dit kan vinnig te koud of te warm wees.”

Daar is temperatuurriglyne vir volstruiskuikens, maar die meeste sukses word behaal deur die kuikens dop te hou vir tekens van stres. “As hul bekke begin oopgaan, is dit te warm, en as hulle begin bondel, is dit te koud.”

Die growwe sif op die vloer help dat die kuikens nooit in hul eie mis staan nie, omdat alle mis deurval. Die sif maak dit ook maklik om die hok skoon te maak. Net ’n paar emmers water en ’n growwe besem is nodig om die sif vinnig en deeglik skoon te maak. Die hok word elke dag verskuif, sê Jacques. “Ons lig net die hok en stoot dit na ’n ander deel van die lusernland.”

Só lyk Kandrift se verskuifbare kuikenhokke, wat deur mnr. Christo Coetzee ontwerp is.

Die deel van die land waar die hok gestaan het, droog gou uit en die lusern begin weer bot. Die Coetzees glo die mis op die lande is voordelig. Hulle het eers ’n permanente stelsel gehad en na stelsels by ander boere gaan kyk, maar verkies die verskuifbare stelsel omdat dit bestuur vergemaklik en nie so baie werk vereis nie.

“Ons het ’n vaste kuikenhok gehad, maar moes elke dag die grond uitsteek en nuwe grond inry en hark. Met die verskuifbare stelsel kan een mens die meeste van die werk doen. Net wanneer die kuikens in- en uitgejaag moet word, is ’n tweede persoon nodig,” sê Jacques.

Hy skryf ’n groot deel van hul sukses toe aan die lojale en toegewyde diens deur mnre. Deon van der Ross en Japie Goliath. Jacques neem gewoonlik die eerste twee tot drie lotte kuikens wat aan die begin van elke seisoen uitbroei. Hulle word volgens ouderdom en grootte in groepe verdeel.

Die verskillende groottes se temperatuurbehoeftes verskil. Die groteres kan meer koue weerstaan, en die broeihok kan hoër gelig word om ventilasie vir hulle te verbeter. Die proses om die kuikens tot drie en ’n half maande groot te maak, is intensief. Hulle moet daagliks gemonitor word. Boonop moet daar nie kortpaaie met voeding gekies word nie. ’n Volstruis met ’n goeie kondisie kan stres immers beter weerstaan.

Op ouderdom 10 tot 12 maande selekteer die Coetzees broeivoëls uit die kuikens. Omdat ’n jong volstruis eers op twee en ’n half tot drie jaar kan begin broei, is dit ’n lang tyd om hulle ten duurste te voer. Gelukkig het die veergehalte van hul volstruise nie in die slag gebly toe baie ander boere in die oplewingsjare vir groot vleis- en leervoëls geselekteer het nie. Daarom kan die Coetzees reeds op sewe maande kuikenvere oes en sewe maande later die eerste pluksel. Die vere kan ’n groot deel van die onkoste van die kuikens betaal.

Verskuifbare afdakke bied skuiling en koelte teen Oudtshoorn se warm somers.
Dubbelhekke hou die groter voëls veilig teen jakkalse en rooikatte.

KOEL EN VEILIG

Skaduwee is belangrik op Oudtshoorn waar somertemperature van bo 40 °C nie ongewoon is nie. Daarvoor is verskuifbare afdakke gebou. Die afdakke is nie baie duur nie omdat die Coetzees afvalmateriaal gebruik en dit self bou. Omdat hulle ou swaar boorgatpype vir die rame gebruik, kan die wind dit nie sommer omwaai nie. Nog ’n manier waarop hulle verseker dat die meeste kuikens oorleef, is ligte wat met sonkrag werk en saans outomaties aanskakel.

Vir die ouer voëls is daar kuikenhokke met dubbelhekke om hulle teen jakkalse en rooikatte te beskerm. Laubscher sê nadat ’n rooikat een nag tien volstruiskuikens doodgebyt het, het hulle besluit om die voëls nóg beter te beskerm. Daarom gebruik hulle ook sonligte op pale in die kampe waarin die groot volstruise gehou word.

Die ligte is op pale van 9 meter en het ’n sonpaneel en battery. Die ligte skakel saans aan en beskerm die voëls teen roofdiere. Die lig help ook dat die volstruise nie teen die drade vashardloop as hulle vir iets skrik nie. 

Navrae: Laubscher en Jacques Coetzee, 082 898 5941.