Me. Carien Grobler, bemarkings-en-kommunikasiebestuurder by Omnia, sê hulle is reeds 25 jaar lank by dié kompetisie se voorloper, die Boerepatentkompetisie op Nampo by Bothaville, betrokke. 

“Dis elke jaar vir ons lekker om deelnemers te ontvang wat reeds dekades lank elke jaar aan dié kompetisie deelneem, asook die nuwe inskrywings wat ons jaarliks ontvang.”

Sy sê die standplaas op Nampo word elke jaar tot stof getrap soos boere na mekaar se planne kom kyk.

“Dit sê vir ons dat die boere wat Nampo besoek, waarde vind in die planne wat hulle daar kan besigtig. Ons hoop dat die kompetisie van krag tot krag sal gaan met die vennootskap met Landbouweekblad. Dit is waarom dit nou Landbou Boereplanne heet. Te oordeel na die gewildheid van dié weeklikse afdeling in Landbouweekblad, asook die blad op Landbou.com, is daar beslis nog iets te sê vir die spreekwoord ‘ ’n boer maak ’n plan’.”

Grobler sê die kompetisie is ’n uitstekende platform vir boere om by mekaar te leer en ook groot pryse los te slaan.

“Ons sien baie uit daarna om te sien waarmee ons Kaapse boere vorendag kom!”

Die kompetisie bestaan uit vyf afdelings:

  • Nuut – masjinerie, werktuie en landboutoerusting (rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie ingesluit).
  • Gemodifiseerd – masjinerie, werktuie en landboutoerusting (rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie ingesluit)
  • Gereedskap – alle gereedskap, elektries sowel as nie-elektries.
  • Huis en tuin – planne wat in en om die huis gebruik kan word, ook in die kombuis.
  • Ope afdeling – enige item wat nie hierbo genoem word nie met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000.

Planne wat vir die kompetisie ingeskyf kan word, sluit in enige toerusting wat aangewend kan word om probleme op die plaas aan te pak. Die toerusting mag nie gepatenteer wees nie en mag deur enigiemand nagemaak word vir eie gebruik. Boere wat wil deelneem, moet ook daarop let dat geen items wat kommersieel bemark word of in die proses van registrasie is, ingeskryf mag word nie.

Inskrywings moet voor of op 2 September na Graan SA gestuur word. Die beoordeling en prysuitdeling vind op 5 September plaas. Wenners moet by die prysuitdeling teenwoordig wees.

Klik hier vir ’n inskryfvorm. Rig inskrywings aan Wim Venter by wim@grainsa.co.za of Graan SA, Posbus 88, Bothaville, 9660.