Landbou Boereplanne, geborg deur Omnia Nutrilogie® en Graan SA, is weer ’n groot trekpleister op vanjaar se Nampo – dié keer in virtuele formaat. Vanjaar is groot kontantpryse op die spel vir unieke boereplanne wat met ’n video-inskrywing gepaardgaan.

Met die aankondiging van Virtueel Nampo 2020 se digitale skouwerf kan almal nou saam kom kyk na die beste boereplanne wat mense landwyd maak om alledaagse probleme op die plaas te oorkom. Vanjaar lyk die kompetisie daarom effens anders, maar dit sal steeds op die vernuf en vindingryke skeppings van planmakers konsentreer.

Omdat die kompetisie op ’n virtuele platform gaan leef, moet inskrywings vanjaar ’n video insluit. Dit is ook ’n lekker geleentheid om jou kinders of kleinkinders te betrek. Skiet die video sommer met ’n slimfoon, terwyl jy beduie hoe jou boereplan werk en vertel waarvoor dit gebruik word.

Wees duidelik in dit wat jy sê en maak seker die video wys jou boereplan duidelik. Onthou, dit is dikwels eenvoud wat ondernemingsgees en ware planmakery die beste beklemtoon.

In jou video en inskrywingsvorm moet jy hierdie drie vrae beantwoord. Jy kan dit in drie afsonderlike videogrepe vir ons stuur. Onthou, die beoordelaars gebruik dié inligting en video(s) om jou boereplan te beoordeel: Wat is die doel van die boereplan en watter probleem pak dit aan? Waaruit is dit gemaak en hoe het jy die boereplan ontwikkel? Hoe werk dit?

Inskrywings moet van die amptelike inskrywingsvorm, of al die inligting in die regte volgorde soos op die vorm, vergesel wees. Video’s moet verkieslik in MP4- of WMV-formaat wees. Die inskrywingsvorm en nog inligting is aanlyn by bit.ly/3kwApx7 beskikbaar.

AFDELINGS

Die reëls vir Landbou Boereplanne is aangepas in die gees van die moeilike tyd wat ons vanjaar beleef. Die reëls sal egter weer gewysig word na die normale formaat vir Nampo-oesdag op Nampopark. Net vir vanjaar sal daar dus net twee afdelings wees en inskrywings van oral in die land (en buurlande) word aanvaar.

  • Afdeling A is boereplanne wat meer as R5 000 kos om te maak en sluit in:
  • Nuwe werktuie en landboutoerusting, rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie.
  • Gemodifiseerde werktuie, apparaat en landboutoerusting, rekenaarprogrammatuur, slimfoontoepassings en enige ander tegnologie.
  • Gereedskap, waaronder alle elektriese asook nie-elektriese gereedskap.
  • Planne wat in die huis, kombuis en ook die tuin gebruik kan word.

Afdeling B is enige item soos hierbo met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000. Let wel, deelnemers kan hoogstens vyf inskrywings in een van die bogenoemde afdelings inskryf. Dieselfde deelnemer kan nie in albei afdelings meeding nie.

INSKRYWINGS

Inskrywings moet die organiseerders voor of op Woensdag 2 September bereik. Die wenners sal op Donderdag 10 September om 10:00 by die virtuele stalletjie van Landbou Boereplanne bekend gemaak word.

Rig inskrywings aan me. Carien Grobler by carien.grobler@omnia.co.za of stuur dit per WhatsApp na 061 508 1136. Deelnemers wat per WhatsApp inskryf, kan die inligting op die inskrywingsvorm noukeurig en in die regte volgorde in ’n WhatsApp-boodskap stuur.

As jy ’n digitale oordragdiens soos Google Drive, Dropbox of WeTransfer wil gebruik, skakel vooraf met Carien.