Dit is Julie-maand. Vakansietyd. Tyd vir die kleinkinders om by Ouma en Oupa te gaan nesskop vir 'n paar dae vir lekker bederf. Ons almal suiker af in die Ford bakkie met naartjie souse wat by jou mou inkruip en tot by jou elmboog af loop.. Groot afwagting om oupa Joubert se klein boklammetjies te gaan bekyk.

Dit is droog. Woensdag is daar weer Williston toe gery vir nog voer vir die diere. Oupa bly moedig glimlag. Ouma se sjokoladekoek nooi ons elke keer binne as ons oor die kombuisdeur loer.. Ons ouers bly positief en bly glo.. So hier is ons nou.. In die kraal. Ek sien dadelik 'n lammertjie wat my oog vang. My pa vertel breedvoerig dit is 'n "agterkleinkind" van "Miss world." Die naam spreek vanself. Die lammers lyk mooi. WIt en vars teen die kraalmuur. Maar as jy oor die kraalmuur loer sien jy die droë bossies wat verlep vir jou staar

..So my gebed is vir jou Pa Joubert.

Vir jou, ons Biedouw-plaas, jou geboortegrond duskant Wupperthal in die holte van die blouste berge.. Mag dit kom reën waar jou lammers wei.. Sodat jy kan aanhou teel met jou diere. En nog baie "Miss World" ooilammers sal hê.