“Kon dit my tog nie gespaar gebly het nie, was my reaksie op die eintlike wonderlike nuus. Al wat ek omtrent kleur-toe-gaan van ons susterstydskrifte Sarie en Die Huisgenoot geërf het, was: Mens, dis hel, daardie eerste ses weke.

“Tipies moes ons kopie twee weke voor elke bepaalde uitgawe voltooi. Kleurdrukwerk sou die kopie en foto’s ses weke vooruit vereis. Dit beteken dat jy vir ’n tyd lank elke week twéé uitgawes moet voltooi.

“Ai, daardie eerste geleentheid tot kleurfoto’s! Modes moes dit wees, en ek moes sorg dat die klere kleurvol is. Dit sou niks help ek foeter met wit en swart rokke nie. ‘Nee, ou sussie,’ het oom Skakel Kriek, die redakteur, gesê. ‘Sorg dat daar rooi by is. Dis mos darem altyd ’n mooi kleur.’

“Blitsig het ek geleer om nie altyd kleurgetroue reproduksie te verwag nie. Jy kon dit nie waag om in die onderskrifte ’n kleur op sy naam te noem nie, om te praat van siklaamrooi of papawergeel nie, want jy wis nooit of die afdrukke dalk baksteenbruin en lemmetjiegroen in die uitgawe verskyn nie.

“Agterna beskou was die gespook om twee ‘boeke’ per week te skryf nie onavontuurlik nie en binne ses weke was die oorskakeling afgehandel. Operasie Kleur-toe-gaan was verby. En ek was bevoorreg om die een te sien gaan en die nuwe bedeling in te lui.”