Uit: Landbouweekblad, 13 Oktober 1964

Aan die begin van hierdie eeu is die duisende morg weiveld in die Klein-Karoo hoofsaaklik vir volstruise gebruik. Toe die volstruisbedryf in duie stort, is dié weiding vir dekades rusgelê met die uitsondering van 'n troppie Boerbokke hier en daar.

Nou lyk dit anders.

Gedurende die afgelope paar jaar het die boere egter opnuut van hul veld bewus geword en word dit in toenemende mate ingespan. Merino's, Dorpers en Boerbokke het hul verskyning gemaak, maar mens kry die indruk dat veral die Angora tans besig is om hom in dié streek te vestig.

'n Man wat goed met Angoras in dié Klein-Karoo vaar en ook een van die eerste manne is wat sowat 11 jaar gelede met Angoras in dié streek begin boer het, is mnr. T.H. Heyns van Groot-Doornrivier, Zebra naby Oudtshoorn. Hy is ook voorsitter van die Sybokhaarkwekersvereniging in die Klein-Karoo.

Só het mnr. Heyns se Angoras op die voorblad van d
Só het mnr. Heyns se Angoras op die voorblad van die Landbouweekblad van 13 Oktober 1964 gepronk.

Mnr. Heyns vertel dat die duisende morg weiveld wat onlangs nog nutteloos en ongebruik in dié streek gelê het, vir hom 'n doring in die vlees was. Hy het by ervare boere in die Oos-Kaap gaan kers opsteek en van hulle na sy plaas genooi.

"Man, jou veld is reg vir Angoras en Merino's om die helfte," was hul raad. Sy 10 000 morg veld - 'n groot deel daarvan is aan die noordelike kant van die Outeniekwabergreeks - dra tans 1 800 Angoras en 1 800 Merino's deur die jaar.

Hy het gou ontdek dat hy reg besluit het en dat die kleinvee tot nog toe ongebruikte veld in 'n goudmyn omskep, sê mnr. Heyns. Hierdie ranteveld bestaan uit 'n verskeidenheid van kort Karoobossies gemeng met kort en hoë struike, terwyl die bokke die doringbome en hoë struike bydam.

Mnr. Heyns het ook geen beswaar dat die skape en bokke saam wei nie. Die twee troppe boer deurmekaar en die bietjie bokhaar wat op die skape se wol beland, dring nie soos die steekhare van die Boerbok in die wol in nie en word maklik deur die bosse van die wol afgeveeg, vertel hy.

Ses maande oue hare op een van mnr. Heyns se Angor
Ses maande oue hare op een van mnr. Heyns se Angoras. Let op hoe skoon die hare is. Mnr. Heyns skryf dit toe aan die feit dat sy bokke nie snags in die kraal staan nie.
Só lyk die monster wit Kaapse bokhaar wat mnr. Hey
Só lyk die monster wit Kaapse bokhaar wat mnr. Heyns uit Engeland saamgebring het. Hierdie hare is op 5 September 1898 na Brittanje gestuur.

Om welslae met die Angoraboerdery te kon behaal, moes mnr. Heyns sekere aanpassinge maak. Om verliese weens koue te voorkom, reël hy bv. sy skeertye só dat die bokke gedurende die wintermaande nie kaal is nie. Hy skeer die begin van Maart sodat die bokke reeds weer 'n redelike bedekking het wanneer die ergste koue toeslaan. Die volgende skeertyd is die begin van September wanneer dit reeds begin warm word.

Jakkalse lewer nog baie probleme in dié geweste. Daarom is dit op baie plase nog 'n gebruik dat die bokke saans kraal toe kom. Mnr. Heyns se plaas is egter reeds met jakkalsdraad omhein. Volgens hom het dit die groot voordeel dat diere baie rustiger in die kampe kan bly en geen energie deur onnodige lopery verlore gaan nie. Die uithoeke van die veld kan sodoende ook beter benut word.

Daar is darem ook sowat 100 morg lusern op die plaas. Die diere wei egter nooit daarop nie. Alles word gesny, gebaal en vir droogtes weggebêre. Net die ooie kry groen lusern wanneer hulle lamtyd in klein kampies elk met 'n stukkie veld en 'n stukkie lusernweiding kom. Die veld bied genoeg verskeidenheid van dieet en skuiling teen die koue, terwyl die lusern sorg vir genoeg melk om die lammers 'n goeie begin te gee.

Een van mnr. Heyns se Angora-ooie met 6 maande har
Een van mnr. Heyns se Angora-ooie met 6 maande hare.

Selfs die weiding teen die hange van die Outeniekwaberge word goed deur die Angoras, veral die kapaters, benut, aldus mnr. Heyns. Hoewel nie baie goed nie, is hierdie veld soet en loop die bokke vir die vier warmste somermaande van die jaar daar wanneer die Karooveld baie droog is. Die skape kom gewoonlik eerste in die bergveld om die gras weg te vreet waarna die bokke volg. Om tekorte in die bergveld aan te vul, het die diere vrye toegang tot 'n lek.

Hoewel mnr. Heyns homself nog maar 'n jongeling in die Angorabedryf bestempel vaar hy baie goed. Konserwatief bereken, hou hy tans op sy beskikbare weiding sowat een skaap of bok per twee morg aan. Hy vertel voorts dat hy 8 tot 10 pd. haar per jaar van sy volgroeide bokke skeer en meen dat daar 'n groot toekoms vir die Angora in die Klein-Karoo is.

Aborsie lewer ook nie 'n baie groot probleem nie omdat hy streng daarteen selekteer.